Excerpt for Die Kristal Grot by Frederick J Smith, available in its entirety at Smashwords

This page may contain adult content. If you are under age 18, or you arrived by accident, please do not read further.

Die Kristal Grot
Frederick J Smith

Smashwords Edition



Copyright 2012 Frederick J Smith



“This book is available in print at most online retailers.”



Printed in South Africa By:

Mat516 Publishers
http://mat516publishers.yolasite.com/



Smashwords Edition, License Notes

This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each recipient. If you’re reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the hard work of this author.





~~~~





Inhoudsopgawe
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 4
Hoofstuk 5
Hoofstuk 6
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 9
Hoofstuk 10
Hoofstuk 11
Hoofstuk 12
Hoofstuk 13
Hoofstuk 14
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 18
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21





~~~~~





Hoofstuk 1



Janke Theron is hoogs befoeterd toe hy uiteindelik by die bank uitstap. Elke keer as hy die bank besoek ( en dit is maar een maal per maand ) moet hy wag totdat die gesette, onbeskofte boekhouer met sy weglê snor hom kan sien.

Hy wat Janke Theron is, is ‘n gelowige kerkman, maar soms is te veel net te veel, dan kook sy gemoed oor en raak hy buite homself van woede - hy is immers een van die bank se finansiëel beter kliёnte...’n gesiene boer wat beter behandeling verwag as wat hy tans kry: “Sulke bliksems!”

Hy klap sy ou Ford bakkie se deur met mening toe en wens dit was daardie arrogante boekhouer se mond wat die hou kon kry. Al waaraan hy nou dink is om by Oasis, sy plaas, te kom waar sy geliefde vrou Mollie vir hom wag...

Voor dagbreek vanoggend is hy al weg van die plaas af. Mollie het hom vier uur vanoggend wakker gemaak met ‘n stomende beker koffie en vars gebakte beskuit wat sy die vorige aand gestaan en bak het. Dit was vandag sy maandelikse rit dorp toe om al sy banksake, mark en ander sake te doen. Gelukkig kon hy vroeg Mollie se inkopies doen, anders weet hy nie waar hy kans sou kry om dit ook nog te kon inpas na die bank episode nie.

Hy loer in sy tru spiëel en merk hoe moeg hy lyk, nee, meer bedonnerd as moeg. Hy sien op teen die tagtig kilometer terug plaas toe, maar wat, hy is honger en dors en weet dat Mollie sal regstaan met sy bordjie gekookte kos en gemmerbier...

Hy luister na die nuus en weerberig. Die voorspelling is nie baie bemoedigend vir hom nie. Hy verwelkom die reënvoorspellings, maar die mis oor die pas wat hy moet ry, die moontlike rukwinde en rotsstortings maak hom effe benoud... die grondpad wat hy moet ry, grotendeels deur dig bebosde gebied, is in elk geval ‘n nagmerrie om te trotseer, veral in die donker; hoeka is die bakkie vandag swaarder gelaai as gewoonlik met al die proviand wat hy moes aankoop.

Janke Theron is ‘n gesoute boer in murg en been. Hy is die enigste oorlewende seun van vier en het nooit susters gehad nie. Die ouer broer het op ‘n onverklaarbare wyse in die ou plaasdam aan die voet van die berg verdrink. Die twee broers jonger as hy se afsterwes was ook in omstredenheid gehul – die een se verskeurde liggaam is in die digte woude teen die berghang deur die plaaswerkers gekry, die jongste een is aan ‘n hoë boom gekry met `n tou om sy nek... sy klere was verskeur, sy liggaam onherkenbaar vermink. Tot vandag toe kon sy twee arms nêrens opgespoor word nie.

Terwyl die ou Ford bakkie krakend en knarsend oor die stowwerige kronkelpad voort ploeter, flits Janke se gedagtes terug oor die jare op hul familieplaas. Daar was die gelukkige tye, veral oor Kerstye as al die familie van die stad af kom kuier het, dan was daar ook die bittere hartseer tye – eers is oumatjie Theron skielik, sonder enige waarskuwing deur die dood weggeraap, ‘n paar weke later was dit oupatjie Theron se beurt. Verlede jaar is pa Duan dood – hy het van die trekker afgeval waarna die stroper oor hom gery het... sal hy ooit daardie dag vergeet! Ma Susara was van daardie dag af in ‘n koma waaruit sy nooit gekom het nie en is drie maande na Pa oorlede.

In die afgelope tien jaar het die ou familie begraafplaas gegroei tot sewe grafte. Janke is die laaste oorlewende van die Theron familie. Hy is bitter trots op die dertig duisend hektaar familieplaas wat hy geёrf het en bedryf. Die plaas is ‘n vrugbare juweel en lê uitgestrek tussen twee bergreekse aan weerskante. Die opstal kan net van een rigting af bereik word omdat die twee berge op hul verste punte ontmoet-pa Duan het altyd gepraat van die vallei van liefde.

Dit is sterk skemer toe Janke die steiltes van die enigste toegangspad tot die plaas begin uitklim. Die wind pluk geniepsig aan die bakkie, maar gelukkig help die swaar vrag vanaand om die ou bakkie redelik stabiel op die grondpad te hou. Janke stuur die een gebedjie na die ander na Bo – hy is ‘n gelowige man, maar besef nogtans die gevare wat moontlik op hom kan wag vorentoe...

Die oeroue bome se takke swiep in die wind en word soos slap linte deur die lug gewaai. Die mistigheid dwarrel soos mini kolke in die swak lig voor die Ford bakkie... Janke Theron prewel hardop sy gebede na Bo: “Vader, U is my Behoeder vannag, al dwaal ek deur ‘n vallei van doodskaduwee, sal ek nie vrees nie Vader, U is met my... en Vader wees ook met Mollie, U weet hoe bang sy is in hierdie weer Vader, behoed en bewaar ons...!”

Janke verstyf van skok toe ‘n uil, asof van nêrens, rakelings by sy voorruit verby vlieg – vir ‘n vlietende oomblik sien hy die wydgesperde geel oë van die uil... hy trap die rem effens te hard en die bakkie knars feitlik tot stilstand, maar met twee vinnige pompe van die versneller en ‘n laer rat beur die bakkie weer vorentoe.

Dit sou volmaan wees as die weer nie vanaand so sleg was nie, nietemin glip daar so hier en daar ‘n maanligstraal deur die miswolke. Dit omtower die gewoonlik sprokiesagtige landskap in ‘n misterieuse, onheilspellende, vreesaanjaende donker woud...

Janke hoor hoe die wind mistroostig om die bakkie loei, die temperatuur begin sak, hy voel hoe die angssweet oor sy liggaam begin uitslaan. Dit verg die uiterste konsentrasie van hom om die pad in die swak sigbaarheid te volg. Die weerkaatsing van die ligte in die toenemende digte mis verblind hom, maar teen ‘n slakkepas dreun sy getroue ou bakkie die steilte uit.

In sy drie en veertig jaar wat hy die aarde bewandel, weet Janke dat daar bitter min dinge is waarvoor hy werklik bang is. Sy grootste vrese is vir die elemente... weerlig, storms, verspoelings... ja, alles wat nie deur die mens se invloede veroorsaak word nie.

‘n Sweepslag weergalm uit die donker dieptes van die hemelruim, Janke skrik, pluk die stuurwiel na regs en mis rakelings ‘n puntige rots aan die kant van die nou erg glibberige grondpad. Alhoewel nou veel kouer as voorheen, rol dun stroompies sweet van sy voorhoof af... Janke besef dat hy onder hewige spanning verkeer... hy besef dat as sy konsentrasie nou verslap, hy moontlik nie die bakkie verder sal kan beheer nie, hy stuur weer ‘n skietgebedjie na Bo terwyl sy hande krampagtig vasklou aan die stuurwiel.

Nog twee slap draaie na regs, dan sal hy die piek van die kronkelpad bereik. Van daar af kronkel die pad afdraend vir ongeveer ses kilometer tot by die plaas opstal. Dit voel alreeds vir Janke Joubert asof hy al vir ure op die pad is, asof die pad vannag heel verder is as gewoonlik... diep binne-in hom knaag ‘n onrus wat hy nie kan verklaar nie, ‘n onrus wat vererger word deur die volgehoue blitse wat die omringende woud pynig met sweepslag na sweepslag.

Die drywende miswalms begin versag en Janke kan ten minste vyf meter voor die bakkie uitsien – hy nader die tweede draai voor hy die piek van die kronkelpad bereik en verminder spoed deur terug te rat. Toe hy om die draai gaan, flits die soveelste weerligstraal oor die woud... asof teen ‘n muur vasgejaag, ruk die bakkie tot stilstand. Janke sit versteen van skok want die enjin het nie uitgesny nie en loop nog teen volle omwentelinge. Vir ‘n stonde dink hy dat hy die rem per ongeluk getrap het, maar nee, slegs sy regter voet lê nog stewig op die versneller pedaal.

Janke probeer die mis deurpriem om verder te probeer sien as slegs die vyf meter sigbaarheid voor hom, maar tevergeefs – die bakkie se agterwiele grou diep gate in die nat modderpad, maar ‘n onsigbare krag of kragte verhoed die bakkie om vorentoe te beweeg... Janke voel hoe sy liggaam van ongekende angs en spanning verstyf. ‘n Doodse, lam gevoel neem besit van sy ledemate en hy besef dat hy vannag hier te doen het met iets waarmee hy nog nooit van tevore mee te doen gehad het nie. Deur sy benewelde verstand deur prewel Janke weereens ‘n gebedjie...

Janke laat sak sy kop vooroor op die stuurwiel, trap die versneller dieper in, die enjin wentel vinniger, maar bly botstil staan op dieselfde plek waar hy vasgesteek het, alhoewel die bakkie steeds in tweede rat is. Duisende emosies flits deur Janke se gemoed, vrees, angs, magteloosheid, verwardheid, paniek... emosies wat hy nog nooit in soveel felheid ervaar het nie.

“Bliksem!”gil Janke dit uit van moedeloosheid en slaan met gebalde vuiste op die bakkie se stuurwiel: “Hoe en waar begin ek nou soek vir die probleem, wat kan fout wees?” Sy hardop vraag aan homself klink hol en niksseggend in die donkerte van die kajuit – hy haal die bakkie uit rat en reik na die deurknip om dit oop te maak. Met ‘n verdere skok besef hy dat die deur nie wil oopmaak nie, hy probeer die venster afdraai, maar die ruit wil ook nie beweeg nie.

Die een verlammende skokgolf na die ander trek deur Janke se liggaam toe hy besef dat hy ‘n gevangene in sy eie bakkie is. Met wydgesperde oë staar hy voor die bakkie uit, die weerlig slaan weer, tref ‘n ou boom links van hom, binne enkele oomblikke staan die ou verrotte boom in ligte laaie. ‘n Sagte rooi gloed weerkaats teen die bakkie. Janke slaak ‘n sug van verligting, nou kan hy ten minste die omgewing beter sien, kan hy ten minste sien waar hy is...

Janke sien hoe die bome steeds deur die loeiende wind gestraf word, hoe groot druppels reën op die grond neerplof, hoe die reën die brandende boom probeer blus, hoe die miswolkies in vlae oor die bakkie gejaag word... en weer bid hy hardop terwyl die enjin steeds luier.

Dit is volmaan, maar die wolke verhoed dat die volle maanlig die omgewing bereik, sporadies breek ‘n maanligstraal deur om dan weer net so vinnig geblok te word deur die swaar, swanger wolke.

‘n Weerligstraal flits weer deur die lig en tref ‘n hooivurk wat vasgeklem word in ‘n onsigbare hand hier voor die bakkie – Janke se liggaam verstyf, ‘n doodse angs lê vlak afgeëts oor sy gesig. Hy staar stip na die figuur hier voor sy bakkie... hy sien die swart kappie, die lang monnik gewaad en die hooivurk...

Janke se oë brand van die intensiteit soos hy probeer om die figuur se gelaatstrekke te sien, maar hy sien geen liggaamsdele aan die figuur nie, ook geen gelaat nie, geen voete, hande of enige teken van ‘n mens nie...!

“Vader behoede my vannag, Vader wees met my...!” Voordat Janke sy gebed kan voltooi, swaai sy deur oop en staan die figuur minder as ‘n meter van hom af. ‘n Muwwe, onaardse reuk tref sy neusgate en verlam sy sintuie. Janke besef dat hy baie beslis nie hier met ‘n aardse wese te doen het nie... of ten minste nie met ‘n lewende aardse wese nie...

Janke word met brute krag uit die bakkie se kajuit gepluk, die onaardse krag waarmee hy hanteer word laat Janke sidder. Hy trek die skaal op agt- en- negentig kilogram, het geen oormatige vet aan sy liggaam nie en is alombekend vir sy krag. Hy probeer homself verset toe die figuur hom op die grond neergooi en die hooivurk teen sy keel vasdruk.

Janke voel hoe die koue, skerp punte van die hooivurk sy keelvel prik, hy voel hoe die warm bloedstraaltjies oor sy koue skouers begin afloop...

Met nog ‘n weerligstraal wat Janke verblind, ontplof ‘n duisend sterre voor sy oë toe ‘n onmenslike hou hom teen die kop tref. Hy lê asof verlam, hy voel geen pyn meer nie, hy hoor slegs die drup van water, die geloei van die wind deur die bome... dan tel iemand sy voete op en begin hom trek. Deur erg benewelde oë staar Janke na die hemelruim, hy sien die donker onweerswolke daar hoog bo die boomtoppe, hy sien hoe die boomtakke, asof van strooi gemaak, deur die wind rondgepluk word, hy voel die plof van groot, koue reëndruppels teen sy gesig, genadiglik voel hy nie hoe die skerp rotspunte waaroor hy gesleep word, sy rugvelle skaaf nie...

Na wat vir Janke soos ‘n ewigheid voel, voel hy nie meer die reën op sy wange nie, sien hy nie meer die wolke daar bo en die bome om hom nie...

Janke spits sy oë en besef hy word in ‘n grot ingesleep – in die pikswart donker kan hy geen voorwerpe sien nie en voel hy ‘n gladder oppervlak waaroor hy gesleep word... dan word hy in ‘n dof verligte rotskamer in gesleep.

Die figuur lig Janke op asof hy ‘n strooipop is en lê hom op ‘n kliptafel neer... hy sien die aapagtige gevreet, die glimmende lang, wit slagtande wat oor die bloedbevlekte onderlip van die ‘gedrog’ hang, hy sien die mistige figure wat in die grotvertrek rond sweef... met elke aanraking van die figure skiet ongekende elektriese pynskokke deur Janke se liggaam.

‘n Ondraaglik-walglike reuk hang in die grotkamer, Janke voel hoe hy onwillekeurig vomeer, hy stik en begin onbedaarlik hoes... tussen sy hoesbuie deur sien hy die skitterende prag teen die rotswande – dit weerkaats alle denkbare kleure in die dof verligte grotkamer, die skakerings van die kristalle teen die rotswande omtower die vertrek in sprokiesparadys van kleure.

Janke sluit sy oë, hy voel hoe hy in ‘n bodemlose put afwentel, hoe verder hy val hoe minder voel hy die ondraaglike pyne wat sy sinne oorheers, wat soos brandnetels sy sensitiewe senupunte aanval en verlam... Janke dank die Vader vir die genadiglike redding uit die kloue van die mistige figure wat hom so martel...





~~~~





Hoofstuk 2



Mollie Joubert is rasend van bekommernis, gewoonlik as Janke dorp toe gaan, is hy lank voor sononder reeds terug op die plaas. Vir die soveelste keer kyk sy weer na die tyd op die ou antieke staanhorlosie in die sitkamer. Dit is al sterk donker buite, maar wat haar die meeste bekommer is die siedende storm wat daarbuite heers...

Sy het die twee waghonde, Snuffels en Katanga in die huis laat inkom soos sy maar telkemale doen as die weer te erg raak buite. Die twee getroue brakke is net so rusteloos soos Mollie. Sy hou hulle kalm met peuselkossies terwyl sy vir die soveelste keer vir haarself ‘n beker koffie inskink.

Terwyl Mollie haar koffie stadig sluk, tuur sy in die dansende vlamme van die houtvuurtjie wat sy in die kaggel aangesteek het. Die vuurtjie gee altyd vir haar ‘n gevoel van vertroosting as sy bekommerd of ongemaklik voel... maar vanaand voel sy nie net bekommerd nie, nee, ook neerslagtig en grensloos onrustig. Sy bid net dat Janke veilig is en wel nie te laat terug sal wees nie.

Haar gedagtes word weggevoer oor die afgelope jare. Sy was ‘n weeskind toe sy en Janke op Kollege ontmoet het, hy het Landbou studeer en sy Maatskaplike werk. Uit die staanspoor was dit liefde met die eerste oogopslag. Sy was oorstelp van vreugde toe hy haar na voltooiing van hul studies gevra het om met hom te trou – hulle is nou twee en twintig jaar getroud. Na talle probeerslae en hoë mediese uitgawes, het hulle dit aanvaar dat hulle nooit ‘n kind van hul eie sal hê nie... ’n feit wat hulle albei met swaar gemoedere aanvaar het. Dit is slegs hul liefde vir mekaar wat hulle kinderloos gedra het deur al die jare en berusting laat vind het met hul lot.

Janke word hierdie jaar drie-en-veertig en sy was verlede maand veertig jaar oud. Sy klap haar tong in ongeloof oor die tyd wat so vinnig verby gevlieg het. Sy is ‘n volwaardige plaasvrou, bak en brou die hele dag, wanneer sy nie werk in die huis het nie, help sy buite met die diere.

Sy swel van trots as sy aan haar Janke dink. Hy het die plaas opgebou tot die spogplaas wat dit vandag is. Hy hanteer die gemengde boerdery met behulp van swart werkers wat die grond aanbid waarop Janke en sy loop, getrouer werkers kan jy nêrens kry nie. Janke en sy doen alles moontlik om na die welstand van die plaaswerkers om te sien – volledige toegeruste huisies vir elkeen met ligte,water en spoeltoilette – elkeen ontvang ‘n salaris en kry hul lewensmiddele van die plaas af... Nee wat, sy moet sê, hulle woon op die plaas saam as een groot, gelukkige familie.

Skielik voel Mollie spyt dat sy nie vir ou Bettie,haar getroue huishulp, gevra het om vanaand hier by haar deur te bring nie, maar nou het sy ook nie geweet dat Janke moontlik baie laat tuis gaan wees nie...

‘n Indringende klop aan die voordeur ruk Mollie uit haar mymering op, vlugtig loer sy na die tyd en sien dat dit al na tien is, die kloppe word herhaal en sy storm na die voordeur toe, kyk deur die loergaatjie en sien ‘n druipnat Petrus voor die deur staan.

“My genade Petrus, en as jy so laat in die reën rondloop jong, is daar fout?”

“Eish my Nonna, ons voel so banja bekommerd, meester Janke hy was nog nooit nie so laat terug van die dorp af nie, het hy al vir die Nonna gebel?”

“Nee ou Petrus jong, die fone is al weer af met die storm, anders sou hy my beslis gebel het, ja jong, ek voel net so bekommerd oor meester Janke, maar kyk hoe lyk dit buite, ons sal wraggies niks kan doen voordat die storm nie verby is nie!”

“Ai Nonnatjie, ons hy is banja bekommerd, meester hy sal nog nooit net sommer net so laat wegbly nie, wat sal ons maak?”

Mollie se hart raak vol deernis oor die bekommernis wat ou Petrus met haar deel.

“Sjoe ou Petrus, ek weet nie wat om te doen nie, maar jy kan my help deur vir Bettie te vra om hier by my te kom sit totdat meester terugkom, slaap sy al?”

Ou Petrus skud sy kop ontkennend: “Nee my Nonnatjie, ons hy is nog almal wakker, ons wag ook tot meester terug is en dan die storm hy’s te erg, ons sal nie kan slaap nie!”

Met ‘n gedwonge glimlaggie oorhandig Mollie haar sambreel aan Petrus sodat Bettie dit kan gebruik terug na haar toe.

“Ag ou Petrus, gee die sambreel vir Bettie en vra dat sy asseblief vanaand hier by my kom bly hoor?”

“Reg my Nonna, ek maak so, en as die Nonna vir ons norag kry, kom ons dadelik nê?”

Ou Petrus swaai die sambreel oor sy kop en met ‘n hartlike groet verdwyn hy die donkerte in terug na sy huisie toe.

Mollie hoef nie lank te wag voordat Bettie haar opwagting op die stoep by haar maak nie. Mollie voel sommer meer bedaard met ou Bettie by haar en besef weereens hoe geseënd hulle is met die werkers wat hulle het.

Die twee vroue maak hul gemaklik voor die kaggelvuurtjie, Mollie uitgestrek op die rusbank en ou Bettie uitgestrek op die dik mat voor die kaggel.

Bettie is ‘n baie spraaksame ou skepsel wat al amper veertig jaar op die plaas woon en werk. Sy ken die lief en leed van die Theron familie, sy het saam met hulle feesgevier, saam met hulle getreur oor siektes en sterftes soos dit gekom het, sy het help kinders grootmaak en ken elkeen van hulle asof hulle haar eie is.

Ou Bettie en Petrus het twee seuns en albei werk ook op die plaas. Beide is getroud en sy is al ouma van sewe bloedjies waarop sy baie trots is... die agtste enetjie is op pad en ou Bettie koer van vreugde. Sy kekkellag gereeld as sy sê dat al die kinders gaan nog op die plaas help werk, want ai, die werk word so baie... te veel vir die paar mense wat nou daar is. Nee, sê ou Bettie, sy sal sorg dat daar genoeg hande op die plaas kom vir al die werk...

Mollie verluister haar aan al Bettie se stories, meestal van die plaas en sy mense, staaltjies van Janke se grootouers, sy ouers en al die kinders.

“Maar Nonnatjie, die ding dat meester se drie boeties hier so snaaks dood is by die plaas, ek sê nog iets hierso hy is nie reg nie – Meester se ma, nonna Susara, toe sy daarie dag daai ou vrou hier by die plaas weggejaag het, sy het banja lelike goed vir ouma gasê, jonawhê nonnatjie, sy het banja lelike goed gesê!”

Mollie kyk nuuskierig na ou Bettie en verwonder haar aan die ou vrou: “Nou Bettie, watse lelike goed het sy gesê jong, vertel my?”

‘”Eish Nonna, dit was lelik, darie dag sy’t gasê dat sy gaan die sangoma sien vir die merisyne en sy gaan sien dat almal wat by die plaas bly sal dood gaan - sy’t gasê sy gaan die plaas toor, maar net die witmense hy sal seerkry, nie onse swart mense nie... ai Nonna, ons bang nog steeds wat darie mal ou vrou gasê het, eish!”

Mollie voel ‘n krieweling teen haar ruggraat afgly: “Bettie dink jy dat die dinge, die getoordery waarvan jy praat kan werk, en waar is die vrou wat so gepraat het?”

“Auwa Nonnatjie, nonna de Vries net oor die berg het haar toe die werk gegee, sy werk nog daar, maar Nonna,die stories loop dat darie vrou hy is die heks, sy doen baie snaakse goed met die hoenders, as die maan vol loop by die aand, dan gaan sy na die hoogste punt van die berg, dan slag sy die hoender en doen sy haar toorwerk daar hoog bo by die berg!”

Mollie gee ‘n gespanne laggie: “Bettie, glo julle werklik aan die toorkuns, dat iemand wel kan toor en vloeke oor ander uitspreek?”

“Oeeee Nonnatjie, ja, ons weet djy kry die hekse en die sangomas wat snaakse goed kan doen, hulle merisyne hy’s sterk... en die storie loop dat darie vrou ok die woedoe doen, ek wetie wat die woedoe is nie, maar hulle sê dat dit ‘n banja slegter toor is as die sangoma se toor Nonnatjie!”

Nog ‘n rilling trek deur Mollie, sy persoonlik het nou al baie gehoor van heksery en toorkunste, sy weet nie veel van voodoo af nie, net een maal vlugtig daarvan gelees – sy glo nie aan toor of heksemagte nie, ook glo sy nie aan spoke nie. Sy glo dat daar ‘n logiese verklaring agter elke spookstorie is.

Nietemin luister sy grootoog na Bettie se vertellinge – sy lê nie meer agteroor op die sofa nie, sy sit regop en tuur die kaggelvlamme in... steeds knaag die onrus aan haar oor Janke...

Die wind het intussen effens kalmeer. Die groot reëndruppels het plek gemaak vir ‘n sagte, deurdringende motreëntjie. Plek-plek breek die maanlig nou meer dikwels deur die wolke en omskep die landskap in ‘n sprokieswêreld daar buite.

Intussen tik die minute en ure verby en steeds is daar geen teken van Janke nie. Mollie troos haar daaraan dat hy te laat klaar gekry het en besluit het om by neef Karel te gaan oornag, nie dat dit in sy geaardheid is om ooit oor te slaap nie, nee, hy sal haar wat Mollie is nie sommer alleen op die plaas los nie.

Vir die soveelste keer stap Mollie na die groot stoepvenster toe, trek die gordyne weg en tuur in die rigting van die oprit na die huis toe – vanwaar sy staan is die sig gewoonlik so goed dat jy vir etlike kilometers ‘n voertuig kan sien aankom, veral in die donker is dit nog beter as die motorligte aan is.

Mollie raak al hoe meer gespanne, sy skrik toe Bettie haar roep om die soveelste beker koffie te kom drink. Sê nou net Janke het ‘n ongeluk gehad en lê nou iewers beseer, sê nou net..., sê nou net... Bettie sien Mollie se bekommernis: “Nonnatjie, djy moenie so banja worry nie, meester Janke hy’s ‘n sterk man en sal homself mooi oppas, as die dag breek en hy’s nie hier nie Nonna, dan gaan kyk ons waar hy is, net maskien kom die telefone ok netnou weer aan, Nonna weet mos hoe dit gaan hierso by die plaas nê?”

Mollie voel telkens beter na ou Bettie se bemoedigings, wat sou sy tog sonder hierdie mens gedoen het, wonder Mollie, wat sou hulle sonder die vrou en haar familie op die plaas gedoen het. Sy kyk vol deernis na ou Bettie terwyl haar oë blink van dankbaarheid teenoor die swart ou vrou.

Na die beker koffie sak beide vroue in ‘n diepe, maar onrustige slaap hier voor die warm kaggelvuurtjie...

Mollie en Bettie kom verward orent... Snuffels en Katanga het histeries aan die blaf gegaan en wil met alle geweld die voordeur afbreek om uit die huis uit te kom. Die werfganse klink asof hulle in ‘n oorlog betrokke geraak het buite op die stoep – beide vroue sit versteen van skok oor die skielike lawaai wat in die huis en buite losgebars het. Mollie pluk ‘n gordyn oop en sien dat die dag so pas aangebreek het, die aarde is deurnat, daar is nie meer ‘n teken van ‘n wolkie in die lug nie.

Mollie en Bettie storm gelyk voordeur toe, storm op die stoep uit en sien waaroor die diere so tekere gaan...

Die buitegeboue is ongeveer veertig meter van die voordeur af en staan grotendeels in lyn met die huis. Reg voor die buitegeboue staan Janke se bakkie en luier met sy neus in die rigting van die stoep. Sy ligte is afgeskakel en sy sien nie vir Janke nie, dalk is hy in die buitegeboue: “Dankie Vader, Janke is tuis, dankie Vader dat U hom beskerm het! ”Mollie bid hardop terwyl sy na die bakkie toe drafstap, Bettie is kort op haar hakke...

Drie meter van die bakkie af steek beide vroue in hul spore vas, bewend van skok: ”Nee! Nee! Nee!” gil Mollie terwyl sy haarself oor die bakkie se laai area werp- Janke lê uitgestrek op sy maag op die gelaaide vrag op die bak-bloedstrepe lê oor die seil waarop hy lê. Mollie sien dat sy hande en voete aan die vier hoeke van die bak vasgemaak is- hy lyk leweloos en is poedelnakend... sy wydgesperde oë staar na haar, oë verstar van afgryse, skok, marteling... van ‘n ongekende lyding...

Mollie kyk vinnig rond maar sien nie ‘n lewende siel naby nie. In die verte sien sy die plaaswerkers nader gehardloop kom... ’n verlammende angs oorval haar. Met byna bonatuurlike krag breek sy die toue wat Janke op die bakkie anker.

“Hoe het Janke hier gekom, wie het die bakkie tot hier bestuur, wie het hom so mishandel, wie, wie wie...!” Mollie se gille weerklink oor die werf...

Met behulp van die plaaswerkers dra hulle Janke na sy kamer toe. Mollie merk op hoe koud en leweloos sy liggaam is, die prikmerke aan sy nek, die rooi verhewe brandmerke regoor sy liggaam, die skuurmerke aan sy rug soos hy gesleep is. Sy besef dat Janke deur ‘n helse marteling moes gaan om al die opsigtelike beserings aan sy liggaam op te kon opdoen. Die telefoon funksioneer weer. Nadat sy Dokter de Wet, hul huisdokter geskakel het, help Bettie en Petrus om Janke te was en skoon klere aan te trek... Janke is in ‘n diep koma. Mollie se onbeheersde trane drup vryelik op sy bors. Sy hou sy yskoue hande in hare toegevou en bid onophoudelik... haar oë bly vasgenael op ‘n rou, stervormige brandwond aan sy voorkop... hy lê met gebalde vuiste wat hulle nie kan oopkry om te was nie.





~~~~





Hoofstuk 3



Rusteloos, hoogs bekommerd oor Janke, staan Mollie op die groot stoep van die opstal – sy tuur oor die stofpad uit wat na die opstal toe lei. Sy hoop dat ou Dokter de Wet spoedig sal arriveer om Janke te behandel. Op ‘n vorige geleëntheid was hy binne veertig minute op die plaas, dit was toe ou Petrus sy voet beseer het by die varkhokke...

Haar oë dwaal oor die pragtige natuurskoon hier voor haar – die berg na links met sy loodregte kranse, die berg na regs het minder kranse maar strek steil na bo. Dennebome groei teen die een berghang op tot waar die oë kan sien. Die landerye staan welig groen met koring, sonneblom en lusern wat Janke en die werkers aangeplant het – die werfgedeelte om die huis is ‘n lushof van kleure en skadubome; dit is haar en die vroue se tydverdryf as hul huistake voltooi en op datum is...

Mollie word altyd met heimwee oorval as sy oor die natuurprag van die plaas uit staar, heimwee oor ‘n baba wat hulle nooit beskore was nie, heimwee dat sy nooit haar eie ouers of familie geken het nie, heimwee oor al haar geliefde skoonfamilie wat in die plaas kerkhoffie sowat vier honderd meter van die opstal af ter ruste lê.

Wat Mollie die ergste treiter, wat sy nie kan verstaan nie, Janke is ‘n besondere gesonde, buitengewoon aantreklike, energieke man en steriel bevind deur die Dokters. Sy self het ‘n geringe kans om wel swanger te kan raak volgens die vrugbaarheidstoetse wat op haar gedoen is... Al moet sy dit self sê, sy is ‘n hoogs aantreklike, goedversorgde vrou wat menige man se aandag in ‘n ommesientjie kan kry - sy sien die blikke van bewondering vir haar by die kerkgeleënthede en ander gesellighede wat hulle bywoon. Haar grootste wens in die lewe is om vir Janke ‘n kindjie te kon gee, ‘n traantjie biggel oor haar wang en drup op haar welgevormde boesem...

Mollie kyk op haar polshorlosie en sien dat dit al twintig minute is sedert sy die Dokter geskakel het. Op pad kamer toe waar Janke lê, oorweeg sy om weer die Dokter te bel, maar besluit om nog ‘n paar minute te wag.

Mollie sit op die rand van die bed langs Janke. Sy vryf oor sy bors, sy arms en hande, haar oë bly vasgenael op die stervormige brandwond teen sy voorkop; haar frons verdiep as sy die wond van nader bekyk. Dit lyk of dit met ‘n brandyster gedoen is – sy verwonder haar oor die presisie waarmee die brandmerk gedoen is. Mollie raak aan die wond, sy voel die onnatuurlike verhewendheid daarvan. Dit lyk asof Janke die wond al etlike dae gelede opgedoen het. Sy vee sy welige kuif verder weg van die wond af... om die een of ander rede wat sy nie kan verklaar nie, het die stervormige wond ‘n onnatuurlike, magiese uitwerking op haar. Sy buig vooroor en kus Janke lank en liefdevol op sy welgevormde, vol mond.

Mollie trek die kombers hoër teen Janke se koue liggaam op, sy gebalde vuiste gaan oop... Mollie se oë rek wyd van verbasing toe twee glinsterende groen smaragde uit sy hande rol, een val op die bed langs hom en die ander een kletter op die vloer voor haar voete.

Met bewende hande tel Mollie die twee edelstene op, sy voel die onnatuurlike hoë hitte wat hulle uitstraal – vir minute wat soos ‘n ewigheid voel, staar Mollie in vervoering na die twee glansende pragstukke in haar hand... sy sit die twee stene voor in Janke se bedkaslaaitjie, loer vinnig na die tyd en drafstap weer stoep toe: “Waar draai Dokter vandag dan so lank, ag Vader gee dat hy nie ook iets oorgekom het nie...!” bid sy hardop.

Mollie staar in die lug op,sy ervaar die verkwikking van die ligte, koel briesie wat oor die stoep waai... ver daar bo sien sy twee arende in ‘n wentelvlug oor die plaas, sy wens sy kon vlieg, sy wens Janke kon vlieg, dan sou hulle ook hoog daarbo gesamentlik sou kon sweef, sonder sorge, sonder bekommernisse... net rondomtalie, duik en sweef... net kon saam wees.

Mollie is ver weggevoer in droomverlorenheid, na ‘n wonderland waar net sy en Janke verkeer, waar hulle lag en speel, liefkoos en intiem mekaar se liggame streel en verken... waar hul liefde in ewigheid vasgevang is tussen die mooiste blommeprag, langs die helderste waterstroompies... hul eie liefdesparadys.

Mollie kry meteens ‘n doodse koue rilling teen haar rug af, sy hoor voetstappe oor die houtdek van die stoep agter haar – terwyl haar hande die houtreëling krampagtig vasgryp, besef sy dat net sy en Janke by die opstal is, sy op die stoep en Janke in die bed in hul kamer...

Die voetstappe kom nader, regs verby haar... en Janke stap die stoeptrappe af... Mollie staan asof versteen. Janke sal nooit in sy dag des lewens poedelnaak uit die huis uitstap nie, wat makeer hom?

Uiteindelik kom Mollie tot haar sinne toe Janke reeds by die rand van die skouerhoë sonneblomme trek: “Janke, my skat wat doen jy, jy kan nie so buite loop nie, my man wag vir my, wag vir my...!” Haar laaste woorde gil sy dat Janke haar moet hoor.

Mollie storm die trappe af om Janke te gaan keer en terug te bring huis toe, maar steek net betyds vas. So hittete beland sy voor die aankomende motor van Dokter de Wet...

Bewend vertel Mollie vir die Dokter waar Janke heen is en dat sy hom moet gaan terug haal. Ou Dokter de Wet ken hul huis al baie goed: “Wag Mollie, laat ek net gou my tassie gaan neersit dan gaan ek saam met jou!”... hy storm die huis binne.

Mollie hoor Dokter de Wet agter haar: “Mollie, meisie, luister nou mooi vir my, jy is oormoeg en gespanne, Janke lê in sy bed my kind, ontspan nou asseblief, kom dat ek sommer na jou ook kyk!” Hy lei haar kamer toe - bewend van skok en ongeloof, staar Mollie na Janke se bleek, starende oë waar hy steeds in hul bed lê...

Haar liggaam ruk van ontsteltenis toe Dokter de Wet haar langs Janke op die bed laat lê.

Nadat die goedige ou Dokter vir Mollie ‘n inspuiting teen skok gegee het, vestig hy sy aandag op Janke. ‘n Diep frons lê oor sy voorkop terwyl hy sy instrumente uit sy tassie uithaal. Janke se asemhaling is normaal, sy neurologiese reaksies is goed, maar wat hom egter pla is dat sy bloeddruk apparaat geen polsslag registreer nie. Hy voel die polse en kry geen polsslag nie, hy bekyk sy stetoskoop en gooi hom ergerlik terug in sy tassie: “‘n Mens kan ook nie meer vandag se instrumente vertrou nie, magtig!” Na vele pogings om ‘n hartklop te bepaal, skud hy sy kop en met ‘n klap van die tong gooi hy tou op...

Na ‘n uitgerekte ondersoek bevind Dokter de Wet dat dit nie nodig is om Janke te laat hospitaliseer nie, hy behandel sy wonde en pak ‘n voorraad verbande en medisyne uit op sy bedkassie. Na ‘n inspuiting begin Janke na ‘n paar minute bewegings toon, hy neem Mollie se hand in syne en fluister byna onhoorbaar: “Waar is ek my skat, wat het gebeur, waar is ons...?”

Mollie sit haar vingers oor sy lippe: “Rus nou eers my skat, ons kan later gesels, kyk, hier is Dokter de Wet ook by jou!”

Janke draai sy kop in ou Dokter de Wet se rigting: “Middag Dok, onthou dat ek vir jou ‘n paar van die vars mieliekoppe gee wat ek gepluk het hoor, hulle is nou op hul lekkerste. Mollie, pak ook ‘n paar stukkies van daardie lekker biltong en droëwors in vir Dok?” – ‘n dapper glimlag speel om Janke se mondhoeke...

Mollie en Dokter de Wet kyk vraend na mekaar, nie seker of Janke besig is om te yl en of hy ernstig is nie: “Ek maak so my skat!“

Na ‘n ander half uur, weet Mollie presies hoe om Janke se wonde te behandel en vergesel sy Dokter de Wet na sy motortjie toe: ”Dankie vir die eetgoedjies Mollie, Janke behoort binne drie dae op die been te wees, hy is ‘n sterk man, as jy enige hulp nodig het, skakel my gerus weer, pas jouself ook maar goed op meisiekind, jy het my vanmiddag erg laat skrik jong!” Met ‘n bewerige stemmetjie groet Mollie die goedige ou huisdokter wat al jare lank hul skete en pyne behandel.

Lank na Dokter de Wet se motortjie al buite sig is, draai Mollie om en stap terug na Janke toe in die kamer. Sy gaan lê langs hom op die bed en sak haar kop op sy bors, sagte snikke ruk deur haar moeë liggaam. Janke streel oor haar hare en prewel bemoedigende trooswoordjies in haar oor: “Toemaar my skat, moenie huil nie, ek is terug, dis al wat saak maak nê, môre is ek weer op die been. Ek moet jou vertel van daardie bog boekhouer by die bank, ek het hom amper te lyf gegaan die swernoot!”

Mollie draai haar betraande gesig na Janke, sit haar vingers weereens oor sy lippe, sy trek haar mond tuit: “Sjuuuuuut nou my skat, rus eers ‘n bietjie, daar is nog baie tyd om te gesels, ek dank net die Vader dat jy terug is by my. Ek gaan jou sommer baie gou gesond maak hoor?”

Janke knik sy kop besvestigend en draai sy kop skuins op die kussing. Spoedig vul ligte snorkgeluidjies die kamer. Mollie streel oor sy hare en vryf liggies oor sy bleek gesig, weereens besef sy dat sy nooit sonder hierdie man sal kan lewe nie...





~~~~





Hoofstuk 4



Mollie glip versigtig van die bed af om Janke nie in sy slaap te steur nie. Dit is sterk skemer, sy wil gou seker maak dat al die deure en vensters vir die komende nag toe en gesluit is. Op pad kombuis toe besluit sy dat sy ‘n bietjie later ‘n stomende aroma bad sal geniet...

Die lang gang vanaf hulle kamer na die voorste vertrekke en kombuis toe, lyk vanaand vir haar so oneindig lank, donker en koud: “Genade!” prewel sy hardop: “Ons sal op ‘n stadium beter beligting in hierdie gang moet installeer, sjoe!” Mollie ril onwillekeurig as sy na die spookagtige skaduwees teen die gangmure kyk. Sy skud haar kop en kan net nie die onrustige gevoel van haar afskud nie, die onrus knaag al die hele dag aan haar en stem haar erg verward.

Mollie knip haar oë aanhoudend, so tussen die koue kriewelings deur, verbeel sy haar vas dat sy ‘mistige gedaantes’ in die gang sien beweeg, nee sweef, want sy sien nie bene en ander ledemate nie, nee, net sulke vormlose ‘figure’.

Sy dink weer aan vanoggend toe sy Janke na die lande toe sien loop het, sy skryf dit en dit wat sy nou in die gang sien, toe aan ‘n oormaat spanning wat sy sedert gister beleef. Sy kners op haar tande en stap vinniger om in die kombuis te kom.

Sy skakel die kombuisligte aan... sy verstar in haar spore, haar oë rek soos pierings, haar hart bars byna deur haar borskas, sy voel hoe haar bene onder haar wil meegee, sy boor haar gebalde vuiste in haar mond in... Die agterdeur knop beweeg stadig in die rondte, die deur gaan met fyn piepgeluide sentimeter vir sentimeter oop...

Mollie slaag daarin om op ‘n stoel neer te plons, haar bene wil die gewig van haar liggaam nie meer dra nie... in geskokte afwagting, haar gesig gedreineer van alle bloedsomloop, staar sy na die bewegende deur...

Die deur swaai heeltemal oop, op die boonste trap staan ‘n swart geklede figuur – net die wit van ‘n paar oë is sigbaar teen die pikswart agtergrond van die nag. Mollie uiter ‘n bloedstollende gil, die honde begin blaf en die ganse begin ‘n onaardse lawaai opskop. In haar geskokte toestand, hoor Mollie ‘n tweede gil, komende van die deur se kant af, sy val vooroor op die tafelblad en bedek haar kop met haar arms: “Asseblief, loop net, vat wat jy wil hê maar loop net, los my, moenie my seermaak nie asseblief!”

Die gille by die deur word stil: “Onse Vader my Nonnatjie, hoe laat djy my skrik,ai my Nonna, dis net ek wat gou kom kyk dat nonnatjie en meester Janke nog reg is!“

Mollie lig haar kop stadig op en kyk in die asvaal geskrikte gesig van Bettie vas. “Bettie, Bettie dis werklik jy?” Mollie begin onbedaarlik snik van verligting, gryp Bettie om die lyf vas en begrawe haar gesig in die goedige ou Bettie se vetrolletjies om haar maag. Bettie stryk liefdevol oor Mollie se hare en hou haar moederlik, styf vas tot haar snikke bedaar.


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-18 show above.)