Excerpt for Lacrimosa by Mellet Moll, available in its entirety at Smashwords

Lacrimosa

Deur Mellet Moll


Kopiereg © Corvus CC

Geen kopiëring sonder toestemming. Alle regte voorbehou.


ISBN: 978-1-4658-5176-5


Illustrasies deur Mellet Moll


Proeflees en redigering deur VDS Brink

Wisterialaan 381, Faerie Glen, Suid Afrika


www.corvus.co.za

1ste Uitgawe, 2012-1-20


Gepubliseer deur Corvus by Smashwords









Opgedra aan Stella, ’n ster wat iewers in die heelal van my verlange skitter.







"Die natuur se sagte reën val tegelyk op die regverdiges en die onregverdiges, sy het splete in die rotse waar ek kan wegkruip en geheime valleie waar ek in stilte kan trane stort sonder om raakgesien te word.

Sy hang haar sterre in my nag op sodat ek in die donker kan loop sonder om te struikel; sy stuur die wind oor my voetspore sodat my vyande my nie kan agtervolg nie; en sy reinig my in haar helder water, maak my heel met bitter kruie."



Oscar Wilde





Voorwoord



Die woord Lacrimosa het ’n post-moderne Gotiese assosiasie gekry deurdat dit in die 1990’s gebruik is as die naam van ’n Gotiese rockgroep in Switzerland.

Verlore liefde, geestelike pyn, vrees, waansin, ontnugtering, die dood en na-dood word aangespreek in die bundel. Tipies aan die postmoderne herlewing van die Gotiek is Mellet Moll se baie eiesoortige poësie in wese romanties, met verwysings na Shakespeare en die Bybel, ridders, reise na eksotiese lande, engele, gerubs en mites.

Terwyl Moll die werk van Van Wyk Louw as sy grootste invloed identifiseer, maak die rasionaliteit in Van Wyk Louw se werk in die van Moll plek vir ’n hartstog wat by tye aan waansin en die irrasionele grens, met sterk profetiese ondertone. Sommige van die gedigte herinner aan die ritmiese verse uit die Suid-Afrikaanse Volkslied, Gesange en FAK liedere, met volop, byna onderbewuste verwysings na digters soos Ingrid Jonker, Van Wyk Louw, Eugene Marais, maar geïntegreer met ’n alledaagse en eietydse werklikheid.

’n Sterwende Afrikaanse digkuns en kultuur staan in sy geheel uit die graf op in hierdie sonderlinge suiwer ritmiese bundel in eenvoudige en onpretensieuse maar hoogs dramatiese Afrikaans, en met die onwillekeurigheid en krag wat kenmerkend is aan die werk van ’n genie.





Fransi Phillips

Podolsk, 2012





Inleiding



Lacrimosa is ’n pragtige Latynse woord uit die Rooms-Katolieke liturgie. Dit vorm deel van die Katolieke mis en beteken ween of treur. Hierdie woorde word deesdae min gebruik in ons taal, enersyds dalk omdat dit deel vorm van die ouwêreldse Afrikaanse dialek, maar andersyds omdat die dieper betekenis daarvan vir sommige mense dalk te oorweldigend is. Te swaarmoedig om te bedink. Te ongenaakbaar om te pleeg. Te erg om te probeer verstaan. Al verstaan ons dit.

Ekself het jare geneem om as volwasse man ’n traan te kon stort. En selfs toe, was dit beperk tot klein privaat oomblikkies. Maar ek het leer ween in woorde. Ek het agtergekom hoe die digkuns die stem is van ’n mens se siel. Hoe hierdie stem eendag begin praat, begin bid, begin lag, begin hofmaak, begin huil, en ja, begin ween. Vir myself as digter moes ek eers al die emosies van my eie kruise uit my siel uitskryf alvorens ek vry genoeg kon voel om die skryfvaardigheid wat ek opgedoen het, aan te wend om woordkuns vir ander mense te kan aanbied en universele temas te beskryf in gedigte. Deur dit te doen het ek die helende kwaliteit van die digkuns eerstehands ervaar en ek beveel dit met graagte aan vir elkeen wat ’n siel het. Om gedigte te skryf. En ’n lewe te lei wat die gedigte gestand doen.

Vandag skryf ek lankal nie meer gedigte oor mý sorge, mý pyne en mý hartstogte nie. Miskien omdat ek nederig en opreg probeer wees en nie my eie bestaan wil verheerlik nie. Daarom skryf ek vir ander mense. Maar ek het, soos almal, menswees al ervaar. Gesondheidsprobleme op die kruin van my loopbaan, depressiewe episodes, die verlies van my ouers, die verlies van ’n kind, die verbrokkeling van ’n huwelik met iemand vir wie ek onvoorwaardelik lief was, en die verraad van mense op wie ek onwrikbaar vertrou het en lewenslank met liefde behandel het. Die jaloesie van mense wat in my binnekring was en gewag het vir die geleentheid om my lewe te plunder.

Dit was of die duiwel die siele van die mense om my op ’n stadium oorgeneem het en oorlog teen my verklaar het. Ek wou telkens opstaan en in die naam van my Skepper en hierdie aanslae afweer. Helaas, was dit meestal nie moontlik nie. Al hierdie gebeure was onregverdig. Ek moes leer berus in die wil van die Allerhoogste. So het ek geleer om emosies te verwerk, my sorge in die hande van die Allerhoogste te laat en aan die anderkant daarvan het ek geluk en liefde in oorvloed en op verskeie nuwe plekke gevind. My Hoogland. Die emosies is nie weg nie, maar pla my nie meer nie, want dit het deel van die binnekamer van my menswees geraak. Ek is vandag sterker en gee makliker as ooit want dit wat kosbaar was, het ek klaar gegee.

Dit is ook so dat ek, na die vrystelling van Terug in die Hoogland en Testament, meer as 800 gedigte in die publieke oog het, wat meer is as die nalatenskap van heelwat legendariese volksdigters. Die gedagte het dus ontstaan tussen my en my vriend en mentor, Van der Spuy Brink, om ’n korter bundel met hoogtepunte uit my werk saam te stel. Maar dat dit ’n tematiese werk moet wees wat fokus op vertroosting deur digkuns. In my onswerwinge in die digkuns was dit die afgelope jaar vir my opvallend hoe baie mense agter die skerms met my kom gesels het oor die vertroosting wat hulle in my woorde vind.

Dat hulle dit lees omdat die woorde soms netso van toepassing op hulle is, en deur die lees daarvan, en die onderliggende skoonheid van die brutaliteit van die lewe daarvan te aanskou, hulle berusting vind. Hoe hierdie mense veral na middernag saans uitkom en saam met my wou ween. As ek daarom ’n Donker Digter geword het, is dit omdat ek onwrikbaar in die Lig glo, en dit vir hulle wil aanskakel. Daarom is hierdie bundel saamgestel wat vertroosting aan hartseer siele bied. Nie om oppervlakkige mooi sêgoed vir mense met einas te vertel nie want dit sou oneerlik wees. Maar om die donkerte te erken vir wat dit is, en hulle aan te spoor om die donker hiervan te oorwin.

Ek het die gedig Lacrimosa iewers in 2011 geskryf en dit was vir my op persoonlike vlak nie net ’n deurbraak nie, maar ’n oomblik van perfeksie. Die Spaanse mitologie praat van El Duende, as die gees wat ’n vertrek binnekom wanneer ’n kunswerk ’n geestelike en ook tragiese kwaliteit het wat aan die kunstenaar en/of die toeskouer hoendervleis gee. Volgens die legende is dit die teenwoordigheid van hierdie gees wat dit veroorsaak. Hy het daardie dag agter my gestaan, en ek het gevoel asof ’n ander hand die gedig geskryf het. Terugskouend was dit die punt waar ek ’n digter geword het en ’n stem gekry het wat nooit weer sal verander nie, want die gedig, hoe eenvoudig dit ookal is, het alles bevat wat ek nog ooit in ’n gedig wou had.

Dit was geskryf in die taal van my digterlike rolmodel, NP van Wyk Louw. Ek het ’n eenvoudige rym- en ritmepatroon gebruik. Die woordkeuses was ekonomies en optimaal. En daar was genoeg stof tot nadenke in die gedig dat dit die leser vir ’n wyle sou bybly. As ek ooit iets moes verhef as my definiërende werk, is dit hierdie gedig. Alle ander gedigte wat ek daarna geskryf het, was nasate van Lacrimosa, en vandag skryf ek onbeskaamd in die styl wat daardie dag ontstaan het. Dit was daarom vir my logies en sentimenteel genoeg om die hoogtepunte-bundel hierop te baseer.

Ek bedank graag die bekroonde Afrikaanse skyfster Fransi Phillips vir haar wonderlike voorwoord en ook haar volgehoue ondersteuning van my werk, asook Van der Spuy Brink vir die aanmoediging en toewyding om hierdie bundel ’n werklikheid te maak. En ek salueer met die bundel elkeen wat nog ooit ’n gedig gelees het of geskryf het, en ’n traan uit sy/haar siel gestort het.



Nikodemus, die Donker Digter.

Pretoria, 2012.





Inhoudsopgawe

Credo

Lacrimosa

De Profundis

Gedig no. 5

Requiem vir môre

Donker dig

Epitaaf

Drie wense

Die een wat ek liefhet

Draai en verstil

Daarom verlang ek vanaand na jou

Sonnet no. 3

Sabbatsnagte

Nikodemus se gebed

In elke laaste uur

Testament

Carpe noctem

Armageddon was verlore

My broer, Johannes

Die bakker, die skinker en ek

Apokalips 2048

My laaste gedig

Heathcliff

Scheherazade

Hooglied

Daarom, Alexandre

Ek verlang na Camelot

Suiwer

Mea culpa

My ontvlugting

Klaaglied no. 69

Gerubs by my graf

Miskien, my lief

Die digter is dood

Ontwaking

Berusting

Sit die ligte af, my lief

Nog driemaal

Grensloos

Die laaste tango

Onvolmaakte hemeltuin

Soek nog steeds die skoonheid

Diaspora

Ek wonder oor die donderweer

n Wolkie voor my son

Soggens in die mis

Eensame viool

Verspeelde dae

Ek, die veerman

Die sterre sê maar seker so

Nomade

Groen heuwels van Afrika

Redes ongevraagd

Albatros

My laaste dag

Hunker na die Hoogland

Sondes van my vader

Waar jy miskien nog drome droom (met Myra Lochner)

Jy bly steeds die weemoed van my hart

Saudade

Blomme op my ma se graf

El duende

Die man met die swart vlerke

Oë van die abís

Spookgedig

Anderkant die groot rivier

Aan die afgestorwenes

Vergeet my nie

Ek sien dooie mense

Spelers in 'n mal mens se droom

Desperadonagte

Huil

Dertien gedigte

In my swanesang

As jy die loon van die veerman sal betaal

Die hoogste grond

Sewe somers

Lank lewe die laksman

Die heks van die verlate land

Dans soos 'n Derwisj

Weskoppies

Die klank van Koos Kombuis

Koggelmander

Voyageur du temps

Fakkeldraers

Alles wat ek het

Torings

Silwertrane

In paradisum

Mea immortale

Die rebel in my

Lament vir ‘n digter

Bakens

Wonderwoorde

Monumentaal

Kan ek sê dat ek na jou verlang?

Sielsverbande

My stem in digter mis

Tuis

Brandwag

Digtersjoernaal

Gestaltes in die lang gras

Ek is die lig

Treur

Epiloog



Credo


Ek glo in die onwaarskynlike, die onvermydelike en die onvergeetlike

ek glo in die onbeskryflike, die onberispelike en die onverstootlike

ek glo in die onpartydige, die onbaatsugtige en die onverdienstelike

ek glo in die onteenseglike, die onverklaarbare en die onverstaanbare

ek glo in die onverwyderbare, die onvernederbare en die onverteerbare

ek glo in die onverkwikbare, die ongenaakbare en die onversetbare

ek glo in die onvoltooide, onvolmaakte en onweerstaanbare:


Liefde.

Lacrimosa


Ek herken die woorde stil

van silwermaan en skemerwoud

se wentelbaan al is ek oud

om middernag my stomme gil

in ootmoed sal ek met jou wees.


Ek herken die wysie ook

van vers en brug en luid akkoord

se kletterklanke in my nood

om uit te skree in mis en rook

in labirint van hoop en vrees.


Ek verlaat die kamer nou

van haat en spyt en ewigheid

se hulpkreet in die wig van tyd

om voort te leef in diepe rou

in tempels waar my siel genees.


Ek sien snags die sterre blink

van Suiderkruis tot Gemini

se silwer spoor oor Danabaai

om sin te maak uit wat ek dink

in woordverwerkers van my gees.


My saluut bly steeds aan jou

van vaal seisoen tot bitter swart

se skeuringspore deur my hart

om weg te draai in winterkou

in grou gedigte wat ek lees.


De Profundis


In die onvolmaaktheid van my wese

skuifel ek stil en sonder woorde

in my sondeval en al my vrese

waar ek waansinnig en verwese

druiwe steel uit God se boorde.


In die valleie van my donker nag

kruip ek nederig en sonder hoop

langs ou voetpaaie waar die spotters lag

waar ek blind die klagstaat en die klag

verduister en van waarheid stroop.


Op al die torings en al die dakke

weifel ek in onheilspellendheid

vind ek nog myself in ou barrakke

waar ’n olyfboom steeds sy takke

aanbied in die grou ewigheid.


Met wigte, teenwigte en gebede

strompel ek, my laaste tree vooroor

soos gedigte soekend na ’n rede

waar kompromieë my lei na vrede:

vergewe my vanaand daarvoor.


Gedig no. 5


Die waarheid het ’n draai kom maak

sy note op my harp gespeel

my wolfmaniere aangeraak

waar ek biddend in die wintergeel

elke uur ’n eeu verwyl.


Die waansin het my stem gehoor

sy eggo was ’n liefdeslied

my eie was ’n stil tenoor

waar ek gillend in my dronkverdriet

elke klank van weemoed blaf.


Die nietigheid het opgevlam

sy wortels in die grond gegord

my grootheid was ’n steenbokram

waar ek nederig en klein kon word

elke dag as God my straf.

Die eensaamheid het mens geraak

sy spore in my tuin gelos

my wingerd het ’n loot gemaak

waar ek kringe loop in hierdie bos

elke nag as ek vergaan.


Requiem vir môre


Laat die trompette in die nanag

stil weergalm oor die see

laat die stoomtreine wat fluit om ligdag

mense suutjies wakker maak

laat die rookmis hang oor hierdie stad

in die somerland van vaak.


Laat die salvos oor die hoogste Hoogland

heilig klink in my gemoed

laat die jakkalsdans van elke wit strand

jubel soos die branders spoel

laat die kandelare langs my tafel

vlamme gee aan my gevoel.


Laat die saluut van ’n duisend ridders

dit in unison beskryf

laat die stemme sorgvry skerts soos kinders

luidrugtig lag vanmôre

laat die maskerades ophou voorgee

want die dag is doodgebore.


Donker dig


Steeds wil ek die lig uitdra

in windverwaaide nagte

sonverbrande middae

en stilbeskryfde somers

waar ek wakend met die hekwagte

en vraend in my lewensvrae

saamswerf met die dromers.


Steeds wil ek die donker soek

op onvolmaakte plekke

onbewoonde oerwoude

en onverklaarde tye

waar ek aankom by die draaihekke

en duisternis se veelvoude

spoel oor my getye.

Ek, wat in die eerste lig

op die heuwels staan en skree

wakend as die mis verdig

en dansend in die môre

waar ek bewend trippel in my tree

en opstyg in my solovlug

uitwyk oor my spore.


Ek, wat in die donker dig

in skemerlande somber

soekend na ’n veraf lig

en peinsend na die hemel

waar selfs die Godgemaakte donder

en wolke in my aangesig

neerkyk waar ek wemel.


Epitaaf


Laat die ligte van ons laaie

flikker in die donker nag

sodat elke hart wat klop se draaie

berus en saam in kore lag

waar ek ook sondig in myself

oral in ruïnes delf.


Laat die woorde van ons wyses

aanstap in die wig van tyd

sodat al die moeës en die gryses

vergewe word van selfverwyt

waar ek ook op my kronkelpad

iewers aan die liefde vat.


Laat die stemme van ons onrus

stil raak in die somerreën

sodat al die afguns en die wellus

wegkwyn verlangs na nêrensheen

waar ek mag struikel, hou my vas

duskant somers van wat was.


Laat die smake van oorwinning

soet wees in die herfsseisoen

sodat die lewe as vergunning

waardeer word in wat ander doen

waar ek ook wandel, maak my rein

skink vir my die nagmaalwyn.


Laat die letsels van verledes

heel en nuwe lewe gee

sodat die hemelruim se redes

verstaan word in die lig se weë

waar ek en ander af sou dwaal

vind my voetpad se verhaal:


Want ek is net ’n enkeling

kwynend, klaend in die wind

en in elke solo-wandeling

sweef al my sirkels soos ’n kind

begraaf my nou op elke duin

volg my spore in die puin.


Drie wense


Ek wens ek kon gedigte skryf

oor al die sprankelskone stiltes

in al die geilgroen blare oor jou lyf

in al die lentebloeisels van jou hart

in al die sonskynsomers van jou oë

in al die winternagte sonder smart

en al die gode wat in ons twee glo.


Ek wens ek kon gedigte lees

oor al die silwerstille einders

in al die seeblou waters van jou gees

in al die eggoklanke van jou praat

in al die donker kamers van jou lag

in al die oggendure sonder haat

en al die skemeraande wat daar wag.


Ek wens daar kon gedigte wees

oor al die bitterbesssie sonne

in al die rou oomblikke van jou vrees

in al die ou besluite wat daar was

in al die doudruppels wat jou vergeet

in al die vreemde plekke in jou tas

en al die sterre en op jou planeet.


Die een wat ek liefhet


Ek wil vanaand in stille weemoed

my rou verlange ver laat sweef

oor die berge van my teespoed

op die voetpad waar ek kaalvoet

alleen en sonder drome leef

en strompel in my ootmoed.


Waar my onbesonge liefdeslied

se ongebore ewigheid

my na jou hartkamers ontbied

my oudword temper en bespied

sodat die vreemde werklikheid

van liefwees in my geskied.


Jy is steeds die een wat ek liefhet

my rede om elke rede

in jou silwermaan te toonset

met my voorbedagte opset

weg te draai uit hierdie hede

my teen onheil te verset.


Draai en verstil


Hier staan ek alweer

met my hart op my mou

digterlik, sondermeer

sodat jy my onthou

in die groot donderweer

wat daar buite ontvou

is dit ek wat begeer

om jou styf vas te hou.


Ek wil jou bewaar

met my lewe behoed

lewensmoeg en onklaar

sodat liefde ons voed

in die tyd van die jaar

wat die kryger sy hoed

in saluut openbaar

en die gode begroet.


Ek reis deur jou nag

op my ou blinkvosperd

ongestoord en bedag

sodat jy jou verwerd

in ons oë saam te lag

wat die vuur in die herd

in ons lywe vermag

en te weet jy's dit werd.


Ek staan in die mis

met my ou donkerbril

nagenoeg, soos dit is

sodat ek selfs jou wil

in die nanagte sus

wat afsydig en kil

in jou droom, onbewus

om jou draai en verstil.


Daarom verlang ek vanaand na jou


Daar was sewe oseane om te kruis

soveel eilande om na te vaar

en verbode stede om na te reis

daarom, my lief, is dit nou so swaar.


Daar was verborge skatte in ons woude

soveel paaie wat ons saam kon stap

en tye wat ons soos jong getroude

ewige kinders kon watertrap.


Daar was hoofstukke wat ons nog moes skrywe

soveel fabels in ons feeverhaal

en die seerkry-merke op ons lywe

was dit werd om vir ons te betaal.


Daar was duine op elkeen van ons strande

soveel kastele wat ons saam kon bou

en kruistogte na mistieke lande

daarom verlang ek vanaand na jou.


Sonnet no. 3


Jy't onbereikbaar ver geraak

soos langvermiste mense

wat iewers in die verte waak

oor onvoltooide grense

en as die somerson jou brand

of die westewind jou waai

eggo jy steeds oor my land

waar ek towerwoorde saai.


Ek soek jou steeds in elke dag

se branders in die baai

wat is die doel van jou gedrag

as die aasvoëls om my draai

want gister was ’n donker nag

wat in my kop lawaai.


Sabbatsnagte


Ek sou selfs snags terwyl jy amper slaap

my vingers oor jou lyf laat gaan

jou sagte vel vertroetel en begeer

en as jy my intensies misverstaan

sou ek ’n hooglied saam met jou wou leer.


Ek sou lê en luister na jou asem

my asem inhou sodat ek

jou ritme voel verkrummel en vertrou

en as jy ook my ritme wil ontdek

sou ek die oomblik vir ewig wou behou.


Ek sou my vingers na jou boesem dwaal

my verkwik om aan jóú te voel

jou holtes myne stilweg-stil aanvaar

en my manlikheid wat oor joune spoel

sou jy my somber storms laat bedaar.


Ek sou stout wou fluister in jou oor

my in jou wese wou bevind

jou aarseling wat ek oombliklik hoor

en jou vrouwees se wekroep in die wind

sou ons mekaar in hartstogte bekoor.


Ek sou dit alles wou en net vir jou

my aan jou fantasieë gee

jou offers in die sterre wou ontvang

en verbeel dat ons nuwe boeke smee

sou jy dalk wonder waarna ek verlang.


Ek wil van voor af liefde by jou leer

my somber siel se stille stem

jou vrugte pluk en myne met jou deel

en jy die ondier binne-in my tem

sou ek die sabbatsnagte met jou deel.


Nikodemus se gebed


Ek wil die pad van waarheid loop

ek wil verwonderd en in hoop

weer kind wees in die namiddag

weer brûe bou en hardop lag

weer skemer-somersonne soek

en woorde neerskryf in my boek.


Ek wil my siel aan jou verpand

ek wil weer uitreik met my hand

weer liefhê in die sekelmaan

weer rondsweef in ’n wentelbaan

weer manwees in myself ervaar

en onversadig vir jou staar.


Ek wil my ridderhart verwoord

ek wil weer diensbaar ongestoord

weer duiwels in die donker jag

weer waghou in die stille nag

weer gerubs by my graf sien waak

en onbeheersd in mis wegraak.


Ek wil my woorde vleuels gee

ek wil ’n spoor laat in my tree

weer golwe maak in waters stil

weer nagmaal neem om Sy ontwil

weer oorlog voer teen haat en spyt

en daar wees in die ewigheid.


In elke laaste uur


Iewers in ’n agterkamer in Turyn

waar die laaste sakrament se skildery

in ’n donker nag verskyn

het ek elke spoor gesny

tot in Kaapstad en Berlyn.

 

Totdat ek sonder skroom by Getsemane

waar die spoor nog vars was in die skaduwees

en toe nie verder kon nie

oorweldig was deur doodsvrees

van nêrens om te gaan nie.

 

By die skandmuur het ek een keer stilgestaan

waar die Rabbi's en die skrifgeleerdes bid

en ’n eerste keer verstaan

dat die werklikheid se wit

’n skim was in my volmaan.

 

Maar by Golgota het my pelgrim verstar

waar ek, sigaret in die hand, moes erken

(en miskien was ek verwar)

dat ek teen die dood wou wen

vanwaar ek Rome invaar.

 

Daarom is my eie doodskleed van papier

waar ek my woorde nalaat en dan verwelk

en graffiti teen my muur

dat ek onthou word in my kelk

tot in elke laaste uur.


Testament


Mag die dood die uurglas klop

in die wisselwerkings van jou kop

sodat die letsels uitdroog en na willekeur

die tekens berg dat ek jou hart verskeur

om agter grendels en ’n doringkrans

met al jou duiwels in die rook te dans.


Mag die lig die donker baar

in sielsgebede wat vír jou staar

sodat die onderstroom vir jou verkwikking bring

die bekers water wat die loflied sing

om sonder hoop of selfs ’n laaste woord

met al die vlekke van jou eie moord:


Vir die hartstog van jou gees

vir die somber tye van jou vrees

die pen te neem en heilig-skugter neer te skryf

die wonderwerke van jou moeë lyf

weer op te wek en die despoot te bly

wat die Walkure in die swartnag ry.


Vir die somers van jou son

vir die rookmis op die vaal perron

die stemme wat die noodlot altyd vra

die nagtegale wat die eng'le dra

weer nietig eksistensieël te reis

en terug te keer met fokkol om te wys.


(Behalwe vir die wonde op jou hande

en die bloedspoor by jou kruis.)

Carpe noctem


Welkom tuis in hierdie donker, donker land

daar is swart en grys valleie rondom jou

waar onheiligheid jou somber siel verbrand

en die nanagmis jou oraloor omvou

weg van alles wat jy ooit weer wil onthou.


Ek het elke aand bly droom oor hierdie nag

dat die ysterkettings aan jou voete bly

waar die poltergeeste stilweg vir jou lag

en die sondeval se slang sy lot bely

hier in hierdie kelder waar ek eensaam bly.


Ons het soveel onheil om te doen vanaand

ons kan massagrafte grawe vir jou lyk

waar die sekelmaan om elke nuwe maand

en die bloedbelope oë wat vir ons kyk

telkens wegdraai as die hemel ons ontwyk.


Ek het elke skaduwee se lied bewaar

hier in al my skatkiste vol silwer buit

waar dit steeds soos gisters smekend vir jou staar

en die wasem opwel teen jou kamerruit

anderkant die swart gordyn vir jou, my bruid.


En die kere wat dit koud was rondom jou

toe jy op die winternagte buite was

waar ek jou volg in die strate van onthou

en toe jy as kind wou wegkruip in jou kas

selfs dan, was jy veilig in my donker jas.



Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-27 show above.)