Lacrimosa
Deur Mellet Moll
Kopiereg © Corvus CC
Geen kopiëring sonder toestemming. Alle regte voorbehou.
ISBN: 978-1-4658-5176-5
Illustrasies deur Mellet Moll
Proeflees en redigering deur VDS Brink
Wisterialaan 381, Faerie Glen, Suid Afrika
1ste Uitgawe, 2012-1-20
Gepubliseer deur Corvus by Smashwords
Opgedra aan Stella, ’n ster wat iewers in die heelal van my verlange skitter.
"Die natuur se sagte reën val tegelyk op die regverdiges en die onregverdiges, sy het splete in die rotse waar ek kan wegkruip en geheime valleie waar ek in stilte kan trane stort sonder om raakgesien te word.
Sy hang haar sterre in my nag op sodat ek in die donker kan loop sonder om te struikel; sy stuur die wind oor my voetspore sodat my vyande my nie kan agtervolg nie; en sy reinig my in haar helder water, maak my heel met bitter kruie."
Oscar Wilde
Voorwoord
Die woord Lacrimosa het ’n post-moderne Gotiese assosiasie gekry deurdat dit in die 1990’s gebruik is as die naam van ’n Gotiese rockgroep in Switzerland.
Verlore liefde, geestelike pyn, vrees, waansin, ontnugtering, die dood en na-dood word aangespreek in die bundel. Tipies aan die postmoderne herlewing van die Gotiek is Mellet Moll se baie eiesoortige poësie in wese romanties, met verwysings na Shakespeare en die Bybel, ridders, reise na eksotiese lande, engele, gerubs en mites.
Terwyl Moll die werk van Van Wyk Louw as sy grootste invloed identifiseer, maak die rasionaliteit in Van Wyk Louw se werk in die van Moll plek vir ’n hartstog wat by tye aan waansin en die irrasionele grens, met sterk profetiese ondertone. Sommige van die gedigte herinner aan die ritmiese verse uit die Suid-Afrikaanse Volkslied, Gesange en FAK liedere, met volop, byna onderbewuste verwysings na digters soos Ingrid Jonker, Van Wyk Louw, Eugene Marais, maar geïntegreer met ’n alledaagse en eietydse werklikheid.
’n Sterwende Afrikaanse digkuns en kultuur staan in sy geheel uit die graf op in hierdie sonderlinge suiwer ritmiese bundel in eenvoudige en onpretensieuse maar hoogs dramatiese Afrikaans, en met die onwillekeurigheid en krag wat kenmerkend is aan die werk van ’n genie.
Fransi Phillips
Podolsk, 2012
Lacrimosa is ’n pragtige Latynse woord uit die Rooms-Katolieke liturgie. Dit vorm deel van die Katolieke mis en beteken ween of treur. Hierdie woorde word deesdae min gebruik in ons taal, enersyds dalk omdat dit deel vorm van die ouwêreldse Afrikaanse dialek, maar andersyds omdat die dieper betekenis daarvan vir sommige mense dalk te oorweldigend is. Te swaarmoedig om te bedink. Te ongenaakbaar om te pleeg. Te erg om te probeer verstaan. Al verstaan ons dit.
Ekself het jare geneem om as volwasse man ’n traan te kon stort. En selfs toe, was dit beperk tot klein privaat oomblikkies. Maar ek het leer ween in woorde. Ek het agtergekom hoe die digkuns die stem is van ’n mens se siel. Hoe hierdie stem eendag begin praat, begin bid, begin lag, begin hofmaak, begin huil, en ja, begin ween. Vir myself as digter moes ek eers al die emosies van my eie kruise uit my siel uitskryf alvorens ek vry genoeg kon voel om die skryfvaardigheid wat ek opgedoen het, aan te wend om woordkuns vir ander mense te kan aanbied en universele temas te beskryf in gedigte. Deur dit te doen het ek die helende kwaliteit van die digkuns eerstehands ervaar en ek beveel dit met graagte aan vir elkeen wat ’n siel het. Om gedigte te skryf. En ’n lewe te lei wat die gedigte gestand doen.
Vandag skryf ek lankal nie meer gedigte oor mý sorge, mý pyne en mý hartstogte nie. Miskien omdat ek nederig en opreg probeer wees en nie my eie bestaan wil verheerlik nie. Daarom skryf ek vir ander mense. Maar ek het, soos almal, menswees al ervaar. Gesondheidsprobleme op die kruin van my loopbaan, depressiewe episodes, die verlies van my ouers, die verlies van ’n kind, die verbrokkeling van ’n huwelik met iemand vir wie ek onvoorwaardelik lief was, en die verraad van mense op wie ek onwrikbaar vertrou het en lewenslank met liefde behandel het. Die jaloesie van mense wat in my binnekring was en gewag het vir die geleentheid om my lewe te plunder.
Dit was of die duiwel die siele van die mense om my op ’n stadium oorgeneem het en oorlog teen my verklaar het. Ek wou telkens opstaan en in die naam van my Skepper en hierdie aanslae afweer. Helaas, was dit meestal nie moontlik nie. Al hierdie gebeure was onregverdig. Ek moes leer berus in die wil van die Allerhoogste. So het ek geleer om emosies te verwerk, my sorge in die hande van die Allerhoogste te laat en aan die anderkant daarvan het ek geluk en liefde in oorvloed en op verskeie nuwe plekke gevind. My Hoogland. Die emosies is nie weg nie, maar pla my nie meer nie, want dit het deel van die binnekamer van my menswees geraak. Ek is vandag sterker en gee makliker as ooit want dit wat kosbaar was, het ek klaar gegee.
Dit is ook so dat ek, na die vrystelling van Terug in die Hoogland en Testament, meer as 800 gedigte in die publieke oog het, wat meer is as die nalatenskap van heelwat legendariese volksdigters. Die gedagte het dus ontstaan tussen my en my vriend en mentor, Van der Spuy Brink, om ’n korter bundel met hoogtepunte uit my werk saam te stel. Maar dat dit ’n tematiese werk moet wees wat fokus op vertroosting deur digkuns. In my onswerwinge in die digkuns was dit die afgelope jaar vir my opvallend hoe baie mense agter die skerms met my kom gesels het oor die vertroosting wat hulle in my woorde vind.
Dat hulle dit lees omdat die woorde soms netso van toepassing op hulle is, en deur die lees daarvan, en die onderliggende skoonheid van die brutaliteit van die lewe daarvan te aanskou, hulle berusting vind. Hoe hierdie mense veral na middernag saans uitkom en saam met my wou ween. As ek daarom ’n Donker Digter geword het, is dit omdat ek onwrikbaar in die Lig glo, en dit vir hulle wil aanskakel. Daarom is hierdie bundel saamgestel wat vertroosting aan hartseer siele bied. Nie om oppervlakkige mooi sêgoed vir mense met einas te vertel nie want dit sou oneerlik wees. Maar om die donkerte te erken vir wat dit is, en hulle aan te spoor om die donker hiervan te oorwin.
Ek het die gedig Lacrimosa iewers in 2011 geskryf en dit was vir my op persoonlike vlak nie net ’n deurbraak nie, maar ’n oomblik van perfeksie. Die Spaanse mitologie praat van El Duende, as die gees wat ’n vertrek binnekom wanneer ’n kunswerk ’n geestelike en ook tragiese kwaliteit het wat aan die kunstenaar en/of die toeskouer hoendervleis gee. Volgens die legende is dit die teenwoordigheid van hierdie gees wat dit veroorsaak. Hy het daardie dag agter my gestaan, en ek het gevoel asof ’n ander hand die gedig geskryf het. Terugskouend was dit die punt waar ek ’n digter geword het en ’n stem gekry het wat nooit weer sal verander nie, want die gedig, hoe eenvoudig dit ookal is, het alles bevat wat ek nog ooit in ’n gedig wou had.
Dit was geskryf in die taal van my digterlike rolmodel, NP van Wyk Louw. Ek het ’n eenvoudige rym- en ritmepatroon gebruik. Die woordkeuses was ekonomies en optimaal. En daar was genoeg stof tot nadenke in die gedig dat dit die leser vir ’n wyle sou bybly. As ek ooit iets moes verhef as my definiërende werk, is dit hierdie gedig. Alle ander gedigte wat ek daarna geskryf het, was nasate van Lacrimosa, en vandag skryf ek onbeskaamd in die styl wat daardie dag ontstaan het. Dit was daarom vir my logies en sentimenteel genoeg om die hoogtepunte-bundel hierop te baseer.
Ek bedank graag die bekroonde Afrikaanse skyfster Fransi Phillips vir haar wonderlike voorwoord en ook haar volgehoue ondersteuning van my werk, asook Van der Spuy Brink vir die aanmoediging en toewyding om hierdie bundel ’n werklikheid te maak. En ek salueer met die bundel elkeen wat nog ooit ’n gedig gelees het of geskryf het, en ’n traan uit sy/haar siel gestort het.
Nikodemus, die Donker Digter.
Pretoria, 2012.
Ek glo in die onwaarskynlike, die onvermydelike en die onvergeetlike
ek glo in die onbeskryflike, die onberispelike en die onverstootlike
ek glo in die onpartydige, die onbaatsugtige en die onverdienstelike
ek glo in die onteenseglike, die onverklaarbare en die onverstaanbare
ek glo in die onverwyderbare, die onvernederbare en die onverteerbare
ek glo in die onverkwikbare, die ongenaakbare en die onversetbare
ek glo in die onvoltooide, onvolmaakte en onweerstaanbare:
Liefde.
Ek herken die woorde stil
van silwermaan en skemerwoud
se wentelbaan al is ek oud
om middernag my stomme gil
in ootmoed sal ek met jou wees.
Ek herken die wysie ook
van vers en brug en luid akkoord
se kletterklanke in my nood
om uit te skree in mis en rook
in labirint van hoop en vrees.
Ek verlaat die kamer nou
van haat en spyt en ewigheid
se hulpkreet in die wig van tyd
om voort te leef in diepe rou
in tempels waar my siel genees.
Ek sien snags die sterre blink
van Suiderkruis tot Gemini
se silwer spoor oor Danabaai
om sin te maak uit wat ek dink
in woordverwerkers van my gees.
My saluut bly steeds aan jou
van vaal seisoen tot bitter swart
se skeuringspore deur my hart
om weg te draai in winterkou
in grou gedigte wat ek lees.
In die onvolmaaktheid van my wese
skuifel ek stil en sonder woorde
in my sondeval en al my vrese
waar ek waansinnig en verwese
druiwe steel uit God se boorde.
In die valleie van my donker nag
kruip ek nederig en sonder hoop
langs ou voetpaaie waar die spotters lag
waar ek blind die klagstaat en die klag
verduister en van waarheid stroop.
Op al die torings en al die dakke
weifel ek in onheilspellendheid
vind ek nog myself in ou barrakke
waar ’n olyfboom steeds sy takke
aanbied in die grou ewigheid.
Met wigte, teenwigte en gebede
strompel ek, my laaste tree vooroor
soos gedigte soekend na ’n rede
waar kompromieë my lei na vrede:
vergewe my vanaand daarvoor.
Die waarheid het ’n draai kom maak
sy note op my harp gespeel
my wolfmaniere aangeraak
waar ek biddend in die wintergeel
elke uur ’n eeu verwyl.
Die waansin het my stem gehoor
sy eggo was ’n liefdeslied
my eie was ’n stil tenoor
waar ek gillend in my dronkverdriet
elke klank van weemoed blaf.
Die nietigheid het opgevlam
sy wortels in die grond gegord
my grootheid was ’n steenbokram
waar ek nederig en klein kon word
elke dag as God my straf.
Die eensaamheid het mens geraak
sy spore in my tuin gelos
my wingerd het ’n loot gemaak
waar ek kringe loop in hierdie bos
elke nag as ek vergaan.
Laat die trompette in die nanag
stil weergalm oor die see
laat die stoomtreine wat fluit om ligdag
mense suutjies wakker maak
laat die rookmis hang oor hierdie stad
in die somerland van vaak.
Laat die salvos oor die hoogste Hoogland
heilig klink in my gemoed
laat die jakkalsdans van elke wit strand
jubel soos die branders spoel
laat die kandelare langs my tafel
vlamme gee aan my gevoel.
Laat die saluut van ’n duisend ridders
dit in unison beskryf
laat die stemme sorgvry skerts soos kinders
luidrugtig lag vanmôre
laat die maskerades ophou voorgee
want die dag is doodgebore.
Steeds wil ek die lig uitdra
in windverwaaide nagte
sonverbrande middae
en stilbeskryfde somers
waar ek wakend met die hekwagte
en vraend in my lewensvrae
saamswerf met die dromers.
Steeds wil ek die donker soek
op onvolmaakte plekke
onbewoonde oerwoude
en onverklaarde tye
waar ek aankom by die draaihekke
en duisternis se veelvoude
spoel oor my getye.
Ek, wat in die eerste lig
op die heuwels staan en skree
wakend as die mis verdig
en dansend in die môre
waar ek bewend trippel in my tree
en opstyg in my solovlug
uitwyk oor my spore.
Ek, wat in die donker dig
in skemerlande somber
soekend na ’n veraf lig
en peinsend na die hemel
waar selfs die Godgemaakte donder
en wolke in my aangesig
neerkyk waar ek wemel.
Laat die ligte van ons laaie
flikker in die donker nag
sodat elke hart wat klop se draaie
berus en saam in kore lag
waar ek ook sondig in myself
oral in ruïnes delf.
Laat die woorde van ons wyses
aanstap in die wig van tyd
sodat al die moeës en die gryses
vergewe word van selfverwyt
waar ek ook op my kronkelpad
iewers aan die liefde vat.
Laat die stemme van ons onrus
stil raak in die somerreën
sodat al die afguns en die wellus
wegkwyn verlangs na nêrensheen
waar ek mag struikel, hou my vas
duskant somers van wat was.
Laat die smake van oorwinning
soet wees in die herfsseisoen
sodat die lewe as vergunning
waardeer word in wat ander doen
waar ek ook wandel, maak my rein
skink vir my die nagmaalwyn.
Laat die letsels van verledes
heel en nuwe lewe gee
sodat die hemelruim se redes
verstaan word in die lig se weë
waar ek en ander af sou dwaal
vind my voetpad se verhaal:
Want ek is net ’n enkeling
kwynend, klaend in die wind
en in elke solo-wandeling
sweef al my sirkels soos ’n kind
begraaf my nou op elke duin
volg my spore in die puin.
Ek wens ek kon gedigte skryf
oor al die sprankelskone stiltes
in al die geilgroen blare oor jou lyf
in al die lentebloeisels van jou hart
in al die sonskynsomers van jou oë
in al die winternagte sonder smart
en al die gode wat in ons twee glo.
Ek wens ek kon gedigte lees
oor al die silwerstille einders
in al die seeblou waters van jou gees
in al die eggoklanke van jou praat
in al die donker kamers van jou lag
in al die oggendure sonder haat
en al die skemeraande wat daar wag.
Ek wens daar kon gedigte wees
oor al die bitterbesssie sonne
in al die rou oomblikke van jou vrees
in al die ou besluite wat daar was
in al die doudruppels wat jou vergeet
in al die vreemde plekke in jou tas
en al die sterre en op jou planeet.
Ek wil vanaand in stille weemoed
my rou verlange ver laat sweef
oor die berge van my teespoed
op die voetpad waar ek kaalvoet
alleen en sonder drome leef
en strompel in my ootmoed.
Waar my onbesonge liefdeslied
se ongebore ewigheid
my na jou hartkamers ontbied
my oudword temper en bespied
sodat die vreemde werklikheid
van liefwees in my geskied.
Jy is steeds die een wat ek liefhet
my rede om elke rede
in jou silwermaan te toonset
met my voorbedagte opset
weg te draai uit hierdie hede
my teen onheil te verset.
Hier staan ek alweer
met my hart op my mou
digterlik, sondermeer
sodat jy my onthou
in die groot donderweer
wat daar buite ontvou
is dit ek wat begeer
om jou styf vas te hou.
Ek wil jou bewaar
met my lewe behoed
lewensmoeg en onklaar
sodat liefde ons voed
in die tyd van die jaar
wat die kryger sy hoed
in saluut openbaar
en die gode begroet.
Ek reis deur jou nag
op my ou blinkvosperd
ongestoord en bedag
sodat jy jou verwerd
in ons oë saam te lag
wat die vuur in die herd
in ons lywe vermag
en te weet jy's dit werd.
Ek staan in die mis
met my ou donkerbril
nagenoeg, soos dit is
sodat ek selfs jou wil
in die nanagte sus
wat afsydig en kil
in jou droom, onbewus
om jou draai en verstil.
Daar was sewe oseane om te kruis
soveel eilande om na te vaar
en verbode stede om na te reis
daarom, my lief, is dit nou so swaar.
Daar was verborge skatte in ons woude
soveel paaie wat ons saam kon stap
en tye wat ons soos jong getroude
ewige kinders kon watertrap.
Daar was hoofstukke wat ons nog moes skrywe
soveel fabels in ons feeverhaal
en die seerkry-merke op ons lywe
was dit werd om vir ons te betaal.
Daar was duine op elkeen van ons strande
soveel kastele wat ons saam kon bou
en kruistogte na mistieke lande
daarom verlang ek vanaand na jou.
Jy't onbereikbaar ver geraak
soos langvermiste mense
wat iewers in die verte waak
oor onvoltooide grense
en as die somerson jou brand
of die westewind jou waai
eggo jy steeds oor my land
waar ek towerwoorde saai.
Ek soek jou steeds in elke dag
se branders in die baai
wat is die doel van jou gedrag
as die aasvoëls om my draai
want gister was ’n donker nag
wat in my kop lawaai.
Ek sou selfs snags terwyl jy amper slaap
my vingers oor jou lyf laat gaan
jou sagte vel vertroetel en begeer
en as jy my intensies misverstaan
sou ek ’n hooglied saam met jou wou leer.
Ek sou lê en luister na jou asem
my asem inhou sodat ek
jou ritme voel verkrummel en vertrou
en as jy ook my ritme wil ontdek
sou ek die oomblik vir ewig wou behou.
Ek sou my vingers na jou boesem dwaal
my verkwik om aan jóú te voel
jou holtes myne stilweg-stil aanvaar
en my manlikheid wat oor joune spoel
sou jy my somber storms laat bedaar.
Ek sou stout wou fluister in jou oor
my in jou wese wou bevind
jou aarseling wat ek oombliklik hoor
en jou vrouwees se wekroep in die wind
sou ons mekaar in hartstogte bekoor.
Ek sou dit alles wou en net vir jou
my aan jou fantasieë gee
jou offers in die sterre wou ontvang
en verbeel dat ons nuwe boeke smee
sou jy dalk wonder waarna ek verlang.
Ek wil van voor af liefde by jou leer
my somber siel se stille stem
jou vrugte pluk en myne met jou deel
en jy die ondier binne-in my tem
sou ek die sabbatsnagte met jou deel.
Ek wil die pad van waarheid loop
ek wil verwonderd en in hoop
weer kind wees in die namiddag
weer brûe bou en hardop lag
weer skemer-somersonne soek
en woorde neerskryf in my boek.
Ek wil my siel aan jou verpand
ek wil weer uitreik met my hand
weer liefhê in die sekelmaan
weer rondsweef in ’n wentelbaan
weer manwees in myself ervaar
en onversadig vir jou staar.
Ek wil my ridderhart verwoord
ek wil weer diensbaar ongestoord
weer duiwels in die donker jag
weer waghou in die stille nag
weer gerubs by my graf sien waak
en onbeheersd in mis wegraak.
Ek wil my woorde vleuels gee
ek wil ’n spoor laat in my tree
weer golwe maak in waters stil
weer nagmaal neem om Sy ontwil
weer oorlog voer teen haat en spyt
en daar wees in die ewigheid.
Iewers in ’n agterkamer in Turyn
waar die laaste sakrament se skildery
in ’n donker nag verskyn
het ek elke spoor gesny
tot in Kaapstad en Berlyn.
Totdat ek sonder skroom by Getsemane
waar die spoor nog vars was in die skaduwees
en toe nie verder kon nie
oorweldig was deur doodsvrees
van nêrens om te gaan nie.
By die skandmuur het ek een keer stilgestaan
waar die Rabbi's en die skrifgeleerdes bid
en ’n eerste keer verstaan
dat die werklikheid se wit
’n skim was in my volmaan.
Maar by Golgota het my pelgrim verstar
waar ek, sigaret in die hand, moes erken
(en miskien was ek verwar)
dat ek teen die dood wou wen
vanwaar ek Rome invaar.
Daarom is my eie doodskleed van papier
waar ek my woorde nalaat en dan verwelk
en graffiti teen my muur
dat ek onthou word in my kelk
tot in elke laaste uur.
Mag die dood die uurglas klop
in die wisselwerkings van jou kop
sodat die letsels uitdroog en na willekeur
die tekens berg dat ek jou hart verskeur
om agter grendels en ’n doringkrans
met al jou duiwels in die rook te dans.
Mag die lig die donker baar
in sielsgebede wat vír jou staar
sodat die onderstroom vir jou verkwikking bring
die bekers water wat die loflied sing
om sonder hoop of selfs ’n laaste woord
met al die vlekke van jou eie moord:
Vir die hartstog van jou gees
vir die somber tye van jou vrees
die pen te neem en heilig-skugter neer te skryf
die wonderwerke van jou moeë lyf
weer op te wek en die despoot te bly
wat die Walkure in die swartnag ry.
Vir die somers van jou son
vir die rookmis op die vaal perron
die stemme wat die noodlot altyd vra
die nagtegale wat die eng'le dra
weer nietig eksistensieël te reis
en terug te keer met fokkol om te wys.
(Behalwe vir die wonde op jou hande
en die bloedspoor by jou kruis.)
Welkom tuis in hierdie donker, donker land
daar is swart en grys valleie rondom jou
waar onheiligheid jou somber siel verbrand
en die nanagmis jou oraloor omvou
weg van alles wat jy ooit weer wil onthou.
Ek het elke aand bly droom oor hierdie nag
dat die ysterkettings aan jou voete bly
waar die poltergeeste stilweg vir jou lag
en die sondeval se slang sy lot bely
hier in hierdie kelder waar ek eensaam bly.
Ons het soveel onheil om te doen vanaand
ons kan massagrafte grawe vir jou lyk
waar die sekelmaan om elke nuwe maand
en die bloedbelope oë wat vir ons kyk
telkens wegdraai as die hemel ons ontwyk.
Ek het elke skaduwee se lied bewaar
hier in al my skatkiste vol silwer buit
waar dit steeds soos gisters smekend vir jou staar
en die wasem opwel teen jou kamerruit
anderkant die swart gordyn vir jou, my bruid.
En die kere wat dit koud was rondom jou
toe jy op die winternagte buite was
waar ek jou volg in die strate van onthou
en toe jy as kind wou wegkruip in jou kas
selfs dan, was jy veilig in my donker jas.