Excerpt for Ek is...Hemel op Aarde by Michelle Coetsee, available in its entirety at Smashwords

EK IS…
HEMEL OP AARDE



By
Michelle Coetsee



SMASHWORDS EDITION





* * * * *





Published by
Michelle Coetsee on Smashwords



COPYRIGHT 2012 Michelle Coetsee





* * * * *





Smashwords Edition, License Notes

This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each recipient. If you’re reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the hard work of this author.





* * * * *

INHOUDSOPGAWE



EK DRA GRAAG DIE BOEK OP AAN DIE VOLGENDE:

MET SPESIALE DANK AAN:

VOORWOORD

HOOFSTUK 1 - PERSOONLIKE AGTERGROND

1. Inleiding – “van ’n lappop op die ashoop tot koninkrykskind”
2. Aanneem-ouers en skooljare
3. Biologiese ouers
4. Universiteitsjare en politieke betrokkenheid (1980 – 1994)
5. Getroude lewe
6. Beroep
7. My geestelike reis
8. My reis na herstel na my traumatiese ervarings sedert 2007
9. Tuis in eie vel

HOOFSTUK 2 - HEMEL OP AARDE

HOOFSTUK 3 - RIGLYNE VIR DIE VERWESENLIKING VAN HEMEL OP AARDE
NA AANLEIDING VAN SEKERE VAN MY PROFETIESE DROME EN VISIOENE

1. Besef dat God Drie-enig daar was lank voor die skepping
2. Besef en erken God se soewereiniteit, almag en koningskap
3. Besef Jesus is Heer en in beheer van God se koninkryk tot in alle ewigheid
4. Besef dat God heilig en sy genade groot is
5. Besef die belangrikheid van God se opdrag, wil en posisionering
6. Besef God se orde, prioriteite, seisoene en tyd
7. Besef die waarde van God se verbond
8. Besef dat God getrou is en dat sy goedheid groot is
9. Leef in absolute trou, gehoorsaamheid en volharding
10. ‘n Persoonlike verhouding met Jesus Christus is onontbeerlik
11. Neem daagliks jou kruis op
12. Wees diensbaar/bruikbaar vir God
13. Erkenning van God Drie-enig
14. Loof en prys God Drie-enig
15. Vrees/Respekteer God
16. Besef dat Jesus Christus nie afgebaken, ingeperk of uitgesluit kan word nie
17. Besef dat Christus grense oorsteek
18. Besef God se oordeel
19. Besef dat God se woord kennis is
20. Besef dat daar krag in woorde opgesluit lê
21. Besef die belangrikheid van die Heilige Gees
22. Besef die waarde van geesvervulling
23. Besef die waarde van die vrugte van die Gees
24. Besef die absolute krag van gebed
25. Besef dat keuses gevolge het
26. Besef die waarde van getuienis en moedig dit aan (ons moenie stilbly nie)
27. Besef die waarde van Goddelike wysheid
28. Besef dat God ’n mens toets
29. Besef dat God mense se harte en denke deurgrond en ’n hoë premie daarop plaas
30. Besef die belangrikheid van sonde besef, berou en belydenis
31. Besef die belangrikheid van bekering en bevryding
32. Besef dat God se liefde onontbeerlik en vir alle mense is
33. Besef dat ons Hom maar net ten dele ken
34. Besef dat ons elkeen ‘n vrye keuse het
35. Leef ’n lewe van versoening
36. Leef in verdraagsaamheid
37. Leef nederigheid uit
38. Leef in oorvloed sodat ons kan heers
39. Doen gereeld selfondersoek
40. Besef dat God gesoek moet word
41. Besef dat God die groot Geneesheer is
42. Besef dat die mens nie net ’n geestelike wese is nie, maar ook ’n psigiese, vleeslike en sosiale wese
43. Benut gawes, talente en karakter optimaal
44. Leef in opregtheid, reinheid en suiwerheid
45. Leef in God se rus, vrede en kalmte
46. Leef in geloof en betroubaarheid
47. Leef in dankbaarheid en blydskap
48. Leef in geregtigheid (in die regte verhouding tot God en naaste)
49. Betoon agting vir God se skepping
50. Daar moet radikaal/anders geleef word
51. Eer God se belofte
52. Openbaar onvoorwaardelike liefde
53. Saai in die koninkryk
54. Stry die goeie stryd
55. Vergifnis moet ’n lewenswyse wees
56. Openbaar ’n sagmoedige en barmhartige gesindheid
57. Wees ligdraers en sout van die aarde
58. Besef die waarde van die doop
59. Besef die waarde van nagmaal
60. Besef die waarde van vyande
61. Besef die waarde van morele herlewing
62. In Christus se koninkryk is daar nie plek vir afgodery nie
63. Besef die waarde van ‘n kwaliteit huwelik
64. Besef die waarde van goddelike outoriteit, veral betreffende die politiek
65. Optimale gemeenskapsontwikkeling

HOOFSTUK 4 - DIE WÊRELDSISTEEM

1. Inleiding
2. Wanneer ons God se plan saboteer
3. Ongeregtigheid/eiegeregtigheid
4. Die Bose/die Duiwel
5. Slotsom

SLOT

SLOTSEËN

BIBLIOGRAFIE





EK DRA GRAAG DIE BOEK OP AAN DIE VOLGENDE:

- Alle mense wat opreg opsoek is na ’n sinvolle lewe en een van volkomenheid hier op aarde.
- Almal wat worstel om te verstaan en te aanvaar dat God kragtig deur gewone, gebroke en sondige mense kan werk.
- Almal wat die onvermydelike bitter beker in hierdie gebroke wêreld moet drink. Mag my getuienis u in dié tyd onderskraag en prakties help.
- Lees 1 Samuel 2; Psalm 63; Psalm 68; Prediker 3; Jesaja 49 en Jesaja 61

Jeremia 30:2

So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in 'n boek.



Jeremia 8:11

Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie.

Jeremia 17:14

Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.

Romeine 5:5

en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.





MET SPESIALE DANK AAN:

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vir die vergunning van die gebruik van aanhalings vanuit die Bybel in Afrikaans, Sesde Uitgawe 1986.





VOORWOORD

My motief vir die skryf van hierdie boek is om nóg ’n opsie betreffende holistiese, geïntegreerde ontwikkeling (opbou van mense en gemeenskappe) vanuit my Christelike perspektief en ervaringswêreld ter tafel te lê, sonder om ander opsies van die tafel te vee of meedoënloos met andersdenkendes mee te ding.

Verder poog ek om ook te bevestig dat God Drie-enig ’n werklikheid is en om lig te werp op die geheimenisse wat in sy woord te vinde is en wat Hy aan my deur middel van drome, visioene, spesiale bonatuurlike gebeurtenisse en die oopbreek van sy woord geopenbaar het. God wil graag bemoeienis met ons maak en Hy wil ons nie aan ons eie onkunde, genade, vrese, hardkoppigheid, sonde en frustrasies oorlaat nie. Mag die boek hoop en inspirasie bring en op vrugbare grond, naamlik ontvanklike harte, gesaai word. God se reën, naamlik die Heilige Gees, sal die saad ontkiem en laat groei soos die persoonlike verhouding tussen God en mens ontwikkel.

Hierdie is ’n praktiese handleiding wat mense kan help om met vrymoedigheid van die bekende na die bemagtigende en verlossende onbekende te beweeg sonder om angsbevange/verlammend te wees. Christus wil vir elke mens ’n unieke en universele openbaring wees.

God Drie-enig wil vir ons die X-faktor in hierdie wêreld wees. Hy wil ons sy onbeperkte opstandingskrag laat beleef. Jesus Christus se vrede en onderskeidingsvermoë is ’n kragtige wapen. Ons Christene moet tot die besef kom dat ons nie net vir verlossing nie, maar ook vir geesvervulling moet leef – ons kan nou al in God se rus ingaan.

Mag dié boek ook dien as inspirasie om God se heerlikheid en glorie aan te neem, uit te leef en uit te straal sodat hemel op aarde in jou lewe sal aanbreek soos wat dit besig is om in my lewe te ontvou. Jesus Christus wil hê dat ons sy liefde en genade getrou moet aanneem omdat Hy ons nooit in die steek sal laat of verlaat nie. Sy wil is dat ons lewe in oorvloed moet hê. Die geheim is egter om in lyn met God se wil vir jou lewe geposisioneerd te wees deur ’n persoonlike verhouding met Hom aan te knoop. Sy liefde en seën word deur sy dissipels versprei. Die proses om hemel op aarde te bewerkstellig is uitdagend, selfs pynlik – dit kan met die skenk van geboorte vergelyk word – maar uiteindelik verander hierdie pyn in ’n wonderlike voorreg en geskenk. Die proses om tot vervulling te kom gaan deur kritiese seisoene wat lewe en bevryding tot gevolg kan hê of wat kan stagneer en die proses termineer. Laasgenoemde gebeur wanneer ons ons rug op God keer en nie na Hom wil terugkeer sodat Hy die goeie wat Hy in ons begin het tot volle uitvoering kan bring nie.

Johannes 10:10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Die beste keuse/belegging wat ek ooit gemaak het, was om ’n kans met God te waag. Hy het wonderbaarlik gereageer deur ’n lappop op ’n ashoop op te tel, te reinig en tot iets moois en bruikbaar te herstel. Net God het die vermoë om waarde op die ashope van die lewe raak te sien. Hy poleer en slyp ons tot iets blink en kosbaars. Hy is ’n leermeester en vakman by uitstek. Jy kry nie sy gelyke nie. Deursettingsvermoë moet aan die dag gelê word sodat God se beloftes wat Hy in die hemel maak, hier op aarde kan manifesteer. God wil nie hê dat ons net ’n geestelike ervaringsreis moet ondergaan nie. Hy wil ook hê dat dit wat Hy geestelik vir ons bied, werklikheid word, want God is ’n god van verhoudings. ’n Verhouding tussen God en mens asook mens en mens is vir Hom belangrik. Hier op aarde gaan niks in ons skote val nie. Ons moet so leef dat ons sy beloftes en waarheid kan aanneem.



* * * * *





HOOFSTUK 1

PERSOONLIKE AGTERGROND



1. Inleiding – “van ’n lappop op die ashoop tot koninkrykskind”

Ek gee u nou ’n blik op my lewe. So sal dit duidelik sigbaar word dat God my hier op aarde geplaas het en tot nou toe bewaar het, nie uit verdienste nie, maar uit genade en roeping. Jesus Christus het die gebroke, sondige wêreld lief. Hy het vir ons kom instaan om sodoende vir ons ’n beter alternatief (lewe) te berei. Ons moet dit net vroegtydig besef, aanneem en uitleef sodat ons nie net staande kan bly nie, maar ook kan seëvier en feesvier. Jesus Christus is my daaglikse brood, my sielevoedsel.

Ek is ’n opgeleide Maatskaplike Werker. My kennis van die Bybel asook my geloof was maar baie kinderlik. Ek was bewus van Jesus se barmhartigheid, liefde en genade asook die intimiteit van gebed en die moed en dapperheid van koning Dawid. My kennis van apostels, profete, die bonatuurlike magte, die werking van drome en visioene, die boek Openbaring, Paulus, die kragtige werking van die Heilige Gees, ensovoorts, was uiters beperk.

Ek was veral na my egskeiding nie ’n aktiewe kerkganger nie. Ek het egter gereeld gebid, soms Bybel gelees en dikwels na televisie preke geluister. Ek was iemand wat probeer het om my omstandighede en ander s’n deur harde werk, eie kennis, ’n vrygewige gesindheid en liefde vir die minderbevoorregtes te verbeter. Ek was egter geneig om destruktiewe emosionele keuses te maak. Ek het meestal gevoel soos ’n sirkel wat nie in ’n vierkant pas nie.

My persoonlike verhouding met die Here het radikaal begin verander toe ek ’n diepe hunkering na God se verlossing en sy ewige teenwoordigheid besef het. Ek het tot God om sy genade gebid en dat sy wil in my lewe moet geskied. Ek was totaal onkant gevang en oorweldig met die omvang van God se besluit vir my. Die kragtige werking van die Heilige Gees het tot my diepste wese gespreek en deurgebreek. Sy roeping vir my en die proses om ’n nuwe identiteit aan te neem, was intens – asook die besef dat ek moet poog om met alles wat ek is ’n gewillige en gehoorsame instrument vir Hom te wees.

Die emosionele skokke wat ek moes deurmaak toe ek my van die bekende moes losmaak om na die onbekende oor te gaan, asook die ontnugtering met die realiteite van die lewe, die mensdom en my eie swakhede, was vir my enorm. Ek het baie begrip vir Petrus wat nie met absolute vertroue uit die boot op die water getree het nie.

Dié proses was soms vreesaanjaend totdat ek tot die besef gekom het dat God Drie-enig die enigste vastigheid in my lewe was. Ek het toe begin rustig raak, introspeksie gedoen, al hoe meer afhanklik en toegewyd aan God geraak en in vertroue begin leef. Die emosionele skokke en finansiële verliese wat ek gelei het, het ek agter my begin sit en nuut begin dink. Dit is goed dat God sy hele skeppingsdoel nie op een slag aan ’n mens bekend maak nie. Ons word in die proses gesuiwer en versterk. Diepe insig, intimiteit, vertroue en afhanklikheid van God ontstaan. As ons ons afhanklikheid van God erken en Hom eer sal Hy ons opregte gebede verhoor en ons genadig wees. Hy sal ons aan die hand neem en die pad wys waarop ons moet stap – hierdie onbekende pad op soek na sy perfekte wil vir ons lewens.

Hy wil net die beste vir ons hê en omdat Hy ’n regverdige God is, sal Hy ons altyd waarsku en op die regte pad probeer lei. Sy vaderhart sal verbly word as ons sy woord aanneem en daarvolgens leef. Veral die jeug – hulle kan nog voorkomend optree deur ingeligte besluite te neem en so hul roepingsdoel vind en die fondasies vaslê vir ’n beter wêreld vir hulself, hul kinders en wie weet, miskien nog vir hul kleinkinders en dié se kinders. Jesus Christus het Homself geopenbaar as die groot “EK IS…” van die wêreld. Of mense dit wil glo of nie, dít staan vas! Christenskap is voorwaar ’n openbaring.

Wanneer God besluit om sy genade oor ’n no name brand uit te stort, veroorsaak dit groot konsternasie; amper soos ’n kat wat in ’n duiwehok losgelaat word. Terwyl jy nog steier en in skok en ekstase verkeer omdat God met jou in ’n verstaanbare taal en beelde praat, wonder jou familie, vriende, kerk en gemeenskap of jy dit finaal verloor het, aangesien jy maar altyd onkonvensioneel was – so ’n bietjie vreemd. Sommige mede-Christene is hewig beswaard en besorg. Sommige wil die demone uit jou verdryf, so subtiel as moontlik en ander wonder wat kan moontlik die oorsprong van die demone wees wat hier onder hulle losgelaat word. Sommige wonder of jy nie dalk aan dwelms of drank verslaaf is nie.

Omdat ek nie geweet het wat God se wil vir my lewe was nie en omdat ek nie spesifiek tot Hom gebid het om my ’n profeet te maak nie, was ekself oorbluf en oorweldig met sy goddelike ingryping in my lewe binne my sondige bestaan. Skielik moes ek goddelike boodskappe oordra aan mense na wie ek vir leiding opgekyk het; mense wat ek op trone geplaas het. Dit was vir my uiters ongemaklik omdat mense meer op die boodskapper as op die boodskap gekonsentreer het. Wanneer hulle wel op die boodskappe ag geslaan het, het sommige invloedrykes en meerderes dit afgemaak as onsin en nie van God afkomstig nie. Ek was met tye buite myself van waansin en magteloosheid, gevolg deur erge skuldgevoelens omdat ek so tekere gegaan het. God was genadiglik geduldig met my en het nie geskrik vir al my uitbarstings nie. Hy was getrou by my en het my getroos veral as ek besef het dat ek erg aangejaag het. Hy was al vaste sekerheid in my lewe toe dit vir my gevoel het dat ek heeltemal beheer verloor oor alles wat in die hede, verlede en in die toekoms gaan gebeur. My mure was besig om ten aanskoue van my vyande in te tuimel en dit was vreesaanjaend vir my. Terwyl Jesus troos, maak Hy ook gesond en dit beteken om dinge uit my lewe weg te sny wat in sy pad staan om van my die mens te maak wat vir Hom vir ’n spesifieke doel bruikbaar sou wees. God kan baie dinge terselfdertyd doen. Hy kan iets skep uit chaos.

Die mense wat hulle wel aan my boodskappe gesteur het, was nie seker hoe hulle dit moes hanteer nie omdat dit die status quo ernstig uitgedaag het. Kosbare tyd en geleenthede het so verbygegaan. Om brûe te bou daag mense se gemaksones, beleide, agendas, posisies en reputasies uit. Dit verg ingrypende aksie. Ek het nog nie behoorlik herstel van die hewige stryd wat ek vir baie jare moes stry daar waar ek pas vandaan gekom het nie (verhuis van KZN na Wes-Kaap). Ek het hoë verwagtinge van my nuwe plek en lewe gekoester. Met my aankoms in die Wes-Kaap, was konflik die laaste behoefte op my agenda. Ek het regtig geglo dat positiewe en opregte beïnvloeding voldoende sou wees.

Die proses om jouself af te sterf is bedreigend en kan jou kwesbaar laat tot groot verlustiging van die vyand. Jy raak verder gestres en gefrustreerd omdat jy bang is God se wil seëvier nie, terwyl die mense stres en met hierdie demoonbesete of versteurde vrou gefrustreerd raak. Al hierdie dinge is uiters verwarrend vir alle betrokkenes. En asof dit nie genoeg is nie, vererger jy die situasie met jou aanhoudende onkonvensionele uitsprake en gedrag. Dit raak nag! Soos ek reeds gesê het, verskaf dit egter vir party mense lekker vermaak en skindernuus.

Eiegeregtigheid is ’n sensitiewe saak wat slegs deur dapper, nugtere en suiwer prosesse sonder onregverdige benadeling van die betrokke partye gefasiliteer kan word. Die wil vir so ’n proses moet by almal wees. Daar moet eerder na ooreenkomste en gemeenskaplikheid gesoek word as na dinge wat mense verdeel. Dit maak nie saak wat in die Grondwet staan of nie staan nie, of hoe vroom politieke partye se beleid op papier is nie. Op die grond, daar waar die mens woon, maak dit saak wat in die mense se harte, op agendas en in finansiële begrotings staan. Die kwaliteit van leierskap is absoluut deurslaggewend.

Deurlopende geregtigheid weeg egter swaarder by my as selektiewe effektiwiteit en geregtigheid. Geregtigheid is ’n koninkryksbeginsel wat hoë waarde by God het. Effektiwiteit is ’n vrug van geregtigheid wat aangeleer en bemeester kan word sodat goddelike outoriteit opbouend en tot voordeel van almal kan strek – ryk of arm, geletterd of ongeletterd. Die mens moet net die wil, die gesindheid, karakter en toewyding openbaar om vaardighede te bemeester. ’n Hart wat geregtigheid en barmhartigheid weerspieël, bou brûe, breek mure af, bring vertroue, respek, begrip, toewyding en geduld omdat mense neutrale grond skep. Ongelukkig verabsoluteer mense hul politieke en geloofsoortuigings so dat dit moeilik is om oor hierdie dinge te praat sonder dat dit hewige konflik veroorsaak voordat daar met duidelikheid en openlikheid deur almal gepraat word.

Ek het vir baie jare van my lewe aan reaktiewe depressie gely. Dit het gewissel van ligte tot erge aanvalle. In Desember 2006 het ek ’n sielkundige gaan spreek wat hoogs gespesialiseerd in traumabehandeling is. Ek wou graag ’n kliniese profiel oor myself bekom.


Voëlklip-huis (Hermanus) Maart 2007


Voëlklip-huis (Hermanus) Maart 2007

Vroeg in November 2006 het ek ’n droom gehad wat my geweldig verward gelaat het. Ek kon die beelde en gevoelens wat daarmee gepaard gegaan het (al het ek hoe gebid dat dié beker by my moet verbygaan), nie afskud nie. Hierdie droom het ’n geweldige impak op my geestelike, emosionele en fisiese funksionering gehad wat sekerlik ook my sosiale lewe en toekoms sou verander. Die angs en spanning het ekseem op my hande en voete veroorsaak.

Na intensiewe toetse het die sielkundige my meegedeel dat daar geen psigoses of patologie is nie en dat ek eintlik wonder bo wonder funksioneer vir iemand wat vele en erge traumatiese gebeurtenisse tydens kritiese lewensfases moes trotseer. Ek was uiters verlig om met hierdie wetenskaplike kennis toegerus te wees. Ek het besef dat God Almagtig sy bewarende hand nog altyd oor my uitgestrek gehou het en dat Hy ook tans met my besig is en dat Hy my nie sal verlaat nie. Ek moes net getrou en gehoorsaam aan Hom wees, kom wat wil, en al ken ek en verstaan ek net ten dele. God het my inderdaad uit die kloue van diepe angs en depressie gered. Ek het nooit weer so ’n veluitslag gekry nie al het ek intussen deur verdere traumatiese ervarings gegaan. Van 1995 tot Desember 2006 het ek dikwels die ekseem gekry. Sedert Desember 2006 was ek met tye hopeloos verslae, maar met God se hulp was ek nooit verslane nie.

Vanuit my drome, visioene en spesiale gebeurtenisse het ek besef dat ek die boodskappe wat ek van God ontvang het en my belewenisse met ander moes deel. Alhoewel ek met my verstand besef het dat dit baie moeilik sou wees, was ek nie voorbereid op die emosionele realiteite en skokke daaraan verbonde nie. Net die wete dat God by my was, het dit vir my egter draaglik gemaak en my gemotiveer om getrou aan Hom te bly. My verwarde gemoed daaromtrent, die oorgrote meerderheid van mense se negatiewe reaksies op die drome en visioene asook my gevolglike uitbarstings, het my in ’n toestand van erge emosionele pyn gelaat. Ek was vir een volle maand (Julie 2008) so te sê bedlêend. My gemoed was swaar, want ten spyte van al my pogings het niks uitgewerk nie. Ek het soos ’n groot mislukking gevoel omrede ek beangs was dat God se wil nie besig was om te realiseer nie en dat ek dus misluk in my grootste opdrag ooit. Ek het egter besef dat God my nie vernietig wil sien nie, al voel dit asof alles rondom my in duie stort. Maar ek het egter vasgehou aan die droom dat Jesus by my is en dat Hy wil hê ek moet weggaan van waar ek my toe bevind het. Alhoewel dit vir my pynlik was om die plek en mense te verlaat waarvoor ek so lief was, het ek geweet die lewe sal terugkom; ek moet dit net doen.

Sedert Jesus Christus my van my naïwiteit gestroop het en ek besef het dat die lewe uit lig en donker bestaan en dat ek nie net op die positiewe moet konsentreer nie, het dit my in ’n posisie geplaas om meer realisties te wees en nie so van een emosionele skok na die ander te leef nie. Ek plaas mense ook nie meer op troontjies nie en dus het ek ook nie meer hoë verwagtinge van mense nie. Ek probeer nou net om die mens te wees wat ek graag wil hê ander moet wees. Dit het die pyn, dolk en die magteloosheid uit my gemoed geneem. Ek probeer nou proaktief en realisties lewe.

Ek sou hierdie beproewinge gewis nooit sonder God se hulp te bowe kon kom nie. Sy teenwoordigheid was beslis lewegewend. Hy het my van ’n gewisse dood gered. God het my oortuig dat daar, te midde van die mure van die dood wat jou vasdruk, sin in die lewe is en dat ’n mens se waarde deur God bepaal word en nie deur persepsies van mense nie en dat ’n mens meer is as die somtotaal van jou foute en mislukkings.

Relevante Bybel teksverse

Jesaja 30:19–21 …Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”

Jesaja 30:23 Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld.

Hosea 9:8 Die profeet is deur God gestuur om oor Efraim wag te hou, maar oral waar die profeet gaan, probeer hulle hom vastrek. Die vyandigheid hou nie eens in die huis van sy God op nie.

Jesaja 25:1 Here, U is my God! Ek wil U prys en u Naam loof! U het wonders gedoen; dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer.

Jesaja 25:4 want U is 'n toevlug vir die armes, 'n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, 'n skuilplek teen die stortbuie, 'n skaduwee teen die hitte. Die geweld van die wrede volk is soos 'n winterstorm,

Jesaja 25:8 Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.

1 Tessalonisense 5:23 Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

Ander teksverse om na te slaan

Psalm 116; Jesaja 25:9; Jesaja 25:12; Jeremia 2:8–9; Jesaja 25:5



2. Aanneem-ouers en skooljare

Die Christelike Maatskaplike Raad het danksy die inisiatief van ds. Van Heerden, wie se hart uitgegaan het na my ma, dit moontlik gemaak dat my ouers my op die ouderdom van twee weke by die Addington-hospitaal in Durban kon gaan haal en plaas toe neem in die hartjie van Zoeloeland waar my oupa en ouma geboer het.


My oorlede pa Ig van Rooyen en my ma Rina


Ek en my ma


Ek en my broer Ben by my pa aan huis van
ouma Joey van Rooyen (Nyalazi)

Ek was baie maer vanweë gastroënteritis – vandaar my Zoeloe-naam Mancane (klein een). Ek en my ouers het drie jaar lank op ‘n plaas in Kiepersol naby Hazy View gewoon.

My pa het met piesangs en tamaties geboer, maar hy moes ongelukkig die plaas verkoop omdat my oupa baie siek geword het en hy Oupa se suikerboerdery moes oorneem. My oupa het op Nyalazi in die Fanies-eiland en Charters Creek-omgewing, wat deel is van die iSimangaliso-vleilandpark, geboer. Ek was baie geheg aan Emily (’n swart vrou afkomstig van Swaziland) wat my help versorg het.


Emily en my boetie Ben

My ma, wat ’n opgeleide verpleegsuster was, het my mooi versorg en spoedig het ek mooi pofwangetjies en armrolletjies gehad. Volgens my ma was ek verskriklik lief vir vars beesmelk, mieliepap, vars tamatie en tussen-rou-en-halfgaar vleis. Sy het elke dag toegesien dat ek ’n bak groente eet wat sy uit die tuin gekry het en wat sy vir my fyngedruk het. Tydens my kinderjare het ek inderdaad baie goed en gesond geëet.

As kleuter het ek daarvan gehou om net in my doek of swembroek rond te loop vanweë die hitte van die Laeveld en Zoeloeland. Ek was altyd op soek na water, en as ek die tuinslang in die hande gekry het was daar kort voor lank ’n modderpoel en was ek besmeer van kop tot tone. Ek wou altyd net buite wees – saam met die honde. My ma het my dié staaltjie vertel wat nogal demonstreer dat ek van kleins af op ’n missie was. Die pakkamer waar die tamaties en piesangs gesorteer en verpak is, was ver van die huis af – ’n mens moes deur ’n piesangland stap om daar uit te kom. Een laatmiddag, nadat ek gebad en my pienk japon en pantoffeltjies aangetrek het, het ek besluit om my pa op te soek omdat hy nog nie tuis was nie en net op een plek kon wees. Op pad na die pakhuis het ek die swart plaasvoorman, Timoteus, raakgeloop. Hy vra toe in Zoeloe waarheen ek op pad is. Ek antwoord in Zoeloe dat ek na my pa toe op pad is. Op sy vraag wie my vergesel, antwoord ek: “Nee, ek loop alleen.”


My voorliefde vir modder en "tuinmaak"
het reeds hier gemanifesteer


So ook my voorliefde vir water…


…en die buitelewe

In my kleuterjare het my voorliefde vir rokkies sterk na vore gekom en my ma het vir my die mooiste, vrolike rokkies gemaak. My ma is baie goed met naaldwerk. Ek onthou ook hoe my ma die pragtigste linte vir my gemaak het wat ek gereeld saam met my “uitrustings” gedra het. As ons kerk toe gegaan het, het ek sulke lang wit kouse met valletjies aangehad wat tot net onder my knieë gekom het.


Rokkie wat deur my ma gemaak is


Rokkie wat deur my ma gemaak is

Ek het egter nie ’n voorliefde vir skoene gehad nie – ek was mal daaroor om kaalvoet te loop, dorings ofte nie. My voete het gou begin “brand” as ek skoene aangehad het en ek kon nie wag om hulle uit te trek nie. Die ergste was as ek saam met my ma en deftige ouma Durban toe gegaan het vir inkopies – dit was omtrent ’n uittog en ’n gedoente. Ek moes my mooiste rok, kouse en skoene aantrek. Om van die linte nie te praat nie! Maar Durban se strate is nogal lank, en kort voor lank was ek kaalvoet. Dis een ding om stil te sit in die kerk, maar ’n ander ding om met skoene aan jou voete te stap.

Ek het avontuurlustig grootgeword en het heerlik buite gespeel saam met die plaaswerkers se kinders. Toe ek op 5 jaar en 10 maande skool en koshuis toe is, kon ek Zoeloe baie beter praat as Afrikaans. Ek was hartseer om weg te wees van die plaas en die vryheid wat ek daar beleef het. Veral my swart maatjies het ek geweldig gemis. Juffrou du Plessis, wat op die punt was om af te tree, was wonderlik vertroostend. Ek weet nie wat ek sonder haar sou doen nie. Haar begrip, deernis en geduld het my stadig maar seker laat blom. Sy het my elke Maandag op haar skoot geneem en daar laat sit totdat ek beter gevoel en ophou huil het omdat ek koshuis toe moes gaan. Met haar hulp het ek aan die einde van die jaar die boekprys vir pligsgetrouheid ontvang. Met hierdie goeie fondasie wat vir my gelê is, het ek akademies en op sport- en kultuurgebied goed presteer gedurende my laerskooljare.

Ek het ook my eie bende gehad (net soos Trompie). Pouses het die seuns en meisies nog saam gespeel en het my bende teen die ander bendes albasters, Jo-jo, tolgooi, krieket, rekspring, touspring, “rounders” en ander speletjies gespeel. Ek het sakke vol albasters gewen wat ek in Barclays banksakkies en Consol glasbottels gebêre het. Ek het ’n kleurvolle versameling Coca Cola, Fanta en Sprite Jo-jo’s gehad. Die grys asblikke is ingespan as paaltjies vir ons krieket kragmetings. Smiddae het ons soms saam met die seuns rugby gespeel. Kaalvoet het ons heen en weer oor die dubbeltjie besaaide veld gehardloop. Ja, ek was behoorlik bedrywig. My beste vriendinne was Marlene Smit en Ilse Botha. Dit was vir my lekker om saam met hulle plaas toe te gaan. Beide se ouers het met beeste geboer en daar was ook wild op hul plase. Ilse was oudminister Stoffel Botha en mev. Lucy Botha se jongste dogter. Ek het ook goed met Paul, haar jongste broer, oor die weg gekom. Gert Gauché, met wie ek ook goed bevriend was, is tragies in die fleur van sy lewe op die grens oorlede. Daar was wonderlike kinders saam met my op skool – die Bishoffs, Meyers, Oosthuizens, Badenhorsts, Ferreiras, Kleyns, Stapelbergs, Marais, Labuschagnes, Meintjies, Nels, Liebenbergs, Lauterbachs, ens. Ek bespreek elders in die boek meer breedvoerig oor my belewenisse op hoërskool.

Wat gedurende hierdie tyd vir my baie opmerklik was, veral as ek Maandae oggende vanaf die plaas saam met my pa of ma op pad skool en koshuis toe gery het, was hoe swart kinders kaalvoet kilometers skool toe afgelê het – op pad na klein en karig gemeubileerde skole wat iewers tussen êrens en nêrens geleë was. Die kinders was altyd vriendelik en het ywerig gewaai as ’n mens verby hulle gery het. Die volgende sal my ook altyd bybly: oor naweke het ek my verluister aan die klanke van beesveltromme wat smiddae, tesame met die rokie van ’n veldvuurtjie, van oorkant die Nyalazi rivier in die Mfekayi reservaat duidelik hoorbaar was en in die hemelruim sigbaar was. Ons plaas het aan die Nyalazi rivier gegrens en ’n damwal wat my pa en ander boere gebou het, het ook as rivierkruising gedien. Ek en my swart maatjies het gereeld daar kleilat gespeel en visgevang. Dat ’n krokodil ons nooit gevang het nie, was net ’n saak van genade. Op pad na die rivier het ons kortpad deur die suikerrietlande gevat en soms rietrotte gejag. By die rivier aangekom het ons langs die oewer erdwurms uitgegrawe vir die groot visvangs. Die grond hier was ryk en vrugbaar – so diep donker van kleur. Ons het sommer latte gesny en as visstokke ingespan en riete (dobbertjies) aan die lyn vasgemaak sodat ons kon sien wanneer die vis byt. My gereelde maatjies se name was Sipho en Bhuti. Ek het darem so af en toe saam met my niggie Hanlie probeer pop speel. Ek het egter meer daarvan gehou as ons twee vir ouma Joey konsert gehou het en skool-skool gespeel het. Hanlie was egter nie baie lief daarvoor om saam met my voëltjies te jag nie.

Daar was verskeie onderwysers wat gedurende my laer- en hoërskooljare ‘n deurslaggewende rol in my lewe gespeel het – só asof hulle engele was wat die Here spesifiek vir my daar geplaas het.

Ek wil graag die volgende onderwysers bedank (ek sal hulle altyd in my hart koester):

a. Hluhluwe Primêre Skool:

- Mev. du Plessis
- Mev. Meintjies
- Mev. Nel
- Mev. Liebenberg
- Mnr. Roos
- Mnr. Strydom
- Me. Gildenhuys
- Me. Coetser


My klas 1 foto saam met mev. du Plessis
(ek sit direk links van haar)


My skoolhoof mnr. Strydom

b. Port Natal Hoërskool:

- Mnr. van Rooyen
- Mnr. Rocher

c. Empangeni Hoërskool:

- Mnr. Dawie Vorster
- Mnr. Chris Heese
- Mnr. Johan Venter
- Mnr. Breedt
- Mnr. Meintjies
- Mev. Boshoff
- Mev. Meintjies
- Mev. Spoelstra
- Mnr. Frans van Niekerk

My pa en ma was beide besonder hardwerkend, handvaardig, goed georganiseerd, perfeksionisties en konserwatief skeppend. Dit het tot uiting gekom in hul alledaagse, praktiese leefwyse. Alles het getuig van orde en goeie smaak. My pa het byvoorbeeld die mooiste hout skibote gebou.


My pa by een van die bote wat hy gebou het

Ons was kranige diepsee hengelaars. Meganies was hy baie goed aangelê en het hy met sy vaardighede sleepwaens vir bote sowel as vir die vervoer van suikerriet gebou. Hy het ook ’n trekker omskep in ’n laaimasjien wat suikerriet op en van treintrokke gelaai het. Ek, daarenteen, het floreer in ’n kreatiewe omgewing wat nie altyd so ordelik was nie, maar nooit morsig nie. Ek is nie ’n perfeksionis nie, alhoewel ek baie aandag skenk aan detail. Ek hou van spontaniteit, en dit het gelei tot wrywing tussen my en my ouers. Ek sal eerder gesels as om dinge te orden. Ek het ’n geweldige behoefte gehad om dinge op ’n onkonvensionele manier te doen. Die feit dat ek in die koshuis was, het my in elke geval genoodsaak om netjies te wees. Kommunikasie was dus nie ons gesin se pluspunt nie. As ‘n mens in ‘n koshuis woon, leer jy om dinge vir jouself te hou. Gesprekke was beperk tot sake van praktiese belang, verantwoordelikheid, goeie maniere en prestasie. Daar was ook nie juis ruimte vir foute maak nie. Ek en my broer, wat ook ‘n aangenome kind is, het maar streng grootgeword. My ouers wou ons nie vir die duiwel grootmaak nie. My liefde vir tuinmaak het al tydens hierdie fase sterk deurgeskemer. Naby die vullisgate het ek vir my die lieflikste groentebeddings gemaak wat die tuinjong gedurende die week mooi natgegooi het. Sodra ek Vrydae by die huis aangekom het, was my groentetuin die eerste plek wat ek besoek het. Ek was altyd met verwondering gevul as ek sien hoe mooi die pynappels, tamaties, kool, slaaikoppe, wortels en aartappels gegroei het. So nou en dan was daar ook reuse pampoene en lekker spinasie. Ja, tuinmaak verskaf vir my groot genot.

Kulturele en sport aktiwiteite waaraan ek deelgeneem het:

a. Laerskool

i. Kultuur

- Voortrekkers
- Landsdiens
- Kunswedstryde
- Volkspele
- Ballet


As ’n haasbek Voortrekkertjie


Balletopvoering (ek is derde van regs)

ii. Sport

- Atletiek
- Netbal
- Swem
- Tennis


Met die o/10 en Victrix Ludorum bekers


Eerste plek in die 100m (nuwe rekord)
tydens Zoeloeland interskole atletiek byeenkoms

b. Hoërskool

i. Kultuur

- Debatvoering
- Besoek aan Voortrekkermonument
- Gelofte vieringe

ii. Sport

- Atletiek
- Netbal
- Skaak



3. Biologiese ouers

Op 29-jarige ouderdom het ek navraag gedoen oor my agtergrond. Die maatskaplike werker het my meegedeel dat my biologiese ouers verloof was, maar in twee verskillende provinsies gewoon het (Transvaal en Natal). My biologiese ma het swanger geraak met my toe sy 23 jaar oud was. Die verlowing is verbreek nadat gerugte versprei is dat my biologiese pa ontrou was aan haar. Later moes sy verneem dat die stories vals was. My grootouers aan my biologiese ma se kant, woonagtig in die Karoo, het sterk geloofsbesware gehad oor die buite-egtelike swangerskap. My biologiese ma, ‘n opgeleide verpleegsuster wat in KZN gestasioneer was, is binne werkverband onderskraag en na ‘n lang tydperk van onderhandeling opgeneem in ‘n tehuis vir ongehude moeders waar sy my dan ook “afgeteken” het. Ek aanvaar dat haar motief suiwer was en dat sy graag die beste vir my wou hê. Ek glo ook sy was baie hartseer om dit te doen, net soos dit vir my ook pynlik was om te verneem dat ek ‘n aangenome kind is.

Ek aard en lyk glo baie na my biologiese ma. Sy het verkies om nie met my kontak te maak nie, weer eens na ‘n lang wroeging. Haar man, wat op daardie stadium sieklik was, was wel bewus van my bestaan. Haar dogter het egter nie van my geweet nie. Ek aanvaar ook in hierdie opsig my biologiese ma se motiewe, naamlik om ander te beskerm ten koste van haar eie gevoelens. Die feit dat sy my nie wou sien nie, was nogal ‘n skok. Volgens die maatskaplike werker was dit op daardie tydstip slegs die tweede geval in die hele provinsie waar ‘n kontak nie bewerkstellig kon word nie.

Ek het egter berusting gevind omdat ek nou meer van my herkoms geweet het. Ek het my ook versoen en berusting gevind met die feit dat my biologiese ma gekies het om my nie te sien nie. Biologiese ouers was nie toegelaat om hul kinders op te soek nie. Kinders kon wel navraag doen. Ek het altyd gewonder of my biologiese ma hoopvol gesit en wag het vir die dag wat ek haar sou opsoek. ‘n Groot verantwoordelikheid was van my skouers af, alhoewel ek haar baie graag wou sien en persoonlik vir haar sou wou sê dat ek haar nie kwalik neem oor die besluit wat sy geneem het nie. Dit was ook vreemd om te besef dat ons jare lank naby mekaar gewoon het. Sy het in Pietermaritzburg gewoon. Ek het as kind op ’n plaas in Zoeloeland gewoon en ook ’n jaar lank in Durban skoolgegaan (Port Natal Hoërskool). Daar het hulle my “Zoeloelander” genoem omdat my hele wese dié feit uitgestraal het. Tydens my hoërskooljare het ek dikwels in Durban en Pietermaritzburg aan provinsiale atletiekbyeenkomste en skaakkompetisies deelgeneem – so naby, maar tog so ver! Terwyl ek getroud was, was ek sewe jaar in Ladysmith, een en ‘n half uur se ry van Pietermaritzburg af, woonagtig.



4. Universiteitsjare en politieke betrokkenheid (1980 – 1994)

Op universiteit het ek onder leiding van ‘n dierbare prof. Hugo besef dat gemeenskapsontwikkeling my groot passie is. Ek het my omtrent uitgeleef in dié vakgebied. Die funksionering van “gesonde” individue binne “gesonde” samelewings en die interafhanklikheid van mekaar, het my geïnspireer.

Ek wou bitter graag aan die Universiteit van Stellenbosch studeer omdat ek myself meer met die oënskynlik liberale gemeenskap en streek kon identifiseer. Ek het egter nie hierdie behoefte met my ouers gedeel nie, omdat ek gevoel het dat dit té ver was en die kostes te hoog sou wees. Tukkies het tot my gespreek oor die goeie opleiding wat daar gebied word en die feit dat dit naby Pongola was, waar my ouers geboer het. Tukkies het boonop ook ’n trotse tradisie gehad.

Ek was nie lank op kampus nie, toe raak ek by veral politieke aktiwiteite betrokke. So gebeur dit toe dat ek (19 jaar oud) gedien het op ’n komitee wat invloedryke politieke sprekers op ’n gereelde basis na die kampus genooi het. Twee besoeke wat verreweg uitgestaan het en wat ‘n onvergeetlike indruk op my gemaak het, was dié van mnr. Eugene Terreblanche en dr. Frederick van Zyl Slabbert.

Mnr. Terreblanche het tydens ’n etensuur sy visie met ons kom deel. Sy stem het teen die vier mure, vloer en plafon van die Roossaal vasgeslaan en in my ore weerklink. Ek het glad nie gekonsentreer op sy boodskap nie, maar my verluister en verwonder aan sy taalgebruik, vlotheid van spraak en hoe hy alles op sy kenmerkende manier kon dramatiseer. Dit was voorwaar ’n indrukwekkende en boeiende eenmanvertoning. Ek was natgesweet, uitasem en selfs ‘n bietjie teleurgesteld toe hy aan die einde van sy meevoerende toespraak gekom het.

Soos die gebruik was, het komiteelede ná afloop van die toespraak die gasspreker na ’n ete op die kampus vergesel. Gewoonlik was die atmosfeer gemoedelik en sonder enige voorvalle. Hoekom ek regoor mnr. Terreblanche aan tafel beland het, kan ek nie mooi onthou nie. Aan tafel het dinge vlot verloop, totdat ’n stem hier in my binneste wou uit. As daardie stem begin kriewel, dan weet ek: dis nou of nooit. Ek sit toe my mes en vurk neer (net soos mev. Emsie Schoeman in haar etiket-handboek dit aanbeveel) en plaas my hande op my skoot (sodat almal nie kon sien hoe ek bewe nie). Ek vra toe ewe beleefd vir mnr. Terreblanche:

a. of dit waar is dat die AWB wapens in die mielielande êrens in die Wes-Transvaal begrawe het, en
b. hoe hy sou voel as sy kind ’n Springbok was en, as gevolg van isolasie, nie teen ander lande kon deelneem nie.

Almal aan tafel, behalwe ek en mnr. Terreblanche (wat wyslik ophou eet het), verstik amper aan hul gebraaide aartappels. Ek knip nie ’n oog nie en kyk mnr. Terreblanche stip in die oë. Hy het my met daardie blou oë aangegluur. Die enigste woord wat ek kon onthou, was “Juffroutjie…”. Die res het ek net uitgedoof. Alhoewel my hart by my keel en ore wou uitspring, het ek gemaak asof niks ongevraagd en ongehoord gesê of gedoen is nie.

Mnr. Terreblanche was na my mening een van die beste redenaars of sprekers wat die land nog ooit opgelewer het. Sy visie het my egter nie besiel nie. Ek wens sy vrou en aangenome dogter geluk en voorspoed toe.

Dr. Van Zyl Slabbert se besoek aan die kampus was verfrissend vanweë sy denke en styl, maar veral vanweë sy Afrikanerskap. Vandag besef ek dat hy ‘n onkonvensionele leier en ’n groot brugbouer in abnormale tye was. Dit is jammer dat hy nie na waarde geskat is nie en deur vele as bedreiging beskou is.

Alhoewel dit met my akademie goed gegaan het en ek my kursus geweldig geniet het, veral professor Hugo se gemeenskapsontwikkeling-klasse, het ek my emosioneel en geestelik in ’n vreemde wêreld bevind. Die stormwinde het opgekom toe die Konserwatiewe Party weggebreek het van die Nasionale Party. Dit het vir my al hoe duideliker geword dat die winde van verandering waai en dat dit nog stormsterkte sou bereik. Ek kon maar net hoop en bid dat my geliefde Suid-Afrika met al sy mense die storms sou deurstaan en dat wedersydse respek, begrip en liefde dit vir ons moontlik sou maak om in dié land te oorleef en te bly voortbestaan. Almal het so baie gehad om te bied, alhoewel die toekoms én die groot meerderheid mense wat nog nie op die voorgrond verskyn het nie, heeltemal onbekend was. Ons blankes het beslis baie gehad om te bied. Ons moes net die proses om deur te breek tot hierdie groot onbekende massa (die “hulle”) reg bestuur en hoop op genade.

My sentiment was by die Afrikaners, alhoewel ek my nie kon vereenselwig met hul rigiede denke nie. Met verloop van tyd het die PFP onder leiding van dr. Frederick van Zyl Slabbert, die IVP (as gevolg van hul goedgesindheid teenoor die witmense), die UDF (as gevolg van hul stryd vir ’n vreedsame oorgang na reg en geregtigheid) asook die verligtes in die Nasionale Party my hart geroer. Op daardie tydstip was die ANC vir my geheel en al onbekend.

Ek was bevoorreg om blootstelling te kry aan mense wat sterk en eerbaar was en wat opreg geglo het in die lewe soos wat hulle dit gesien en geleef het. My mansvriende het op die Studenteraad gedien en was ook primarii van hul onderskeie koshuise. Dit was nogtans ’n moeilike fase in my lewe, aangesien ek moeilik ingepas het. Die konserwatiewe en patriargale denke kon my nie tot rus en vrede stem nie. Ek kon nie wag om af te studeer om ’n verskil in die gebroke wêreld daarbuite te maak nie. Die universiteitslewe was vir my té eksklusief, maar tog geweldig verrykend. Tukkies sal my altyd na aan die hart bly ten spyte van al my stroom-op ervaringe. Ek is ook dankbaar dat die Departement Maatskaplike Werk my toegelaat het om my finale praktiese jaar in Eersterust (‘n bruin gemeenskap) diens te doen omdat ek verkies het om dit nie in ’n blanke gebied te doen nie.

My pa was vroeg in die jare tagtig goed bevriend met mense met hoë range in die veiligheidspolisie. Menigmaal het ek saam met sommige van hulle om die kampvuur gesit, en politiek het altyd op een of ander stadium ter sprake gekom. Gewoonlik was dit hul stem teen myne. In my Honneurs-jaar is ek deur ’n hooggeplaaste in die veiligheidspolisie genader om as agent by die mag aan te sluit. Volgens hulle sou ek suksesvol wees vanweë die feit dat ek ingelig was en van swartmense gehou het. Dit sou my help om vertroue in te boesem en oortuigend te wees. Ek het gelag en gesê dat ek baie lief is vir my land, maar dat ek nie ’n saak kan steun wat ek nie heelhartig ondersteun nie. Ek het geweet dat een-man-een-stem op een of ander stadium in hierdie land sou moes plaasvind en dat Suid-Afrika nie geïsoleerd van die res van die wêreld kon voortbestaan nie. Die feit dat talle mense sinneloos doodgemaak is, het my boonop teen die bors gestuit. Ek het regtig empatie met al die betrokkenes gehad.

Só gebeur dit toe ook dat ek bevriend raak met ’n offisier wat met ses jaar my senior was en vir wie daar ’n blink toekoms in die veiligheidspolisie gewink het. Hy het aanvanklik aan ’n universiteit gestudeer, maar het ná ’n jaar besluit dat dit nie die gepaste studierigting vir hom was nie. Sy pa het nie verder kans gesien om vir sy studie te betaal nie. Hy is daarna polisiekollege toe, waar hy spoedig uitgeblink het en deur die veiligheidspolisie gewerf is. Hy en my pa het ’n besonder goeie verhouding gehad. Albei was versot op uitkamp en diepseehengel. Toe die veiligheidspolisie agterkom dat my vriend baie van my hou, het ’n senior offisier (met wie ek goed oor die weg gekom het) my vertroulik genader en my versoek om nie die vriendskap in ’n verhouding te laat ontwikkel as ek nie doodseker was van my gevoelens vir dié jong offisier nie. Omdat ek hom nog nie goed geken het nie, het ek nie oor daardie sekerheid beskik nie. Boonop kon ek my nie met sy loopbaan versoen nie, en ek wou nie sy loopbaanvooruitsigte as gevolg daarvan in die wiele ry nie. Hy was egter ’n baie aangename mens en ek het baie begrip en respek vir hom gehad.

Een jaar later het die veiligheidspolisie hom by ’n universiteit ontplooi waar hy verder in die rigting van sy keuse kon studeer. Ongeveer twee jaar later het hy besluit om uit die veiligheidspolisie te bedank omdat sy politieke oortuigings verander het en hy hom nie langer kon versoen met die opdragte wat aan hom gegee is nie. Hy het op eie koste verder studeer en ’n meestersgraad in die regte verwerf. Vandag is hy suksesvol en dankbaar vir die geleenthede wat hy gekry het en die gewetensbesluite wat hy geneem het. Ek het eers etlike jare daarna vir hom vertel van die gesprek tussen my en die veiligheidspolisie. Ek weet dat ek die regte besluit geneem het, en ek sal altyd my vriend respekteer vir sy beginselvastheid.

In die vroeë 90’s is ek verkies om in die uitvoerende raad van die Nasionale Party se Jeugraad in Kwa-Zulu Natal te dien . Ek het egter uit die posisie bedank vanweë die Nasionale Party en die ANC se onverbiddelike houding jeens die IVP. Ek was van mening dat die IVP uiters stief behandel is. Ek het my misnoeë tydens die Nasionale Party se Hoofraadsvergadering te Durban uitgespreek.


Gradeplegtigheid Maart 1984

5. Getroude lewe

Ek wou graag deel wees van ’n hegte gesin en wou bitter graag self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, alhoewel ek nog nie genees was van bagasie uit veral my tienerjare nie. My verloofde, Johan (een van ‘n tweeling), het op daardie stadium nog nie volkome herstel van ’n mislukte liefdesverhouding, ongeveer twee jaar voordat ek hom ontmoet het, nie. Ons was dus twee gewonde mense wat hierdie onbekende pad begin stap het. Drie maande nadat ons mekaar deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet het, het hy my gevra om te trou. Ek het hom hierop geantwoord dat ek hom lief genoeg het om met hom uit te gaan, maar nog nie met sekerheid kan sê dat ek hom lief genoeg het om vir hom die ja-woord te gee nie. Hy het my antwoord nie goed ontvang nie. Ek het hom jammer gekry en besluit toe om ja te sê. Twee weke voor ons beplande troudag (31 Maart 1984) het ek die verlowing na ’n hewige rusie verbreek. Dit het groot konsternasie veroorsaak omdat al die reëlings reeds getref was. Ek het vanuit Pretoria my ouers, wat in die Wes-Kaap woonagtig was, geskakel om hulle hierdie nuus mee te deel. My ma was ontsteld en het vir my gesê dat ek van my troontjie moet afklim. Ek het toe besluit om voort te gaan met die troue. Die feit dat ons ’n seksuele verhouding gehad het, het my skuldig laat voel en my besluit ook grootliks beïnvloed.

Op 31 Maart 1984 is ons toe deur ds. Van Heerden (wat my aanneming en doop behartig het) in die Universiteitsoord-kerk te Pretoria in die eg verbind. Ds. Van Heerden en my man se vriend (wat verantwoordelik was vir die trompetuitvoering) het my in trane gehad. Die reuse-ruiker bestaande uit proteas en fynbos was ook te pragtig.


Op my troudag


Ds. van Heerden en my pa by die ondertekening
van die huweliksregister


Ek en my ma

Ons agtergronde het verskil. Hy was ’n stedeling met ’n pa wat ’n hoë pos by PERSKOR in Johannesburg beklee het. Ek was ’n plaasmeisie wat nie ’n besonderse voorliefde vir die stad gehad het nie. Nog minder het ek aardskuddende ambisie gehad. Beide van ons was darem lief vir die natuur.

My man was nie veel begaan oor die politiek nie (wat my op daardie stadium goed gepas het aangesien politiek soveel konflik in my vorige verhoudings veroorsaak het) - hy het darem “ja” gestem in die 1983-referendum. Hy was ‘n ingenieur wat homself besig gehou het met die konkrete dinge van die lewe. Terwyl al die soldate op die grens kospakkies en koekies van hul geliefdes gekry het, het ek vir my aanstaande man pakke leesstof gestuur oor hoekom hy “ja” moes stem in die referendum. Daar het miskien so ‘n pakkie of wat eetgoed deurgeglip na hom toe. Ek moes later tot groot ontsteltenis hoor dat hy nie veel erg gehad het aan lees nie, maar eerder verkies het om saam met die Spesiale Magte in ‘n rivier vol krokodille tussen Ondangwa en Angola te swem.

Saam was ons opgewonde toe president F.W. de Klerk mnr. Nelson Mandela se vrylating aangekondig het en mnr. Mandela as vry man uit die Victor Verster-gevangenis gestap het. Ek sal dit altyd waardeer dat hy nie afkeurend was toe ek getreur het oor die noodlottige aanslae op die lewe van menere Steve Biko en Chris Hani nie. Ek onthou die dag van meneer Chris Hani se begrafnis asof dit gister was. Ek was verslae en diep geraak oor dit wat voor my op die televisie afgespeel het, veral omdat dit gedurende die Paastydperk gebeur het. Ek het myself daardie dag in ons gehuurde plaashuis (naby Spioenkop-berg te Winterton aan die voet van die Drakensberge) heeltemal afgesluit van wat om my aangegaan het. Chris Hani se afsterwe het nie net die land tot by die rand van ’n afgrond gebring nie – dit het ook ’n geweldige impak op mense (swart en wit) se psige gehad. Daar is nou nog mense wat nie volkome van dié trauma genees is nie. Swart en wit (selfs ou kamerade) het ’n wrewel in mekaar ontwikkel, en ek is oortuig dat die afsterwe van mnr. Hani ’n negatiewe uitwerking op ’n andersins positiewe transformasieproses gehad het.

Toe ek my man ontmoet het, was hy nie bekeer nie. Hy het egter nie God se bestaan ontken nie. Dit het my baie gekwel. Met sy wetenskaplike brein wou hy alles verklaar. Hy was ordentlik en afkomstig uit ‘n goeie familie. Hy was intelligent, prakties en sportief, maar ook patriargaal. Ek het gehoop dat hy sou verander sodra hy tot bekering kom. My verhouding met God Drie-enig was ook nie sterk genoeg nie. Ons huwelik was by tye stormagtig. Ek het ‘n diepe behoefte aan kommunikasie gehad, veral aan diepgaande gesprekke oor sensitiewe aangeleenthede. Dié behoefte was egter nie wedersyds nie. Ek het ter wille van vrede probeer stilbly, maar dit het nie lank gehou nie. Dit het vir my gevoel asof ek nie meer as ’n geïntegreerde mens kon funksioneer nie en dat ons mekaar slegs bolangs gevind en versorg het. Nogtans was ek baie geheg aan my gesinseenheid. Politieke vonke het nie tussen ons gespat nie, maar wel ander vonke vanweë ons botsende geaardhede. Ons kon nie daarin slaag om ’n bemagtigende en bevrydende atmosfeer te skep wat gesinstabiliteit, persoonlike groei en gebalanseerde ontwikkeling kon laat realiseer nie.

Ons het wel lekker gesels oor sy werk en sy betrokkenheid by ’n kultuurorganisasie. Hy was ’n bestuurslid van die Junior Rapportryers.

Ons albei het baie vir mekaar omgegee en het mekaar sover moontlik probeer bystaan en ondersteun. Hy was veral op praktiese gebied, binne en buite die huis, vir my van groot waarde – moes kort-kort vir my gordyne hang en portrette, ens. teen mure ophang of afhaal. My liefde vir ’n vrolike tuin het geen perke geken nie. Hy het ook klippe, kompos en houtstompe van nabygeleë plase af vir my aangery en moes ook visdammetjies en waterbakke vir die voëls bou. Hy het ook gehelp met die versorging van die kinders toe hulle klein was, en later met hulle Wiskunde en Wetenskap op skool. As gesin was ons baie lief vir uitstappies en het probeer om met ons beperkte inkomste ’n avontuurlike lewe te lei. My behoefte aan geestelike en emosionele intimiteit en die behoefte om oor baie dinge te gesels, was egter vir my net té oorweldigend. Dit het negatief op my man ingewerk. Hy is ’n goeie, ordentlike mens en ek is nie spyt dat ek met hom getrou het nie. Uit ons huwelik is my twee kinders gebore: my dogter, Michan (haar naam is ’n kombinasie van Michelle en Johan) en my seun, Daniël Johannes (vernoem na sy oupa).


Oupa Danie (DJ) en ouma Heila Coetsee by my
seun DJ se doop

Dit was vir my ’n voorreg om intiem by hulle betrokke te kon wees, veral tydens hul voorskoolse en laerskooljare. Hulle is werklik ligpunte in my lewe. Ek is hartseer oor al die pyn en lyding wat hulle moes verduur.


Gesinsfoto (1988)


Michan saam met haar geliefde pienk kombersie en pop


In die Caledon hospitaal met die geboorte van Danie
(1 Januarie 1987)


Michan met haar sambreel by die braaiput


Michan was ’n regte klein platjie


My kinders Danie en Michan


Danie


Michan


Danie en vriend


Danie saam met vriende


My dogter Michan tydens ’n Mosambiek uitreik


Michan en Danie by Siphiwe (huishulp)


2002 Richardsbaai Primêre Skool prysuitdeling (hoofseun en ontvanger van verskeie
bekers onder andere die DUX beker - by Me. Duvenage).

Michan was in 1998 onderhoofmeisie van dieselfde skool

Toe ek my man ná ag jaar dagvaar vir ‘n egskeiding, het ek op die ou end by die deure van die skeihof in Pietermaritzburg omgedraai. Ek kon nie met gemoedsoortuiging voor God sweer dat my huwelik onherstelbaar verbrokkel het nie. Ons huwelik het egter versleg, en twee jaar later het ek wel die egskeiding deurgevoer. Dit was vir my pynlik, maar terselfdertyd het ek bevry gevoel. Ná die egskeiding het ons vier jaar lank saam gewoon, in die hoop dat ons tóg versoen sou kon raak. Ons verhouding het verbeter, maar die letsels was nog baie diep. My gewese man het nog steeds nie tot bekering gekom nie. Ek wou ná drie jaar weer met hom trou, omdat ek nie vir ewig só wou saambly nie en ook ter wille van gesinseenheid. Hy wou nie, want die status quo het hom gepas. Nadat nóg ‘n jaar verby gegaan het en die letsels net verdiep het, het ek besluit om die streep finaal te trek. Emosioneel en geestelik was ek ‘n wrak. My gewese man het ná hierdie traumatiese einde tot inkeer gekom. Hy leef vandag ‘n bekeerde lewe en doen geestelike werk onder mense daar waar hy as ingenieur in Angola werk. Hy is getroud met ’n medegelowige, en ek wens hulle ‘n gelukkige, geseënde huwelikslewe toe.



6. Beroep

6.1. Inleidend

In 1984 was ek as maatskaplike werker in diens van NIMRO in Pretoria. Vanaf 1985 tot 1990 het ek tuisgebly om na my twee kinders om te sien. Gedurende 1990 het ek ’n halfdagpos beklee by Kinder- en Gesinsorg in Ladysmith, Kwa-Zulu Natal.

6.2. Suid-Afrikaanse Weermag/Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag


Continue reading this ebook at Smashwords.
Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-27 show above.)