Excerpt for 'n Feëverhaal: 'n Nuwe ou wêreld by Werner van Pletzen, available in its entirety at Smashwords

n Feëverhaal:

n Nuwe ou wêreld


deur

Werner van Pletzen


SMASHWORDS UITGAWE


* * * * *


GEPUBLISEER DEUR:

Werner van Pletzen op Samshwords


‘n Feëverhaal:

‘n Nuwe ou wêreld

Kopiereg © 2011 deur Werner van Pletzen


Smashwords Edition License Notes

This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each person you share it with. If you're reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then you should return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the author's work.


* * * * *


n FEËVERHAAL:

n NUWE OU WÊRELD


1


“Jinne, ek’s bly vandag is verby. Ek dink regtig hulle kan daai goed vir ons bietjie meer interessant maak. Dis net praat en praat en praat. Dis al wat hulle doen. My ore tuit al.”

”Ag Kobias, toe nou dit is nie so erg nie. As dit nie vir die lesse was nie, sou jy niks geweet het nie.”

“Hy weet nog steeds niks nie, Minks…”

”Zant stop dit. Hoe verwag jy moet hy iets leer as jy hom die hele tyd so terg? Dis nie sy skuld hy is ‘n bietjie stadig nie…”

“Julle soek vir moeilikheid. “

“Ag Kobias ons terg jou net. Jy bly ons pel, al is jy …”

“Minks! Ek sal nie daai sin klaar maak as ek jy is nie.”

“Ag wat gaan jy doen Kobias?”

“Is jy seker jy wil weet Zant? Kom hier dan wys ek jou.”

Kobias hardloop in Zant se rigting. Zant probeer wegkom, maar hardloop in Minks vas. Kobias gryp hom om sy lyf en begin druk.

“Nee, Kobias!” gil Zant. “

“Jy wil mos sê ek’s stadig.”

Kobias druk al die lug uit Zant se longe uit. Minks probeer hom stop. Sy spring op Kobias se rug en probeer sy arms los kry, maar te vergeefs. Hulle stoei en strompel rond. Minks besef al hoe sy hom gestop gaan kry, is deur hom op die grond te kry. Soos wat sy op Kobias se rug is, gooi sy haar bene om sy knieë.

“Minks! Ek gaan val.” gil Kobias

Kobias weet dat as hy by die huis gaan aankom met vuil klere gaan sy ma hom vrek maak.

“Oraait, oraait ek sal hom los. Klim net af asseblief.”

Minks los en spring van sy rug af. Stadig los Kobias vir Zant. Zant gaan staan met sy hande op sy knieë.

“Jinne, Kobias. Jy sal my mos laat vrek man.”

“Jammer, maar jy wou mos sê ek is stadig.”

Zant staan regop. Hy stap stadig na Kobias, hy kyk vir die grond terwyl hy dit doen. Hy kom tot voor Kobias en kyk op. Hy glimlag vir Kobias.

“Wat’s dit?” vra Kobias.

Zant begin glimlag… Kobias raak benoud, hy weet as Zant eers so begin glimlag, kom daar moeilikheid.

“Zant… wat kyk jy so vir my?”

Zant glimlag nog breër. Met ʼn linker slaan hy vir Kobias op sy skouer. Met dieselfde spoed as die hou draai Zant net daar in sy spore om en hardloop meer se kant toe.

“Eina! Jou vark! Ek gaan jou terugkry Zant.”

Kobias hardloop agterna. Nog voor Kobias by Zant kan uitkom het, Zant sy hemp uit. Voor Kobias sy oë kon uitvee, is Zant in die water. Kobias trek sy klere uit, maar voor hy inspring hang hy sy hemp mooi oor ʼn boom se tak. Hy hardloop en spring in. Stadig maar seker swem hy in Zant se rigting. Zant verdwyn onder die water. Kobias stop net waar hy is.

“Zant… Zant…”, roep hy.

Hy draai om en om in die water. Hy weet Zant is nou weer besig met iets slinks. Minks staan aan die wal en kyk die hele storie aan. Sy sien hoe Zant onder die water verdwyn. Kobias roep, maar daar is geen antwoord nie. Kobias draai om en om. Sy weet wat Zant wil doen, Sy begin lag. Met die derde keer wat Kobias so omdraai sien sy hoe hy begin spartel. Zant is besig om vir Kobias onder die water in te trek. Kobias kan nie baie goed swem nie en hy haat dit om sy gesig onder die water te sit. Zant weet dit ook. Dis een groot gespartel. Jy sien net hande wat swaai soos wat Kobias probeer bo bly. Onder die water stoei Zant om vir. Kobias onder die water te kry. Hy hou Kobias se bene vas en probeer hom met al sy mag aftrek.

“Gros, maar hy’s sterk” dink Zant.

Hy probeer met al sy mag. Uiteindelik voel hy hoe Kobias moeg raak.

“Een, twee, drie…” tel Zant.

Op drie trek hy weer so hard as wat hy kan. Minks bekyk nog steeds die twee se lawwigheid. Sy het al intussen onder die boom in die koelte gaan sit. Meteens sien sy hoe Kobias verdwyn. So vinnig as wat hy verdwyn het, kom hy weer op. Dis net ʼn geblaas van water en gespartel. Kobias probeer die water uit sy gesig vee. Sy oë is so groot soos pierings. Zant kom van onder die water te verskyn, maar ook ʼn goeie entjie weg van Kobias. Zant weet hy is dood as Kobias hom in die hande kry. Vinnig swem Zant wal se kant toe. Op die wal hardloop hy na waar Minks sit en gaan sit langs haar. Saam sit hulle en kyk hoe Kobias worstel om uit die water te kom. Hulle kan nie help om vir hom te lag nie.

“Kobias! Nou is ons kwits, nê” roep Zant.

By die wal klim Kobias uit. Hy lyk goed kwaad. Soos wat hy nader aan die ander twee stap begin hy maar net te lag. Hy weet Zant het hierdie rondte gewen.

“Ek sal jou die volgende rondte kry Zant. Beskou hierdie as een elk.”

Hy gaan sit saam hulle onder die soetdoringboom. Hulle gaan lê plat op die gras om droog te word. Saam kyk hulle na die grot se dak . Hulle bewonder weer van vooraf die son wat die priesters meer as 300 jaar terug gemaak het.

“O, gonna! Zant, Kobias word wakker! Dis al amper donker. Ons moet by die huis kom.”

Zant en Kobias skrik gelyk wakker.

“Ag nee, nie al weer nie. My pa gaan my nou weer mal maak. Vanaand kry ek nou weer die preek van hoe onverantwoordelik ek as prins is” sê Zant.

Die drie van hulle begin hardloop. Hulle weet hulle moet so gou as moontlik by die huis kom. Kobias weet as hy etenstyd mis gaan sy ma baie kwaad wees vir hom. Sy hou nie daarvan om kos te mors nie. Veral nie as sy so hard daaraan gewerk het nie. So ent voor hulle uit verdeel die pad in twee. Minks en Kobias hardloop na regs en Zant hou links.

“Sterkte, hoop nie jy is in te veel moeilikheid nie!” skreeu Minks agter Zant aan.

Zant waai vir die ander twee.

“Selfde vir julle!” skree Zant.

By die huis hardloop Kobias reguit deur toe. Hy was nog skaars by die deur in toe staan sy ma voor hom met die koekroller in haar hand. Sy tik - tik met die ding in haar ander hand.

“Kobias!” skreeu sy Ma met ʼn hoë skril stemmetjie. “Kobias, jy kan jou sterre dank. Jy’s net betyds. Gaan was jou hande. Kos is op die tafel.” “Jammer Ma, sal nie weer gebeur nie Ma.” skreeu Kobias soos hy hardloop om sy hande te gaan was.

By die huis trek Zant sy klere reg. Hy stap na die groot houtdeure toe.

“Middag Korrie” groet hy die soldaat wat die deur bewaak.

“Middag Zant, weer net betyds hé.” Korrie glimlag vir Zant en maak vir hom die deure oop. Zant stap in. Voor hom is die voorportaal. Dit is ʼn ronde vertrek. Oral om hom hang daar skilde, swaarde en die familiewapen. Dit is ʼn groot voël met lang kloue en ʼn skerp bek. Sy ma het hom al van die goed vertel. Dit word ʼn arend genoem. Die arend het ʼn kroon op sy kop. Weerskante van die arend is daar ʼn feetjie. Die een met ʼn swaard en skild in sy hande, die ander ene met ʼn lang staf wat tot bo sy kop uitsteek. Die embleem hang in die middel van die vertrek van die dak uit. Hy hardloop by die trappe op, wat na die res van die huis gaan. By die bo punt van die trappe is daar ʼn gang, wat weerskante toe gaan, maar direk voor hom is waarheen hy moet gaan. Voor hom is daar groot houtdeure. Van bo tot onder is daar uitkerwings op die deure. Die uitkerwing is ʼn groot boom waaronder drie feetjies staan met towerstawwe omhoog. Hulle towerstawwe is gefokus op die boom waaronder hulle staan. Die deure se handvatsels is groot silwer swaarde wat met hul punte na onder staan. Zant maak die swaar deure oop en stap in ʼn groot saal in. Nes elke vertrek in elke huis is die een ook ʼn ronde vertrek.

Soos wat Zant in die groot saal instap, sien hy sy pa aan die anderkant van die vertrek op die balkon staan. Hy begin na die tafel in die middel van die vertrek stap, gedek vir drie. Zant wens dat sy pa wil ophou om die tafel so te laat dek. Dit is nou al vyftien jaar wat sy ma oorlede is, maar nog steeds word daar vir haar ʼn plek aan die etenstafel gedek. Dit is elke keer vir Zant ʼn herinnering aan die pyn wat hy moes deurgaan met haar dood. Hy het al telkemale vir sy pa gevra om dit nie te doen nie, maar sy pa praat dit net dood met ander dinge. Aan die anderkant van die tafel teen die muur is sy pa se troon. Sy ma se plek is daar ook nog steeds net soos wat dit was voor sy dood is. Soos wat Zant aanstap roep sy pa hom balkon toe. Zant se moed sak sommer in sy skoene.

“Hier kom dit…” dink Zant by homself.

Hy stap stadig na die balkon. Sy pa staan voor teen die rand van die balkon. Hy gaan staan langs sy pa. Sy pa roer nie, kyk nie eers in sy rigting nie.

“Zant...” begin sy pa.

“Pa?” antwoord Zant.

“Wat sien jy as jy so oor die balkon uitkyk?” vra sy pa.

Zant kyk voor hom uit. Hy sien die hele koninkryk voor hom. Ver heel aan die ander kant teen die muur van die grot is die boontjievormige meer wat vanaf die linkerkant deur die rivier gevoed word. Aan die agterkant van die meer is die landerye. Dit is waar die feetjies se kos vandaan kom. Die landerye en die meer is almal se lewenslyn. As daar iets met die landerye moes fout gaan, is dit verby met hulle almal. Waar die landerye ophou begin die huise. Die huise is almal so half in ʼn sirkel vorm gebou. Ry op ry en almal kyk in dieselfde rigting. Hulle kyk na die middel van die koninkryk. In die middel staan die tempel op sy groot grasperke met al die bome waaronder hulle lesse het. Dit is waar al die oudste en slimste feetjies bymekaar kom om die kinders alles te leer wat hulle moet. Zant se kop draai na die regterkant van die koninkryk. Daar sien hy al die werkswinkels. Dit is daar waar jy iets vat wat stukkend is om reg gemaak te word of as jy iets vir jou huis kort soos meubels of selfs klere. Soos hy dit sien, onthou hy die kere wat sy ma hom gevat het om daar te gaan rondloop en met die feetjies van die koninkryk te gesels. Hy onthou ook hoe hy altyd weggeglip het om by die ystersmid se werkswinkel te gaan kyk na al die mooi swaarde en skilde wat hy maak vir die soldate en vir feetjies wat nuwes wil hê. Hy onthou hoe hy altyd gewens het hy kan vir hom ook ʼn swaard laat maak. Na sy Ma se dood kom hy nie meer baie in daai gedeelte van die koninkryk nie. Sy kop draai weer na die linkerkant en in die verte sien hy die soldate se hoofkwartier omring met hoë mure. Daar word al die soldate opgelei om die koninkryk te verdedig sou die dag kom dat hulle bedreig word. Vanuit die soldate se hoofkwartier loop daar ʼn brug oor die rivier. Aan die anderkant van die brug is twee groot hout deure. Daai deure is permanent onder die bewaking van ten minste tien soldate. Die deure is hulle enigste konneksie met die buitewêreld. Niemand mag daai deure oopmaak nie. As hy reg onthou, was daai deure in die laaste driehonderd jaar net twee keer oopgemaak. Die eerste keer was toe al die feetjies van die woud hier in die grot ingetrek het om van die mens af weg te kom. En die tweede keer was toe Kaster die Rooi op bannelingskap gestuur is. Dit is waar Zant eendag wil wees. Hy wil ʼn soldaat wees. ʼn Vegter. ʼn Krygsman nes sy pa en sy oupa voor hom. Voor Zant terugkeer na sy pa se vraag, sien hy die heel linkerkantse kant van die grot waar daar nog nie huise gebou is nie. Dit is ʼn gedeelte waar toekomstige feetjies hulle huise kan bou. Soos wat hy dit sien, keer sy gedagtes terug na sy pa se vraag. Zant haat dit eintlik as sy pa so ernstig raak. Met hierdie gedagte keer hy terug na sy pa se vraag.

“Wat sien jy? Ek weet nie, ek sien die koninkryk. Wat wil hy hê moet ek sien?” dink Zant. Zant besluit om die eenvoudigste antwoord te gee:

“Ek sien die koninkryk en alles in dit.”

Zant se pa bly stil. Sy pa kyk van links na regs oor die hele koninkryk en sê:

“Weet jy, jy’s reg. Dit is wat voor ons is. Die koninkryk en alles in dit.”

Zant is verlig. Hy het gedink sy pa se vraag is nou weer een of ander strikvraag om vir hom te wys hoe kinderlik hy is en dat hy aan die belangriker dinge in die lewe moet begin dink.

Sy pa praat verder:

“Zant, ek is bly dat jy jou kinderjare so ten volle geniet. Jong, toe ek 70 jaar oud was, moes ek alles saam met jou oupa gedoen het. Ek moes leer hoe die dinge van die koninkryk werk. Ek moes leer hoe om die koninkryk te bestuur. Jy kan bly wees ek het dit so gehaat, anders het jy dit ook gedoen. Jy’s nog jonk. Jy moet jou lewe ten volle geniet. Speel, wees vrolik, maar onthou om jou beste te gee as dit kom by jou opleiding. En probeer tog om nie die priesters so baie moeilikheid te gee met vrae oor die buitewêreld nie. Dit is ʼn deel van die wêreld wat ons moet vermy.”

Zant se verbasing raak net al hoe meer en meer. Hy het nooit gedink sy Pa, die groot streng koning, sal vir hom sê om sy kinderjare te geniet deur te speel en so aan nie. Soos wat Zant daar staan en dink, sit sy pa sy arm om Zant se skouer.

“Kom ons gaan eet.”

Hulle draai so om en stap tafel toe. Aan tafel gesels hulle verder.

“Ek hoor by Korrie dat jy regtig besig is om ʼn meester met die swaard te raak. Ek kan onthou toe ek nog jou ouderdom was…”

So hou die geselskap vir die res van hul ete aan. Zant vertel van hoe hy dinge met die swaard regkry en sy pa vertel weer vir Zant hoe hy dinge gedoen het.


Die volgende dag begin met dieselfde roetine waarmee Zant se dag elke dag begin. Ontbyt saam sy pa, kry sy sak vir die dag se lesse, ontmoet vir Kobias en Minks by die kersieboom langs die pad. Van daar stap hulle saam tempel toe. Die begin van nog ʼn dag se luister en oplet.

“Wie wil die hele dag net daar onder die bome sit en luister as jy buite kan rondhardloop en swem in die meer? Tempel is niks lekker nie” dink Zant by homself.

Zant is eerste by die boom en wag vir die ander twee. Soos hulle opdaag stap hulle tempel toe. Minks kan sien daar is iets wat Zant pla. Hy lyk nie soos sy gewone self nie. Sy los dit maar en stap verder aan tempel toe. Op pad tempel toe het Kobias al weer soos elke oggend amper ʼn hele toebroodjie verorber. Hoe hy so baie kan eet, sal net hy weet. Minks wens sy kon net eet soos sy wou en niks gewig optel nie. Kobias is nou nie maer nie, maar hy raak nie veel vetter nie. Wel, dan ook weer dink sy, as Kobias enigsins vetter moet raak, gaan hy al die pad tempel toe kan rol. Sonder dat sy dit weet, begin sy onderlangs te giggel soos wat sy aan die prentjie dink. Zant sien dit en vra haar uit:

“Minks wat giggel jy so? Het jy nou weer een of ander meisie gedagte gekry wat net jy verstaan?”

Zant was skaars klaar gepraat toe gee Minks hom ʼn kyk wat deur hom sny.

“Zant, hoeveel keer het ek al vir jou gesê ek is nie soos die res van daai lawwe goed nie. Ek’s nie een vir frille en valletjies met linte in my hare nie. Hoeveel keer?”

Zant stop dood in sy spore.

“Jammer Minks, ek’t vergeet hoe jy daaroor voel. Ek wou maar net weet wat jy gedink het dat jy so by jouself giggel. Maar, wat het jy gedink?” probeer Zant uitvind.

“Niks nie!” antwoord Minks.

“O nee, ek ken daai niks nie.” Waaraan het jy gedink?” karring Zant.

“Zant ek het gesê dis niks. Los dit nou net!”

Minks probeer haar gesig emosieloos te hou. Sy weet dat sy eintlik geoorreageer het toe Zant haar vra waaroor sy so lag.

“Minks, wat is dit?” karring Zant weer eens.

Minks vererg haar en begin te gil:

“Ek het gedink aan hoe onregverdig dit is dat jy en Kobias kan eet net wat julle wil en julle raak nie vetter nie. Ek aan die ander kant kyk net vir een van Kobias se Ma se toebroodjies en my heupe sit uit. Dis onregverdig. En Kobias, as jy nie ophou om so baie te eet nie gaan jy een van die dae tempel toe rol!”

Heel verlore kyk Kobias haar aan.

“Hei, wat het ek aan jou gedoen? Dis Zant wat aan jou karring nie ek nie. Hoekom dink jy bly ek stil as julle twee eers so begin stry. Dit eindig altyd by my al het ek nie eers iets gedoen of gesê nie. Dankie Minks, nou weet ek jy dink ek’s vet.”

Soos wat Kobias sy laaste woorde sê druk hy die hele helfte van sy toebroodjie wat oor is in sy mond en kou skaars voor hy dit sluk. Maar ongelukkig vir Kobias het hy vergeet dat hy vir sy Ma gesê het om ekstra dik vismotpattee op te sit en begin verstik aan sy toebroodjie. Kobias probeer om die stukke brood in sy mond te hou soos hy verstik, maar te vergeefs. Dis net stukke brood wat by sy mond uitskiet. Zant en Minks kan nie help om te lag nie. Zant sien dat die man regtig besig is om erg te verstik en besluit om Kobias op sy rug te slaan sodat hy alles kan uitkry. Dit werk. Met die vierde hou is alles uit. Kobias hoes nog so twee keer voor hy iets kon sê.

“Ag nee man. Kyk nou wat het julle my laat doen. Nou’s my lieflike vismotbroodjie op die grond. Dankie hoor. Ek het net twee toebroodjies vir die hele dag oor. Hoe verwag julle moet ek dit maak tot aandete met net dit oor? Sies vir julle.”

Zant en Minks kan dit nie help nie. Hulle begin kliphard te lag. Hulle ken niemand wat so erg oor kos is soos Kobias nie. Kobias vererg hom vir hulle en stap aan tempel toe. Minks besef dat hulle dalk te ver gegaan het.

“Kobias! Toe nou man ons kan nie help jy’s so snaaks nie. Dis net ʼn toebroodjie.”

Sy sien dat haar woorde nie gaan help nie en hardloop agter hom aan. By hom spring Minks op Kobias se rug.

“Ag toe nou Kobias, sê jy vergewe my toe. Ek’s regtig jammer. Ag toe nou Vaatjie.” probeer sy hom oorreed.

“Minks jy weet ek haat dit as jy my Vaatjie noem. Stop dit en klim van my rug af. Ek gaan jou nie al die pad tempel toe dra nie.”

Minks besluit dat daar net een ding oorbly vir haar om te doen.

“Kobias…” se Minks met ʼn fyn uitgerekte stemmetjie.

“Kobias…”

Kobias toon geen reaksie nie, hy stap net aan.

“Goed jy wil nie my verskoning aanvaar nie, nou moet jy betaal.”

Minks klou met haar arms om Kobias se groot nek en begin hom met haar knieë in sy ribbes te kielie.

“Minks nee! Stop dit. Hahahaha. Minks! Nee… stop dit. Oraait oraait, ek vergewe jou. Stop dit net.” probeer Kobias haar kry om te stop.

“Ek sal stop net as jy belowe om my die hele pad verder te abba?”

Kobias kan nie meer die gekielie vat nie. Hy gee op.

“Oraait, ek sal jou abba. Stop dit nou net… Asseblief!”

Minks stop dadelik en gee vir Kobias ʼn stywe druk om sy nek.

“Dankie, Vaatjie” terg sy vir oulaas.

“Minks ek gaan jou afgooi”

Kobias maak of hy haar wil afgooi en Minks gee hom weer ʼn druk om die nek. Kobias bedaar weer en hak sy arms onder haar knieë in en abba haar al die pad tempel toe. Zant het net die hele storie van die kant af bekyk en gelag vir hulle lawwigheid.


* * * * *


2


By die tempel maak hulle reg vir die dag se eerste les, ‘Elemente van towerkuns’. In hierdie les leer hulle alles wat hulle moet weet oor hoe om towerkragte te gebruik en te bemeester. Soos wat feetjies ouer word, word hulle vermoëns om towerkuns te doen al hoe sterker en sterker. Dit beteken dat dit wat hulle leer, elke jaar al hoe beter raak omdat hulle ouer raak. Hulle towerkuns is nie soos die van die mens waar hulle allerhande rympies opsê om te toor nie. Hulle gebruik hulle gedagtes en die mate hoe hulle een met die natuur is, bepaal ook hoe sterk hulle towerkrag is. Feetjies se towerkragte bestaan uit vier elemente; water, grond, wind en vuur. Hulle leer hoe om hierdie vier elemente te manipuleer en te beheer. Vandag se les fokus op die oproep van towerkragte. Hulle leer hoe om hulle kragte van binne op te roep en na vore te bring.

“Konsentrasie is baie belangrik. Maak julle gedagtes skoon van enige ander gedagtes en fokus al jou breinkrag op die taak wat voor jou lê. As jy suksesvol is, sal daar ʼn blou lig om hou hande begin gloei.” verduidelik die priester.

Kort voor lank kry die hele klas dit reg. Die priester is baie in sy skik met die klas se vordering en laat hulle dit oor en oor doen. Aan die einde van die les verdaag almal en loop na die volgende les onder ʼn ander boom.

Die tweede les van die dag is ‘Plantkunde’. Omdat feetjies van die natuur gebruik maak om te oorleef, is dit baie belangrik dat hulle leer oor alle plante in die buitewêreld. Dit is belangrik dat hulle weet waartoe elke plant in staat is en hoe hulle dit kan benut. Sekere plante is giftig en moet eerder vermy word waar moontlik. Die een ding van plante waaroor Kobias die mees opgewonde raak, is watter plante hy kan eet. Kobias is omtrent die hele dag honger. Wat seker te verstaan is, aangesien hy so groot is. Kobias staan al klaar op die ouderdom van 70 omtrent ʼn koplengte bo die res van die feetjies. Nie net is hy baie lank nie, maar hy is fisies groot ook. Bietjie vet ook. Dit is om hierdie rede dat Kobias die beste leerling in die klas is. Hulle leer ook oor die geneesbaarheid van plante. Hulle moet weet watter plant word gebruik vir watter siekte of kwaal.

Die derde en laaste les vir die dag is feetjie - geskiedenis. Die priester wat hierdie les aanbied, is seker een van die oudste en grysste feetjies wat Zant al ooit gesien het. Zant het met die bynaam gekom van Ou Grysbaard. Hierdie priester is stokoud en praat ongelooflik stadig. Geskiedenis is nie Zant en Kobias se gunsteling les nie. Minks maak gewoonlik of sy nie van die lesse hou nie, maar Zant weet sy is eintlik mal daaroor. Vandag se les fokus weer op hoekom die feetjies nie meer in die buitewêreld is nie. Hulle het die storie al meer as genoeg gehoor, maar Grysbaard sê net elke keer dit is baie belangrik dat hulle weet waar hulle vandaan kom sodat hulle weet waarheen hulle op pad is in hulle lewens. Onder die kersieboom sit Grysbaard op dieselfde klip waar hy altyd sit. Die klas sit voor hom op die gras. Hulle mag nie lê nie, want dan gaan hulle aan die slaap raak. Hulle moet regop sit sodat hulle al hulle aandag kan gee.

“Nou kom ons begin vandag se les. Kom ons kyk of julle alles wat ons die afgelope paar jaar geleer het kan onthou. Kom ons maak so, elkeen van julle gaan ʼn beurt kry om ʼn gedeelte van die storie voor die klas te vertel. As ek jou naam sê staan jy op en jy begin van die begin af vertel. As ek sê stop, dan stop jy. Dan sal ek die volgende een se naam noem wat verder met die storie moet gaan. Verstaan julle? Goed so. Kom ons begin. Mmm… Wie gaan begin? Kom ons kyk… Aha, Elias. Elias, begin ons storie met die invloed van die mens op feetjies se lewens.”

In die middel van die klas staan Elias op. Elias is seker een van die snaaksste feetjies wat Zant nog ooit gesien het. Kort met boomstompe vir bene en arms, geen nek, bakore en hare wat altyd deurmekaar is. Elias is dalk nou nie die aantreklikste feetjie ooit nie, maar niemand waag om dit vir hom sê nie. Zant kan nog goed onthou toe twee van die ouer kinders dit vir Elias probeer uitlig het. Dit was nie lank voor hulle albei op hulle agterstewe gesit het nie. Elias het hulle so vinnig met ʼn linker en regter bygekom dat hulle nie eers geweet het hulle word geslaan nie. Van daai dag af het niemand ooit weer vir Elias geterg oor hoe hy lyk nie. Elias begin deur sy keel skoon te maak en sy klere reg te trek. Die klas kan sien dat Elias probeer Grysbaard se siel uit te trek deur so statig as moontlik voor te kom. Almal giggel onderlangs, maar Grysbaard kom niks agter nie.

“Elias!” brul Grysbaard se stem. “Ek wag.” Elias los sy grappe en begin vertel:

“Voor ons met die mens in kontak gekom het, het ons feetjies in rus en vrede gebly. Ons het in harmonie met die natuur en die diere gewoon. Saam met die diere was ons ʼn gemeenskap wat die natuur gebruik het om te oorleef. Ons het die diere gehelp en hulle het ons weer gehelp. Die jare het gekom en gegaan. Tot daar op ʼn dag…”

Elias met die karakter wat hy is steek sy vinger in die lug. Hy probeer baie ernstig lyk. Hy geniet die hele storie vertelling.

“Tot daar op ʼn dag ʼn mens te diep in die woud in gewandel het. Ons boere was besig om bessies te pluk toe die mens op hulle afkom. Julle sien die mens was nie veronderstel om so diep in die woud in te kan wandel nie. Feetjies het ander wesens gehad wat hulle gehelp het om die woud teen die mens te beskerm. Die elwe, daai ouens met lang gepunte ore soos ons s’n waarvan ons geleer het by ou Grys…”

Elias besef wat hy amper wou sê en verander vinnig sy sin.

” Waarvan ons by Priester geleer het. Hulle besit ook towerkragte, maar net honderd keer sterker en beter as ons s’n. Hulle het die woud getoor om die mens elke keer terug te lei na die rand van die woud sou een van hulle te diep in die woud in wandel. Op een of ander manier het hierdie mens dit reg gekry om verby dit te kom. Was hy ʼn towenaar? Ons dink so. Om ons storie aan die gang te kry, kort voor lank was hy terug. Al verskil was hy was nie alleen nie. Daar was nog mense saam met hom gewees. Aan die begin het almal gedink hulle is agter ons aan. Gelukkig vir ons was die mens agter die elwe aan. Die towenaar was agter die elwe se towerkragte aan. Hy wou sy kragte en hulle kragte kombineer. Om ʼn lang storie kort te maak, dit was nie lank nie en die mens en die elwe was in ʼn bakleiery betrokke. Dit het met die loop van tyd so erg geraak dat die elfs nie meer die geweld en aanvalle kon vat nie.”

Elias wou nog verder vertel, maar Grysbaard het hom gestop. Die klas kon sien hy geniet dit om sy weergawe van die storie te vertel en wou nie eintlik stop nie.

“Wie is volgende? Kom ons maak dit… Silena.” gee Grysbaard die opdrag.

Grysbaard wys sy vinger na die ʼn meisie met wie Zant – hulle nie oor die weg kom nie. Silena is lank en slank gebou, net korter as Zant. Haar hare is pikswart en hang laag op haar rug. Sy is ʼn baie mooi feetjie, maar sy weet dit. Haar persoonlikheid maak dat sy eintlik lelik is. Silena en Minks het al ʼn paar keer lekker vasgesit. Seker maar omdat Minks nie saam die res van die meisies uithang nie. Soos wat Silena opstaan, gooi sy haar hare sodat dit lyk of dit in die wind waai en begin verder vertel aan die storie:

“Soos Elias gesê het, die elwe het begin moeg raak vir die aanvalle en geweld. Dit was hier wat ons moeilikheid begin het. Die elwe het besluit dat die mens is besig om hulle lewens moeilik te maak en vir hulle om as ʼn nasie te oorleef moes hulle hier wegkom. Elwe was vredeliewende wesens. Hulle het nie van geweld gehou nie en het geglo dat alle wesens op aarde heilig is en beskerm moet word. Maar hoe beskerm jy iets wat jou lewe bedreig? Die is die vraag waarmee die elwe geworstel het. Nou hoe het dit die feetjies beïnvloed? Wel, die elwe was verantwoordelik daarvoor om die woud te beskerm teen die mens en sy bedreigings. As die elwe nie meer daar was nie sou dit nie lank wees voor die mens ons feetjies ontdek nie. Die elwe het ons gevra om saam met hulle te gaan omdat ons ook met tyd in gevaar sou wees. Die feetjies wou niks weet nie. Hulle het net gesê: “Hierdie is ons tuiste.” Die elwe het wel hulle goed gepak en verdwyn. Niemand weet waarheen nie.” Dit was nie lank nie en die mens was weer terug. Die rede hiervoor was omdat die towerkrag wat die mense uit die woud gehou het, nie meer daar was nie. Nadat die elwe weg was, het dinge baie verander. Ons kon nie meer net die woud ingaan soos ons wou nie. Daar was net sekere tye van die dag wat ons buite ons huise mag gewees het. En dan ook net onder bewaking van soldate. Dit was baie slegte tye gewees. Toe kom daai dag. Die dag wat alles finaal verander het. Ons het dit nie geweet nie, maar die towenaar wat die elwe weggedryf het, het ons dopgehou. Op ʼn dag het daar ʼn klomp feetjies onder die bewaking van soldate uitgegaan om kos vir die koninkryk te versamel. Hulle was lank weg gewees. Langer as wat hulle veronderstel was. Almal was baie bekommerd.”

“Dankie Silena vir daai wonderlike vertelling.” Sê Grysbaard soos wat hy opstaan.

Met ʼn gesig wat sê “Kan jy beter doen?” gaan sit Silena.

“Weer tyd vir iemand anders. Enige vrywilligers?”

Grysbaard kyk vir die klas, maar sonder verbasing sien hy niks gretige hande wat opskiet nie.

“Goed dan, lyk my ek moet maar weer iemand aanwys. Kobias, my jong vriend. Kom, vertel jy vir ons wat verder gebeur het.”

Zant kan sien hoe sak Kobias se moed in sy skoene. Kobias haat dit om voor ander te praat, maar Kobias weet hy het nie veel van ʼn keuse nie. Hy sug en staan stadig op. Hy staan op soos iemand wat vir die laaste keer in sy lewe gaan opstaan, hy staan so stadig as moontlik op met die hoop om die tyd bietjie vinniger verby te kry. Wanneer hy uit eindelik orent kom, is daar niks wat uitkom nie. Kobias krap sy kop soos wat hy probeer dink wat hy moet vertel. Hy het die storie al soveel keer oor en oor gehoor, maar sodra hy voor mense moet praat, slaan hy toe. Hy krap nog so paar keer sy kop, kyk grond toe, tik sy voet op die grond en lyk verlore.

“Kobias? Dink jy ons gaan vandag nog hoor wat verder gebeur het?

Grysbaard kyk vir Kobias met ʼn irritasie op sy gesig.

“Sit net! Minks help jou vriend.”

Minks kyk na Kobias en kry hom jammer. Sy gee Grysbaard ʼn vuil kyk wat hy gelukkig nie sien nie en vertel die storie verder:

“Dankie Silena vir daai wonderlike vertelling.” begin sy sarkasties. “Almal was baie bekommerd gewees. Halfpad die nag in het daar twee van die groep, wat uitgegaan het, terug gekom. Hulle was in ʼn toestand en die een kon skaars loop. Sy vlerke was gebreek en hy was vol snye. Die ander feetjie moes hom regop hou om te keer dat hy nie inmekaar sak nie. Nadat dinge bietjie bedaar het, is die twee ondervra oor wat gebeur het. Hulle het vertel van hoe hulle besig was om kos te versamel toe daar eweskielik ʼn net oor hulle almal gegooi word. Hulle het vertel van hoe dit mense was wat hulle probeer vang het. Hulle het verduidelik hoe die mense op hulle afgestorm het en net begin gryp het na hulle. Dit was nie lank nie toe is almal gevang. Die twee van hulle het net - net ontsnap. Die een met die gebreekte vlerke het verduidelik hoe die een mens hom gegryp het en toe steek hy sy swaard diep in die mens se hand in. Die mens het gegil van die pyn en hom teen ʼn boom gegooi. Die een sonder beserings het vertel van hoe hy nie onder die net beland het nie en dat die ander een voor hom onder die plante by die boom beland het. Hulle kon nie die ander help nie. Dis toe wat hulle besluit het om daar weg te kom. Hulle het besluit dat dit belangriker is om die res van die koninkryk te vertel en te waarsku teen die gevaar wat ons feetjies in die oë staar. Daar was groot histerie en almal het gevrees vir hulle lewens. Daar moes iets gedoen word. Hulle kon nie net hier bly met die hoop dat die mens hulle nooit sal vind nie. Hulle moes daar wegkom.”

Voor Minks verder kon vertel, het Grysbaard haar gestop.

“Dankie Minks, jy kan maar sit. Ek dink dit is genoeg vir vandag. Ons tyd is ook verby. Ons sal volgende keer verder gaan met die storie. Lekker dag vir julle. Julle kan maar gaan.”

Grysbaard het skaars gesê dat hulle kan gaan, toe is die helfte van die klas al op hulle voete.

Kort na die dag se lesse groet Zant vir Minks en Kobias. Hy het swaardlesse saam met Korrie en Estian. Hulle is twee van die beste soldate en behoort binnekort bevorder te word tot die koning se persoonlike wagte. Net die beste soldaat word gekies om die koning se persoonlike wag te wees. Dis om hierdie rede dat Zant deur hulle opgelei word. Dit is een van Zant se gunsteling lesse.


* * * * *


3


Vir Zant is dit baie belangrik om die swaard te bemeester. Die adrenalien en die uitdaging om iemand uit te oorlê en te oorwin met ʼn swaard, maak hom baie opgewonde. By die huis kry hy vinnig iets om te eet en maak reg vir sy les. Voor die les kan begin, moet Zant eers sy kleredrag verander. Hy maak sy kamerdeur oop en stap in. In die middel van die vertrek teen die muur staan sy bed. Bo sy bed hang daar ʼn groot skild met twee swaarde wat mekaar kruis agter die skild. Weerskante van die skild en swaarde hang daar skilderye van sy ma en pa. Zant kyk weer na die een van sy ma en kry ʼn knop in sy keel. Sy ma was een van die mooiste feetjies wat hy nog gesien het. Sy het lang donkerbruin krullerige hare gehad met donkerbruin oë. Zant skeur homself weg van die skildery en gaan na sy kas waar hy sy uitrusting vir die les uithaal. Uit die kas haal hy ʼn hemp wat van yster en silwer gemaak is. Dit bestaan uit honderde klein silwer ringetjies wat aanmekaar gekoppel is. Hy trek dit aan en bo - oor dit trek hy ʼn pantserpak aan, wat bestaan uit ‘n borsplaat en ‘n plaat op sy rug. Om sy voorarms te beskerm, trek hy dik leerbande aan wat by sy gewrig begin en sy hele voorarm toe maak. Dit is belangrik dat hy met sy hele uitrusting oefen. Sodoende raak hy gewoond aan die gewig daarvan en dit maak hom gewoond aan hoe dit voel om met alles aan te beweeg.

Nadat Zant sy uitrusting aangetrek het, beweeg hy na die binneplein aan die kant van die paleis. Soos wat hy by die deur uitstap, sien hy die ovaalvormige area voor hom. Dit word omring deur hoë vierkantige houtpilare. Elke pilaar is oortrek met uitkerwings van die vorige konings. Wanneer ʼn feetjie koning sterf, word sy lewensverhaal op so pilaar uitgekerf. Zant stap na die middel van die area en kyk weer na van die uitkerwings op die pilare. Die pilaar beeld ʼn storie uit van ʼn koning wat vier generasies terug gaan. Sy lewe word uitgebeeld as een vol sonskyn en geluk. Die uitkerwing begin in die middel van die pilaar. Daar staan die koning, in sy een hand is ʼn towerstaf wat op die grond rus. Sy ander hand in sy heup en sy hare waai in die wind. Hy word omring deur plante wat al om die pilaar rank. Reg bo die koning is die son se strale wat op die koning skyn. ʼn Paar pilare verder aan kom Zant by ʼn ander koning se pilaar. Sy pa het hom al van die koning vertel, maar Zant kan nie sy naam onthou nie. Al wat hy kan onthou is dat hierdie koning seker die beste vegter was wat daar nog ooit in hulle geskiedenis was. Sy pilaar beeld ʼn prentjie uit waar hy met net sy swaard in die aanvalposisie staan en voor hom staan ʼn iets waarvan Zant nog net in stories gehoor het, want daar word nie eintlik oor dit gepraat nie. Voor die koning staan ʼn bergfeetjie. Eeue terug het daar ʼn skeur in die koninkryk gekom as gevolg van die koning se broer wat suur was omdat hy nie koning kon wees nie. Die broer het begin om die koning se naam sleg te maak. Hy het ander feetjies bymekaar gemaak wat dieselfde as hy voel en in opstand teen die koning gekom. Volgens die wette van feetjies is dit teen die wet om in opstand te kom teen die koning. Die straf daarvoor is bannelingskap. Dit is waar jy die koninkryk verbied word en op jou eie die wêreld moet ingaan en self oorleef. Die koning se broer het teen die tyd wat hy weggestuur sou word, so baie volgelinge gehad dat hulle geweier het om te bly as hy weggestuur word. Op die ou end het die koning hulle die keuse gegee om saam met sy broer te gaan of hulle kon bly en daar sal niks teen hulle gehou word nie. Ongelukkig vir die koning het omtrent almal van hulle besluit om te gaan. Hierdie feetjies het die woud verlaat, in die berge gaan bly en hul eie koninkryk begin. Vir ʼn lang ruk het die koning niks weer van hierdie feetjies gehoor nie, tot daar op ʼn dag iemand opgedaag het met ʼn boodskap. Die boodskap was dat hulle met hulle nuwe koning oorlog verklaar teen die koninkryk van die woud. Die koning het nie kans gesien om die feetjies van sy koninkryk se lewens in gevaar te stel nie. Hy het besluit dat hy en sy broer die rusie self sal uitsorteer. Die oorwinnaar sou die nuwe koning van al die feetjies wees en alleen heers. Die koning se broer het die voorwaardes aanvaar. Die twee het ontmoet en die geveg begin. Die koning van die woud het op die ou end geseëvier en hy het koning gebly, maar hy het nie sy broer dood gemaak tydens die geveg nie, want een feetjie mag nie ʼn ander een dood maak nie. Maak nie saak wat nie. Na die geveg het hy die feetjies van die berg die kans gegee om terug te keer na die woud, maar hulle het geweier. Hulle het hulle nuwe koninkryk gestig en ter ere van hulle koning gaan hulle bly waar hulle is. Hierdie pilaar is al waar daar enige iets van die bergfeetjies vertel word. Dit word as een van die groot skandes van hul erfenis beskou. Die koning is daarvoor vereer dat hy sy eie lewe op die spel sit eerder as dié van sy koninkryk.

Terwyl Zant nog die pilare aanskou, het Korrie en Estian daar opgedaag. Elkeen in dieselfde manier as Zant geklee met ʼn swaard en skild. Estian het twee houtswaarde in sy hande. Hulle oefen met houtswaarde om te verhoed dat een van hulle seer kry.

“Middag Zant, is jy reg vir nog ʼn sessie se sweet en harde werk?” vra Estian.

Zant se opgewondenheid verdwyn meteens.

“Ag nee, is dit al weer sulke tyd? Jy weet ek haat dit.”

Korrie begin lag en sê:

“Jy is die een wat wil hê ons moet jou soos enige ander soldaat hanteer. As ek reg onthou, het jy gesê jy wil op presies dieselfde manier as ons opgelei word. Jy wil mos kan doen wat ons doen.”

Estian sit sy hand op Zant se skouer.

“Zant moenie kommer nie ons gaan jou nie dood maak nie, jy sal hierdie keer darem kan loop na alles.”

Estian se gesig begin trek, hy kry ʼn skelm glimlag op sy gesig. Hy slaan Zant op sy rug en sê:

“Vandag gaan ons bietjie aan daai dun armpies en bene van jou werk. Bietjie kragwerk doen. As jy volle beheer oor ʼn swaard en skild wil hê is dit belangrik dat jy krag in jou arms en bene het. So kom ons begin.” Saam stap hulle na die groot oop stuk grond wat agter die ovaal ring is.

Hulle kom tot stilstand in die middel van die oop stuk grond.

“Oraait Zant. Kom ons begin met ʼn bietjie fiksheid. Korrie gaan staan jy so entjie oorkant ons. Ek sal sê as jy kan stop.” verduidelik Estian.

Zant en Estian bly staan waar hulle is, terwyl Korrie begin stap. Korrie was omtrent so twintig tree van hulle af voor Estian vir hom sê om te stop. Estian begin aan Zant verduidelik wat hy van hom verwag:

“Zant dit is belangrik dat jy fiks is wanneer jy ʼn soldaat is. Dit word van jou verwag om fiks te bly. Dit is hoekom jy elke dag die soldate sal sien saam hardloop deur die koninkryk. As jy nie fiks is nie, kan jy nie tot die beste van jou vermoë presteer nie. Ek hoop nie jy het te veel versleg na ons laaste fiksheidsessie nie. Jy weet hoe dit werk. Ons begin met ʼn lekker drafpassie, so sestig persent van jou volle spoed. Ons doen so vier van hulle. As jy klaar is daarmee, gaan ons oor na so tagtig persent en na dit volspoed. Het jy dit?”

Zant lyk nie baie opgewonde nie.

“Hoeveel van die volspoed moet ek doen?”

“Jy moet maar wag en kyk. Kom laat ons begin.”

Zant gaan staan langs Estian en wag dat Estian die teken gee. Estian klap sy hande en weg is Zant. Hy draf na die plek waar Korrie staan. By Korrie gaan staan hy weer en wag vir Korrie om hierdie keer die teken te gee. Die teken kom en Zant draf na waar Estian staan. So hou hy aan vir nog ʼn keer en kom tot stilstand langs Estian.

“Jy’s bietjie lui, Zant. Moenie jouself spaar vir die sprints nie. Jy moet van die begin af hard werk. Volgende soek ek tagtig persent van al jou spoed.”

Zant gaan staan weer langs Estian en begin met die volgende sessie. By die tweede keer wat Zant dit doen, voel hy hoe sy bors begin brand. Sy asem raak minder. Na die vyfde keer wat hy dit doen, stop Estian hom.

“Zant, ek gee jou ʼn kort rus kans dan gaan ons aan. Met die volgendes soek ek dat jy niks terughou nie. Gee alles wat jy het. Doen dit ordentelik en ons doen min daarvan. Doen dit half en ons begin van vooraf.”

Zant gaan staan langs Estian met sy hande op sy knieë. Sy asem jaag en hy sweet. Hy haat dit om fiksheid te doen veral as hy sy hele uitrusting aan het. Hy staan regop met sy hande bo sy kop om sy lugweg oop te maak. Hy haal diep en stadig asem. Hy het skaars sy asem terug voor Estian weer begin.

“Hier gaan ons. Kom, gee als, nê.”

Zant gaan staan maar weer langs Estian en wag vir die teken. Die teken kom. Zant spring weg. Hy gee alles wat hy het. By Korrie doen hy dieselfde. Na die tweede sprint voel Zant hoe die brand in sy bors erger raak. Sy mond is droog en sy keel brand. So hou dit aan vir nog ses keer. Met die laaste sprint stop hy by Estian. Sy knieë is lam. Hy voel hoe sy uitrusting hom grond toe trek.

“Kan ek nie maar hierdie goed uittrek nie? Asseblief.”

Estian kyk stip na Zant.

“Onder geen omstandighede nie. Jy moet leer om met die goed te beweeg en hardloop. Jou liggaam moet daaraan gewoond raak. So sal jy vinnig sterker raak. Ek gee jou weer ʼn ruskans dan gaan ons aan,” verduidelik Estian.

Zant gebuik maar sy kans om te rus. Hy kan sien Estian dink nie dit is snaaks as hy so lui raak nie. Estian roep vir Korrie om nader te kom en staan waar Zant rus. Estian en Korrie gesels oor wat Zant volgende moet doen.

“Reg, kom Zant. Volgende gaan ons bietjie kragwerk doen. Volgende aan die beurt is opdrukke, maagoefeninge en beenoefeninge. Jy gaan vier stelle van vyftien elk doen.” verduidelik Estian.

Zant gaan staan met sy hande op die grond, arms reguit, voete op die grond en bene reguit in die lug. Hy begin met die opdrukke. Af en op, af en op gaan sy lyf. Na sy eerste vyftien gaan lê hy op sy rug vir sy maagoefeninge. Korrie hou sy voete vas. Zant se knieë is gebuig terwyl hy met sy kop op die grond lê met sy arms agter sy kop ingehak. Hy begin. Hy kom op met sy kop tot teen sy knieë en dan weer af. Vyftien later gaan staan hy. Hy hou die minste van die been oefeninge. Hy begin in die staanposisie. Van daar moet hy op sy hurke gaan sit, hande op die grond dan skiet hy sy bene agter hom uit, bring dit terug en spring so regop met sy hande bo sy kop uitgestrek. Weer eens vyftien later en dit is terug na die opdrukke. So herhaal hy die hele roetine vier keer. Sy arms is lam, sy bene bakkel en sy asem jaag nog steeds. Hy voel hoe die sweet teen sy voorkop na sy wang loop en vee met sy arm die sweet van sy voorkop af.

“Ek dink dit is genoeg vir vandag. Korrie wat dink jy?”

Estian kyk na Korrie met ʼn glimlag op sy gesig.

“Jong, ek weet nie. Hy lyk nog nie regtig moeg vir my nie. Miskien kan hy nog so bietjie hardloop.” antwoord Korrie

Korrie begin te lag. Zant hoor wat Korrie sê en kyk na hulle.

“Ag nee kom nou ouens. Ek dink regtig dit was genoeg vir een dag. Moet ek regtig nog doen? kla Zant.

Estian glimlag weer vir Korrie en sê

“Goed, ons kan dit rustig vat vandag, maar volgende keer is dit net fiksheid. Niks swaardwerk nie.”

Zant is baie verlig. Dit voel al klaar of sy bene onder hom wil meegee. Hulle stap terug na die ovaal ring en Estian gaan kry die ekstra swaard en skild wat hy vir Zant gebring het. Zant vat dit, maar laat val die skild amper op die grond. Sy arms is lam van al die oefening. Estian en Korrie begin dadelik vir hom te lag.

“Presies wat ek wou hê moes gebeur. Jou arms en bene is nou moeg. Jou uithouvermoë gaan nou getoets word.” verduidelik Estian.

Korrie vat sy swaard en skild en gaan staan voor Zant. Korrie vra vir Zant of hy reg is om te begin. Zant skud sy arms langs sy lyf en tel weer die swaard en skild op. Hierdie keer kry hy dit makliker opgehou. Hy maak sy oë toe en haal diep asem.

“Ek’s reg.”

Hy en Korrie gaan staan albei in die vegposisie. Estian gee die teken en hulle begin. Hulle begin mekaar versigtig benader deur in ʼn sirkel rondom mekaar te beweeg. Korrie val eerste aan met sy swaard wat skuins oor sy skouer af kom. Zant keer met sy skild. Korrie trek sy swaard terug vir nog ʼn hou. Zant skiet vinnig vorentoe met sy swaard reguit voor hom uit. Korrie is te vinnig vir hom en keer Zant se aanval met sy eie swaard. Korrie druk sy skild teen Zant s’n vas. Die een probeer die ander een terug druk. Zant druk met al sy krag, maar sy bene is te lam om aan te hou. Zant besluit om als in te sit en beweeg vinnig met al sy mag na vorentoe. Zant dink nog hy druk teen Korrie se skild toe Korrie padgee en Zant vorentoe struikel. Zant skiet verby Korrie en voel hoe Korrie met sy swaard vir Zant ʼn hou op die boud gee. Estian lag kliphard. Zant dink nie dit is snaaks nie. Vererg staan hy reg om weer te begin. Hulle hou aan om te veg vir nog ʼn uur voor Estian besluit dit is genoeg. Na die middag se oefening gaan Zant na sy kamer. Moeg en uitgeput val hy op sy bed neer en raak aan die slaap.


* * * * *


4


Die volgende paar dae gaan baie stadig verby. Elke dag dieselfde. Hulle begin met lesse by die tempel, gaan swem miskien en as hulle nie swem, nie het Zant weer oefening saam met Estian en Korrie. Stadig maar seker kom Minks agter dat Zant nie homself is nie. Hy is stil en lyk amper verveeld. Minks besluit maar om dit te los, sy weet sy moenie te veel aan Zant karring as hy so is nie.

Die volgende dag by die tempel begin hulle met vegkuns as les. Elkeen van hulle kry ʼn houtswaard waarmee hulle moet oefen. Die instrukteur deel hulle in groepe van twee. Minks en Zant eindig saam op en Kobias eindig weer saam met Elias. Dit lyk altyd so komieklik as Kobias en Elias teen mekaar veg. Kobias is hierdie groot blok van ʼn feetjie, die swaard lyk amper soos ʼn gewone mes in sy kolossale hande. Elias is nou weer kort maar stewig. Hy hardloop altyd sirkels om Kobias as hulle so veg. Vegkuns is Zant se gunsteling les. Hy is een van die beste in die hele tempel. Hy het al voorheen teen van die ouer feetjies geveg en selfs ʼn paar keer gewen. Minks is self nie te sleg nie. Sy kan dinge vir Zant lekker moeilik maak die dag as sy wil, maar hierdie dag is anders. Minks wen elke keer. Zant probeer nie eers nie. Dit irriteer vir Minks. Sy kan sien iets pla hom, maar as sy nou weer gaan vra wat aangaan, gaan hy haar net ignoreer. Sy los dit maar en besluit as hy nie gaan probeer nie, gaan sy hom dan nou maar ore aansit. Amper elke hou wat sy gee, tref hom teen die lyf of op sy arms. Dit is te maklik. Na die agtste keer wat sy hom tref, vererg sy haar.

“Zant wat gaan aan met jou? Jy probeer nie eers my houe keer nie. Wat pla jou?” probeer Minks uiteindelik uitvind.

Zant ignoreer haar net. Hy waai sy hand voor sy gesig verby om vir haar te wys dat sy dit moet los. Minks het geweet dit gaan gebeur. Hy sê nooit as iets hom pla nie. Net toe hulle weer wil begin, is die les verby. Minks vererg haar vir Zant en stap na Kobias.

“Kobias weet jy wat met Zant aangaan? Hy is nie homself nie. Hy’t nie eers probeer om my houe te keer nie. Kyk hoe lyk hy.”

Zant stap na sy sak wat eenkant teen die muur lê. Hy kyk vir die grond soos wat hy loop. Kobias skud net sy skouers vir Minks.

“Ek weet nie wat hom pla nie, jong. Ek los hom as hy so raak. Hy sal oor dit kom, wat ook al dit is.”

Minks lyk nie oortuig nie en stap saam met Kobias na hulle volgende les. So gaan dit vir die res van die dag en na die dag se lesse is Zant net weg.

“Hy het nie eers gegroet nie. Wat gaan aan met hom? Ek ken hom nie so nie Kobias” vertel Minks vir Kobias.

Kobias trek net sy skouers op en stap verder saam met Minks huis toe.

Die volgende dag is dit weer dieselfde met Zant. Hy sê niks. Hy loop maar net saam van les tot les. Na die lesse is hy weer net weg.

“Darem het hy vandag gegroet.” sê Minks.

Die volgende twee dae is dit nog steeds dieselfde. Zant wil niks weet van praat of iets nie. Hy hou homself besig met sy eie gedagtes. Met die vierde dag wat Zant so stil is, besluit Minks sy het genoeg gehad. Na die dag se lesse gryp sy vir Zant aan sy arm en sleep hom eenkant toe. Sy roep vir Kobias om saam te kom. Hulle gaan staan onder ʼn lae boom langs die tempel. Minks begin dadelik met Zant te praat:

“Zant, ek wil nou weet wat aangaan met jou. As daar iets is wat jou pla moet jy sê. Dit help nie jy kry stilstuipe nie. Jy weet jy kan met ons praat as daar iets fout is. Ek verstaan nie hoekom jy ons so uitsluit nie. Dis onnodig. Eintlik is dit net ongeskik. Jy karring altyd aan my as daar iets fout is en dan moet ek maar net sê wat my pla. Vandag is dit jou beurt! Wat gaan aan?”

Zant kyk nie eers vir Minks as sy praat nie. Hy staar net die verte in. Minks sien dit en vererg haar nou eers vir Zant.

“Zant, wat is jou storie? Jy is besig om dinge net erger te maak deur net stil te bly. Is dit iets wat ek of Kobias gedoen het? Wat is dit?”

Kobias se oë raak al hoe groter soos wat Minks aangaan. Hy weet hier kom moeilikheid. As Minks eers so begin gil, is dit verby. As Zant nie nou gaan begin praat nie, gaan Minks dit heeltemal verloor. Kobias staan nader aan die ander twee. Hy wil net naby genoeg wees vir as dinge te erg raak en tussen die twee moet spring. Zant bly net daar staan. Staar die verte in. Voor hom hou Minks aan om te probeer uitvind wat aangaan. Sy probeer als, maar Zant wil niks weet nie. Die volgende oomblik vererg Minks haar nog meer. Dit is waarvoor Kobias bang was. Minks vererg haar so vir Zant dat sy hom met die vuis op die bors slaan. Kobias was te stadig om haar weg te ruk. Minks het skaars geslaan toe verander Zant se gemoed. Hy kyk Minks stip in haar oë. Sy oë knip nie eers nie.

“Dis reg Zant, kyk vir my as ek met jou praat. Dan kan ek darem sien jy luister as ek praat. Wat gaan aan met jou? Wat is dit?” probeer Minks weer.

Maar die keer gil sy op Zant. Zant kyk haar nog steeds reguit in haar oë.

“Minks, los my net uit. Ek wil nie daaroor praat nie. Laat ek myself net uitsorteer. Jy kan niks doen om dit beter te maak nie. So, los dit net.”

Minks vererg haar. Sy gryp haar sak en loop.

“Kobias kyk jy of jy iets by hom kan uitvind. Ek gee op. Ek het probeer. Sien julle môre.” gil sy en loop huis toe.

Kobias staan onder die boom saam Zant.

“Zant wat pla?” vra Kobias met ʼn sagte stem.

Zant kyk nie eers vir Kobias nie. Hy tel sy sak op en loop. Kobias is uit die veld geslaan. Hy weet nie wat om te doen nie. Hy sug en gaan sit op die gras. Kruis sy bene, maak sy sak oop en haal ʼn toebroodjie uit. Kos laat hom altyd beter voel.

Die volgende dag staan Kobias by die kersieboom waar die drie van hulle elke dag ontmoet. Gewoonlik is hy die laaste een om op te daag, maar vandag is hy eerste. Hy vind dit baie vreemd. Hy besluit om nog ʼn rukkie te wag, maar niemand daag op nie. Kobias raak baie bekommerd. Hy besluit maar om tempel toe te stap. Gewoonlik is hulle net betyds vir die dag se eerste les, maar nou moes hy wag vir die ander twee, wat nie eers opgedaag het nie. Kobias weet sommer hy gaan laat wees. Hy weet nie eers wat hulle eerste les is nie. Die ander twee is gewoonlik die twee wat weet, hy volg hulle net altyd. By die tempel weet Kobias glad nie waarheen hy moet gaan nie. Hy staan voor die tempel. Oral om hom is daar bome met groepe kinders wat onder die bome sit. Hy kyk verbouereerd rond en begin van die een boom na die volgende boom hardloop. Hy hardloop na Grysbaard se boom, daar is kleintjies.


Continue reading this ebook at Smashwords.
Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-25 show above.)